Sunday Times Books LIVE Community Sign up

Login to Sunday Times Books LIVE

Forgotten password?

Forgotten your password?

Enter your username or email address and we'll send you reset instructions

Sunday Times Books LIVE

LAPA Uitgewers

@ Sunday Times Books LIVE

Archive for the ‘Youth’ Category

Sterkykers deur Jaco Jacobs: Vars, verrassende, vuishou-op-die-maag-gedigte vir tieners

SterkykersSterkykers, ’n heerlike bundel verse vir tieners saamgestel deur Jaco Jacobs, is nou beskikbaar op LAPA se rakke:

Skryf ’n liefdesbrief.
Bemeester die kuns van hande vashou.
Vuisstamp die lewe voluit.
Lag soos die mense in advertensies.
Raak onsigbaar.
Twiet vir iemand ’n vers.

Hierdie bundel vars, verrassende, vuishou-op-die-maag-gedigte vir tieners bou voort op die suksesvolle Toulopers. Bekende digters en skrywers soos Koos Kombuis, Ronelda S Kamfer, Nathan Trantraal, Annie Klopper, Fanie Viljoen, Izak de Vries en Jacobs span kragte saam met opwindende nuwelinge soos Deon Meiring (hoofsanger van die groep Glaskas), Solette Swanepoel, Donnay Torr en Danie du Toit (sanger en liedjieskrywer van die groep Spoegwolf) in ’n opwindende digbundel wat spesiaal saamgestel is om hedendaagse jongmense se leefwêreld te weerspieël.

Oor die samesteller

Jaco Jacobs is op Carnarvon in die Karoo gebore. Sy eerste boek, Troetelgedrog, het in 2001 by LAPA verskyn, en sedertdien het meer as honderd boeke vir kleuters, kinders en tieners uit sy pen verskyn. Sy boeke is onder meer bekroon met die Alba Bouwerprys, die C.P. Hoogenhoutmedalje en 19 ATKV-Kinderboektoekennings. Talle van sy boeke word met groot sukses by skole voorgeskryf, en in 2014 is ’n rolprentweergawe van sy gewilde tienerboek Suurlemoen! landwyd vrygestel. Hy woon in Bloemfontein saam met sy vrou, Elize, sy dogtertjies, Mia en Emma, twee honde, Pippie en Binki, en ’n baie stoute kantoorkat genaamd Lego wat sy bes probeer om Jaco uit die werk te hou. Besoek gerus sy webtuiste.

Boekbesonderhede


» read article

LAPA-skrywers by die US Woordfees 2016

 
LAPA het vanjaar weer ’n baie vol program by die US Woordfees. Dit sal lekker wees om julle daar raak te loop!

nullSKRYWERSPROGRAM: Sjef Snoekie laat die potte sing

Marlise Scheepers se treffer “Beige Ford Cortina” is al diep in die 90 000 keer op YouTube gekyk. Sy deel haar resepte en staaltjies met Mariëtta Kruger en sing later wanneer die kuiery lekker raak. Klik hier vir meer inligting oor haar boek.

4 Maart 18:00 | De Vette Mossel | 180min | R220 | R240 by die deur | Bespreek h​ier
 
 

* * * * *

Karla KrullebolWOW: Graad 3: Karla Krullebol – Theresa van Baalen

7 Maart 9:30 | JS Gericke Ouditorium | 90 min | Gratis
 
 
 
 
 
 

* * * * *

OfferlamMonstersaadSKRYWERSPROGRAM: Die speling tussen spanning- en ontspanningsfiksie

Gaan die spanningsverhaal nog oor die herstel van orde? Madri Victor hoor by Wilna Adriaanse (Eindspel), Chanette Paul (Labirint, Offerlam) en Madelein Rust (Monstersaad) of spanningsfiksie ʼn “feel good” einde moet hê. En wat dink hulle van die nuwe “noir”-neiging by vroueskrywers?
 
 
7 Maart 14:00 | HB Thom Foyer | 60min | R50 | R60 by die deur | Bespreek hier
 
 

* * * * *

Marga SKRYWERSPROGRAM: My kind, my memoire

Hoe skryf ’n ma oor die trauma wat haar kind beleef? Is dit ’n manier om sin te gee aan jou kind se lewe en jou struweling? Taalpraktisyn en oud-redakteur Mandi Botha stel dié vrae, en meer, aan Marga van Rooy (My kind is ʼn skisofreen), Juliana Coetzer (Bloedvreemd) en Douwleen Bredenhann (’n Hemelhoë hekkie).

7 Maart 15:30 | HB Thom Foyer | 60min | R50 | R60 by die deur | Bespreek hier
 
 

* * * * *

Bravo, LuluWOW: Graad 4-5: Bravo, Lulu – Fanie Viljoen

8 Maart 09:30 | JS Gericke Ouditorium | 90 min | Gratis
 
 
 
 
 
 

* * * * *

nullSKRYWERSPROGRAM: Kosdemo: Kook saam Kaaps

Kulsum Kamalie en Flori Schrikker het op RSG bekend geword as die twee anties wat wéét hoe om te skep. Hulle kook Kaaps: gesinskos, huiskos. By hierdie demo kan jy jou verkneukel aan die lekkerste spyse, opgetower uit speserygevulde potte.

8 Maart 14:00 | Die Khaya | 60min | R50 | R60 by die deur | Bespreek hier

 
 

* * * * *

Sanri Steyn 4: Die spookmeisie van RaaiselfonteinWOW: Graad 6-7: Sanri Steyn – Theresa van Baalen

9 Maart 09:30 | JS Gericke Ouditoriuml | 90 min | Gratis
 
 
 
 
 
 

* * * * *

Opdrag van oorkantVandat jy weg isnullSKRYWERSPROGRAM: Beneuk en verlief

Sophia Kapp (Oorlewingsgids vir ʼn bedonnerde diva), Alta Cloete (Opdrag van oorkant) en Santie van der Merwe (Vandat jy weg is) gesels met Elmari Rautenbach oor sterk vrouekarakters wat bedonnerd, beneuk en verlief is.

9 Maart 10:30 | HB Thom Foyer | 60min | R50 | R60 by die deur | Bespreek hier
 
 

* * * * *

Immer wesSKRYWERSPROGRAM: Irma Joubert: Immer wes

Irma Joubert gesels met Helene de Kock (Debora en seuns) oor haar nuutste roman, Immer wes, en hoe die skrywer van historiese romans as brugbouer tussen generasies en kultuurgroepe optree. Twee formidabele skrywers aan die woord!

9 Maart 15:30 | HB Thom Foyer | 60min | R50 | R60 by die deur | Bespreek hier

 
 

* * * * *

Cass Abrahams: 'n Lewe met kosSKRYWERSPROGRAM: Cass Abrahams: ’n Lewe met kos

Marike Bekker gesels met Cass Abrahams oor haar lewe, haar liefde vir kos en die paaie waarop dit haar laat loop het. ‘n Watertand-gesprek met een van die land se grootste kulinêre geeste.

9 Maart 17:00 | HB Thom Foyer | 60min | R50 | R60 by die deur | Bespreek hier
 
 

* * * * *

’n Hart vol sandWOW: Graad 8-10: ’n Hart vol sand – Anzil Kulsen

10 Maart 09:30 | JS Gericke Ouditorium | 90 min | Gratis

 
 
 
 
 
 

* * * * *

Die Suid-Afrikaanse vis- en seekoskookboekSKRYWERSPROGRAM: Kosdemo: Suid-Afrikaanse vis- en seekoskookboek

Susina Jooste, die direkteur van The Private Hotel School in Stellenbosch, en Henk Stander, ‘n baie ywerige visserman en die algemene bestuurder van Maties se akwakultuureenheid, demonstreer maklike en smaaklike maniere om seekos voor te berei. Jy gaan nêrens anders vir so min so lekker eet nie! Gou spring!

11 Maart 09:00 | Die Khaya | 60min | R50 | R60 by die deur | Bespreek hier

 
 

* * * * *

Bloed op haar handeKodenaam IcarusSkuldigVlees en bloedSKRYWERSPROGRAM: Misdaadskrywers: feit of fiksie?

Hoe hanteer skrywers navorsing rondom misdaad? Is die grense wat jy nie mag oorsteek nie dieselfde vir skrywers van nie-fiksie en fiksie? Krimi-skrywers Martin Steyn en Henk Breytenbach gesels met joernaliste Riette Rust en Carla van der Spuy oor feit vs. fiksie wanneer dit my misdaad-skryf kom.

12 Maart 15:30 | ATKV-Boektent | 60min | R50 | R60 by die deur | Bespreek hier
 
 

* * * * *

Book details


» read article

Waarom hou kinders so baie daarvan om reeksboeke te lees? Jaco Jacobs verduidelik

Professor Fungus en die jelliemonsters van MarsStalmaats 6: Komaan, KarenZackie Mostert en die meisie-molesBastian Blom en die magtige moerasmonster

 
“In die verlede is daar dikwels neergesien op reeksboeke. Dit is beskou as nie ‘literêr’ genoeg nie en daar is selfs beweer dit maak van kinders lui lesers. Deesdae besef baie ouers, onderwysers en bibliotekaresses gelukkig dat ’n lekker boekereeks dikwels die perfekte manier is om ’n huiwerige leser se leeslus te prikkel.”

Só skryf veelbekroonde en gesoute reeksboekskrywer Jaco Jacobs in sy jongste bloginskrywing. Hy verduidelik waarom reeksboeke so gewild is by kinders:

1. Die karakters voel soos ou vriende.
2. Jy kan voorspel of jy van die storie gaan hou.
3. Herhaling is pret.
4. Reeksboeke het versamelwaarde.
5. Dit laat jou naels kou.

Lees Jacobs se artikel vir ‘n omskrywing van hierdie punte:

1. Die karakters voel soos ou vriende.

Eintlik is dit geen verrassing nie. Waarom kyk jy graag na jou gunsteling-TV-reeks? Heel moontlik omdat jy daarvan hou om te sien wat die karakters, met wie jy nou al goed vertroud is, in elke episode aanvang. Wanneer ’n leser byvoorbeeld ’n nuwe Zackie Mostert-boek optel, weet hy reeds wie hy tussen die blaaie gaan teëkom – die ondeunde Zackie en sy beste pel, Vincent, die klaerige mevrou Langenhoven van langsaan met haar nare kat, en Anton die skoolboelie wat sy bes probeer om Zackie se lewe te versuur.

Boekbesonderhede


» read article

Hoe klink LAPA-skrywers se skryfklankbane? Vind uit!

OfferlamEwebeeldProoiPleisters vir die dooiesStiletto's van staalSelna Visser: My hel in Dubai
’n Goeie dag vir boomklimPlasentaLemMiddernagklubDie tuiskomsOpdrag van oorkant

 
Bekende boekjoernalis Ilse Salzwedel het onlangs ‘n interessante insetsel op haar RSG-radioprogram Skrywers en Boeke gehad waar sy vir van die land se grootste skrywers gevra het wat hulle gunstelingmusiek is om mee te skryf.

Sy het ook by ‘n hele paar LAPA-skrywers aangeklop.

Luister na die twee potgooie om uit te vind hoe onder meer Fanie Viljoen, Bernette Bergenthuin, Chanette Paul, Sophia Kapp, Alta Cloete, Jaco Jacobs, Peet Venter en Christien Neser se klankbane klink:

 

Boekbesonderhede


» read article

Carina Diedericks gesels oor die Thomas@-reeks en die eienskappe van goeie jeugfiksie

Bekendstelling van die Thomas@-reeks op kykNET
Thomas@aksie.netThomas@geraamte.netThomas@sms.netThomas@moord.netThomas@skerpioen.net
Thomas@aqua.netThomas@nagmerrie.netThomas@vrees.netThomas@rock-ster.net

 

Carina Diedericks is die skepper van die immergewilde Thomas@-reeks wat handel oor die manewales van Thomas en sy maats: Alex, Lilian, Hannes, Thabo en Lukas.

Die Thomas@-avonture is in 2013 in ‘n televisiereeks omskep en Thomas@rock-ster.net, die agste boek in die reeks, is in 2011 met ʼn silwer Pendoring Reklametoekenning bekroon.

Books LIVE het met die skrywer gesels oor, onder meer, die prikkels wat aanleiding gegee het tot die reeks, haar skryfproses, die eienskappe van moderne jeugfiksie en die moets en moenies wat jeugboekskrywers liefs in gedagte moet hou.

Lees die onderhoud:

 

* * * * * * * *

 
Waar het jy aan die idee vir die Thomas@-reeks gekom?

LAPA het in 2000 my genader om ’n jeugboek te skryf na aanleiding van kortverhale van my wat gepubliseer is. Ek het gedink dit is ’n maklike opdrag, maar toe ek wou begin, het ek besef ek het nie ’n idee hoe tieners se lewens lyk en werklikheidsverstaan werk nie. Ek het dit toe eers gelos en begin lees. Amper ’n jaar lank. Ek het besef dat reeksboeke geweldig sterk is en dat daar enorm baie ruimte binne die Afrikaanse jeugmark is vir ’n nuwe wending. Ironies genoeg was die bedoeling nie om Thomas ’n reeks te maak nie, maar nadat ek thomas@moord.net geskryf het, was ek nog nie klaar met die karakters nie. Wat die karakters betref is hulle ’n vermenging van my twee ouer broers.

Hoekom is die reekstitel Thomas@ en nie net Thomas nie (soos Trompie, Saartjie ens)?

Ek wou dit kontemporêr maak en tegnologie is so ’n groot deel van my – eintlik almal – se lewens dat dit vir my belangrik was om dit te laat deurskemer. Tegnologie figureer sterk in die reeks. Dis ’n uitdaging, want ek moet dit so skryf dat dit modern bly sonder om te veel detail (soos handelsmerke en weergawes) te gee wat die boek prematuur kan laat verouder.

Wat is die belangrikste eienskappe van moderne jeugfiksie?

Die skrywer se eerlikheid, integriteit en respek vir die leser. Die dae is verby wat skrywers dink hulle gaan “gou” ’n jeugboek skryf en veral waar skrywers hul in ’n posisie bo jongmense plaas en af kyk en af skryf en neersien op hulle. Skrywers soos Barrie Hough en Marita van der Vyver het met hulle jeugboeke daardie weg gebaan vir ons wat op hulle hakke gevolg het.

Watter jeugboeke het jy op skool gelees?

Ek het álles gelees waarop ek my hande kon lê. Gelukkig was boeke en lees groot in ons familie en ons het die drumpel van biblioteke van Johannesburg tot Kaapstad deurgetrap. In daardie dae was daar ook die Daan Retief Boekklub. Elke maand het jy ’n “Japsnoet-boekie” oor ’n interessante onderwerp gekry, ’n aktiwiteitsboek en ’n storieboek. My gunstelinge was beslis die reekse: Maasdorp, Trompie, Saartjie, Jasper, Uile, Groenweide, Bienkie, Mienkie, Meintjie, ens. En dan Engelse reekse soos Famous Five, Secret Seven, Nancy Drew, Hardy Boys, Choose your own adventure … Ek kan baie lank aanhou met my lys van gunstelinge! Later op hoërskool het ek André P. Brink ontdek en ook Etienne van Heerden, Marita van der Vyver, Dalene Matthee, Ingrid Jonker en so aan.

Wat is die grootste verskille tussen destydse jeugboeke en dié van vandag?

Aanvanklik was daar ’n eenvoud en ’n amper onskuldige, lieflike benadering. Ontsnappingsletterkunde. Kyk na Alba Bouwer, Sita (SS de Kock) en MER (Maria Elizabeth Rothmann). Ook die reekse wat al so ver terug as die 1930′s (Maasdorp en Keurboslaan) en die 1950s (Saartjie en Trompie) verskyn het. In die 1970′s en 80′s het daar egter ’n ommeswaai gekom wat die Afrikaanse jeugboek enorme skade berokken het. ’n Handvol akademici het besluit dat boeke “goed” moet wees vir ’n kind. Of die kind van die storie gaan hou al dan nie, was irrelevant. Alle reeksboeke is as ongeskik vir lees verklaar en selfs van biblioteekrakke verwyder. Die boeke was vaal, deprimerend en het ten minste twee geslagte vervreem van Afrikaanse letterkunde. Die akademici het op prys- en voorskryfkommitees gesit en natuurlik het die uitgewers gefokus op wat hulle wou hê. Ek was in ’n Engelse skool en na aanleiding van ’n gruwelike depro voorgeskrywe boek het een van my vriendinne gevra: “M’am, are all Afrikaans people poor and depressed?” I rest my case.

Vertel ons van jou skryfproses – hoe besluit jy op ’n tema en hoe ontwikkel jy jou karakters?

Stories vlieg letterlik om ons rond. Jy moet net weet waar om te kyk. Dit kan ’n brokkie van ’n gesprek wees wat jy afluister. Of iets wat jy sien. Of onthou. Of alles vloei saam en vorm iets nuut. Dieselfde geld vir temas. Dis moeilik om dit mis te kyk. Karakters is sameflansings van mense wat ek ken of gesien of beleef het. Jy speel matchmaker en sien gou dat ’n sekere tema nou ’n sterker storie gaan maak en dat hierdie of daardie karakter pas by die storie. Ek doen nie vreeslike beplanning voor die tyd nie. Ek het ’n basiese idee waaroor die storie moet gaan, die kernkarakters en net daardie eerste sin. Dan spring ek weg. ’n Ent in die boek in sal ek halt roep en navorsing doen of die res van die boek uitlê.

Wat is die moets en moenies wat jeugboekskrywers in gedagte moet hou?

Maklik. Daar is net twee moets: 1. Lees 2. Respekteer jou leser.

Thomas is nie ’n tipiese held nie, hy maak foute en is dikwels die een wat gered moet word. Hoekom het jy hom so geskryf?

Ek dink hierdie James Bonderige hoofkarakters in “realistiese” jeugboeke werk nie. Niemand kan goed wees in alles en ongedeërd uit alle situasies stap nie. Ek wou ’n tipe anti-held skep waarmee lesers kan identifiseer.

Thomas en Alex se verhouding is ’n interessante storielyn. Hoe skryf jy oor romanse in ’n jeugreeks? (En hoekom het Lukas en Lilian nooit bymekaar uit gekom nie?)

Wel, die reeks is nog ver van klaar, so wie bymekaarkom en wie nie, is ’n ope vraag!

Hoe was dit om aan die televisiereeks te werk?

Fantasties. Ek was deel van die skryfspan en dit was heeltemal iets anders gewees om vir TV te skryf as wat jy ’n boek skryf. Skielik het jy die visuele waarmee jy kan speel, maar aan die ander kant moet jy goed soos uitvoerbaarheid van storielyne en tonele, asook kostes in gedagte hou. As jy skryf, is daar geen begroting wat jou kreatiwiteit aan bande lê nie. So het ek byvoorbeeld gedink ’n toneel waarin Thomas aan ’n rotslyn op Tafelberg hang, sal verskiklik cool wees. Maar toe blyk dit dit is nogal duur om helikopters te huur, kameramanne by helikopters te laat uithang, permitte om op die berg te skiet te kry en waaghalse te gebruik vir ’n toneel van hoogstens 10 minute! Who knew?

Boekbesonderhede


» read article

Ideale Kersgeskenk vir die boekwurm in jou lewe: ’n Goeie dag vir boomklim deur Jaco Jacobs

’n Goeie dag vir boomklimIs jy op soek na ‘n ideale Kersgeskenk vir die boekwurm in jou lewe?

Izak de Vries glo ’n Goeie dag vir boomklim deur Jaco Jacobs is net die ding! In sy LitNet-blog skryf hy:

“Dit is ‘n jeugboek en is nie geskryf om ‘n sogenaamde “cross-over” te wees nie. Jaco Jacobs verstaan tieners se koppe en hy skryf vir hulle. Dit punt is egter dat hierdie boek soveel temas aanraak, dat grootmense dit sal geniet. Glo my, ek sal ‘n lesing oor hierdie boek se subtekste kan gee … (en as julle my ken, sal julle weet hier volg een …)”

Lees De Vries se tweetalige artikel om te sien waarom hy hierdie boek so sterk aanbeveel:

Die storie

Marnus het twee boeties. Hy is die middelkind. Arme Marnus.

Sy jonger boetie is ‘n entrepreneur wat ontsettend baie geld maak.

Sy ouer boetie is ‘n hartebreker. Die jonger boetie verkoop byvoorbeeld soenlesse… Jong boet kry die geld, ouer boet kry die meisies wat afsprake maak om gesoen te word. Man, is dit nie briljant nie?

Die probleem is, arme Marnus was die skottelgoed terwyl die geld inrol en die meisies hulle lesse kry. Al wanneer Marnus die meisies sien, is wanneer hy die deur moet gaan oopmaak vir ‘n blosende tamatie wat wag om na die leermeester geneem te word…

En toe druk Leila die knoppie. Sy stel nie belang in soenlesse nie en vra vir Marnus om ‘n petisie te teken wat moet keer dat die Boom in die Middel van die Heelal afgekap word.

Lees ook:

 

Boekbesonderhede


» read article

“Dit moet energie hê” – Jaco Jacobs deel vyf eienskappe van ’n goeie jeugboek

“Die Karoo waar ek grootgeword het, is ’n skatkis van stories.”

Só het die geliefde jeugboekskrywer Jaco Jacobs vroeër vanjaar aan Vrouekeur vertel oor waar sy liefde vir stories vandaan kom.

’n Goeie dag vir boomklimHoezit 4: Die wonderwêreld van goggasMoenie die knoppie druk nieOp die punt van my tong: 80 lawwe tongknopersProfessor Fungus en die jelliemonsters van Mars

 
Vrouekeur het tien vrae aan Jacobs gestel oor sy gunsteling skrywer, die boeke wat ‘n indruk op hom as kind gemaak het, die mooiste frase wat hy al ooit gelees het en sy gunsteling storiekarakter.

Jacobs deel ook sy skryfleuse, vyf elemente wat ’n kinder- of tienerboek moet bevat en besin oor die rol wat boeke in jongmense se lewens speel.

Lees die artikel:

6. Wat is jou skryfleuse?

Ek het nie regtig ’n skryfleuse nie, maar as jy my nou sou dwing om een te formuleer, sal dit waarskynlik iets wees soos: Moenie jouself te ernstig opneem nie. Ek is nie mal oor die idee van skrywers as celebrities nie. Skrywers moet stories vertel. Stories is celebrities – dis stories wat die kollig moet steel en die asem wegslaan en die skares vermaak. ’n Skrywer behoort soos Brad Pitt se pa te wees – bloot vaagweg van belang en iewers op die agtergrond.

7. Wat is die vyf elemente wat ’n kinder- of tienerboek moet bevat om suksesvol te wees?

• Dit moet eerlik wees. Kinders weet dadelik as jy probeer “oulik” wees of afpraat na hulle.

• Dit moet in voeling met die teikengroep se leefwêreld wees.

• Daar moet ’n sterk storie wees. Ek glo kinders, nes die meeste volwassenes, lees agter ’n boeiende storie aan.

• Dit moet goed geskryf wees. Ek hou van die aanhaling van Maxim Gorky wat lui: “Jy moet vir kinders skryf op dieselfde manier as wat jy vir grootmense skryf, net beter.”

• Dit moet energie hê – daardie soort knetterende kreatiwiteit wat myns insiens een van die kenmerke van die genre is.

Jacobs se heerlike boek vol tongknopers vir kinders, Op die punt van my tong: 80 lawwe tongknopers, het vanjaar by LAPA verskyn. Loer na ‘n uittreksel:

 
Lees ook:

 

Boekbesonderhede


» read article

“Hoe lank gaan ons hulle nog entertain?” – Eldridge Jason oor #FeesMustFall-studente

Gerook“Vir baie van die studente wat hul akademiese jaar met lof agter die rug wil kry, is die dinge wat homself by die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) afspeel, ‘n hashtag-nagmerrie.”

Só skryf Eldridge Jason in ‘n artikel vir LitNet waarin hy besin oor die langdurende protes op Suid-Afrikaanse universiteitskampusse, met spesifieke verwysing na die UWK. Die bekroonde outeur van Gerook, wat al vir etlike jare as joernalis werk, sê hy verstaan dat dinge vir die studente uiters moeilik is en erken dat hy aanvanklik simpatie gehad het met die #FeesMustFall-beweging, maar hy vra nou:

“Hoe lank gaan ons hulle nog entertain?”

Lees Jason se artikel om sy grief te verstaan:

Hulle bemors eksamenlokale, jaag studente uit koshuise en begin geboue afbrand.

Hulle begin teister diegene wat opvoeding as die sleutel uit hul armoedige omstandighede sien.

Hulle bedek hul gesigte, rand sekuriteitswagte aan en saai vrees onder diegene wat net ‘n gelerentheid agter hul naam wil kry.

Húlle is die educational terrorists. Sonder ‘n education.

En hierdie hashtag hulle, het nie meer my simpatie nie.

Lees ‘n onderhoud met Jason waarin hy meer vertel oor Gerook:

Waarom het jy besluit om Gerook te skryf?

Gerook was ‘n gedagte wat lank in my kop rondgedwaal het. Ek was self jare lank in die dwelmlyne en nie skaam om dit te sê. Die trots lê natuurlik in die wete dat ek nou al vyf jaar lank skoon is. Maar ná ek na soberheid teruggekeer het, het ek gedink, ek sit met al die wonderlike én horrific dinge wat ek deurgemaak en aanskou het. En só baie jongmense val in die dwelmstrik en weet nie hoe om daar uit te kom nie. So ek wou ‘n anderse verhaal skryf, iets wat ver van ‘n preek af is en waar ek veral deur middel van storytelling jong mense kan wys hoe dinge verkeerd kan loop as jy met die dwelmduiwel swaarde kruis.

Wie is die ideale leser vir Gerook?

Die boek is gemik op tieners vanaf die ouderdom van 13 jaar. Maar ek sou dit ook aanbeveel vir veral ouers sodat hulle ‘n blik kan hê op die weë van die dwelmwêreld en waarmee kinders wat met drugs eksperimenteer hul eintlik besig hou. So sonder om op hul kinders te spioeneer, kan hulle Gerook lees!

Boekbesonderhede


» read article

’n Goeie dag vir boomklim: Lees ’n uittreksel uit Jaco Jacobs se nuwe jeugroman

’n Goeie dag vir boomklimJaco Jacobs se aangrypende grootwordverhaal ’n Goeie dag vir boomklim het pas by LAPA verskyn.

Hierdie lekkerlees-jeugroman vertel die verhaal van ‘n middelkind wat moeg is daarvoor om in sy twee broers se skaduwee te leef. Sy ouer broer breek swemrekords en meisies se harte. Sy kleinboetie is op nege reeds ’n uitgeslape entrepreneur met briljante geldmaakplanne. En Marnus-die-middelmannetjie voel partykeer asof hy onsigbaar is.

Op ‘n dag verander alles egter wanneer ‘n meisie genaamd Leila een oggend aan Marnus-hulle se deur kom klop en vra hy moet ‘n petisie teken. So begin ‘n onverwagse avontuur wat moontlik alles vir Marnus kan verander …

Dié heerlike verhaal, wat gepas is vir jonk en oud, is ook ingesluit op Exclusive Books se jaarlikse Kersfeeslys – ‘n aanduiding dat een van die topboeke van die jaar is. Onthou: ‘n mens word nooit te oud vir boomklim nie!

Vir ‘n voorsmakie, hier is vier aanhalings en ‘n vet uittreksel uit ’n Goeie dag vir boomklim:
 

 

“’n Boom?”
   Ek kyk verbaas na Leila.
   Sy knik. “’n Witkaree. Wetenskaplike naam Rhus pendulina.”
   “Aangename kennis, boom,” sê ek.
   Die boom staan stil en effens treurig in die vroegoggendhitte.
   Ek vryf oor die skurwe stam. “Is dit ’n bedreigde spesie of iets?”
   “Nie regtig nie,” sê Leila sonder om na my te kyk. Sy kyk boontoe asof sy wil seker maak elke blaar is nog op sy plek. “Baie mense plant witkarees in hulle tuin. Hulle het nie baie water nodig nie en groei vinnig.” Sy klink ’n bietjie soos iemand wat ’n TV-program aanbied.
   Ek frons. “So, hoekom het jy ’n petisie opgestel om die boom te red?”
   Leila kyk lank na my, asof sy probeer besluit wat sy van my dink.
   Ek wonder wat sy sien. Ek het nie blonde hare, blou oë en bultende spiere soos my oudste broer nie. Ek het nie ’n wipneus vol sproete en ’n opvreet-oulike gesiggie soos my kleinboetie 14 nie. Nie dat ek dink my kleinboetie se gesig is opvreet-oulik nie, maar ou tannies is geneig om so te dink – net voordat Adrian hulle met die een of ander skelmstreek oorreed om vir hom geld te gee.
   My hare is bruin en effens te lank en vol kroontjies wat dit gedurig in alle rigtings laat staan. My oë is groen. As ek by my broers is, is ek altyd die laaste een wat enige iemand raaksien. Marnus-die-middelmannetjie. Soms voel dit asof ek onsigbaar is.
   Stadig blaas Leila haar asem uit terwyl sy my steeds stip dophou. “Dit is nie sommer enige boom nie,” sê sy. “Dit is die Boom in die Middel van die Heelal.” ’n Mens kan die hoofletters in haar stem hoor.
   Voor ek dit kan keer, proes ek van die lag. Hierdie meisiekind is nie lekker in haar kop nie. Wat het my besiel om al die pad tot hier by die parkie te stap, drie straatblokke ver, sodat sy my ’n boom kan wys?
   “Die Boom in die Middel van die Heelal?” vra ek.
   “Vergeet dit.” Haar oë flits. “Ek het gedink … Toemaar, los dit net.”
   Sy klink meteens woedend, en ek verwag dat sy gaan omdraai en wegstap. Uit die manier waarop sy my aangluur, is dit duidelik dat sy verwag ék moet die pad vat. Ek laat my nie twee keer nooi nie. Met ’n skoueroptrek draai ek om en begin terug huis toe loop. Ek het nie lus vir mallerige meisiekinders se geselskap nie. Buitendien, ek het skottelgoed om te was.
   Daar is nog net drie en twintig dae van hierdie aaklige Desembervakansie oor. Jip, ek het getel. Hoe vinniger ek vandag se skottelgoedbeurt agter die rug kry, hoe beter. Dan bly daar nog net twee en twintig wasbakke vol vuil skottelgoed oor.
   “Toe ek klein was, het ek altyd in hierdie parkie kom speel,” sê Leila. Haar stem is so sag dat ek byna-byna nie kan hoor wat sy sê nie. Ek gaan staan. “Ek het in hierdie boom geleer boomklim.” Ek draai om, maar dit lyk of sy nie eens weet dat ek na haar staan en kyk nie. Dit lyk asof sy met die boom praat. “Nie alle bome is goeie boomklimbome nie. ’n Witkaree se stam is skurf en jy kan maklik jou velle verloor as jy gly. Dis nie regtig ideaal vir boomklim nie, maar hierdie een se takke is lekker laag en dik. Hulle groei naby aan mekaar sodat jy tot amper heel bo kan klouter. Perfek vir boomklim.” Sy streel oor die boom se stam.
   Ons kyk albei om toe ’n wit bakkie oor die gras aangery kom.
   “Dis hulle,” sê Leila met ’n donker stem.
   Ek weet nie wie “hulle” is nie. Dalk die ouens met die wit jasse wat haar kom haal om haar te gaan toesluit in ’n plek vir mense wat met bome praat?
   Ek voel dadelik skuldig oor die gedagte.
   Die bakkie hou stil en twee mans klim uit. Een van hulle het ’n knipbord met papiere wat hom baie belangrik laat lyk. Sy hemp span oor sy maag sodat dit lyk of sy knope enige oomblik gaan afspring, en sy voorkop blink van die sweet.
   Die ander een is lank en maer, met ’n spits gesig en ’n yl snorretjie. Hy kyk nie een keer na ons kant toe nie – hy begin net dadelik die boom bestudeer.
   “Ek het ’n petisie opgestel,” sê Leila vir die man met die knipbord. Sy hou die papier met die handtekeninge na hom uit, asof sy wil wys haar papier is net so belangrik soos syne. “Amper vyftig mense het dit al geteken.”
   Aan haar stemtoon kan ’n mens hoor Leila tel die stemme op haar petisie nes ek die dae aftel wat ek nog skottelgoed moet was.
   Ek voel skielik sleg omdat ek nie my handtekening op die papier wou sit nie.
   “Te laat,” sê die man sonder om van sy knipbord af op te kyk. “Papierwerk is gedoen.”
   “Maar dis ’n petisie!” sê Leila. Haar blou oë blits. “Mense het dit geteken omdat hulle nie wil hê die boom moet afgesaag word nie. Amper vyftig mense. Mense wat omgee. Julle kan tog nie net aangaan daarmee nie.” Haar stem ry op en af soos ’n wipplank.
   Die man trek sy skouers op. “Probeer die munisipale bestuurder.”
   “Die munisipale bestuurder?” vra Leila hoopvol.
   “Met vakansie,” sê die man. “Einde Januarie terug.”
   Dit klink of dit vir hom te veel moeite is om in volsinne te praat.
   Die maer man begin met presiese treë rondom die boom stap. Hy kyk daarna soos ek en Donovan en Adrian altyd na die laaste skeppie Sondagmiddagpoeding in die bak kyk. Dit lyk asof hy van plan is om nie net die boom af te saag nie, maar dit te eet ook.
   “Wanneer is julle van plan om dit af te saag?” Met die laaste paar woorde klink dit of Leila se stem oor ’n spoedhobbel jaag.
   “Pyp word vroeg in Januarie gelê,” antwoord die man. “Boom moet vandag val.”
   Leila trek haar asem skerp in. Haar oë rek. Sy begin haar sandale afstroop en skop dit eenkant toe. Voor ek kan vra wat sy doen, spring sy om en begin rats teen die boom opklouter.
   “Waar gaan jy nou?” vra die man verbaas.
   Leila se rok flap om haar bene. Ek staan saam met die twee mans van die munisipaliteit en kyk hoe sy haar op ’n tak tuismaak. Net haar twee kaal voete hang tussen die blare uit. Haar voetsole is vuilbruin soos die binnekant
van haar sandale.
   Die man van die munisipaliteit kyk pleitend na my, asof hy verwag ek moet iets doen. Ek trek net my skouers op. Die man sug en bring ’n sakdoek te voorskyn. Stadig vee hy die sweet van sy rooi voorkop af. “Daai meisiekind.” Hy skud sy kop. “Praat met haar,” sê hy vir my. “Die pypleiding. G’n keuse nie. Boom is in die pad.”
   “Die boom was eerste hier!” roep Leila.
   “Moenie worry nie, Mister Venter, sodra my span hier is, kan een van hulle met ’n leer opklim en die meisiekind daar afhaal,” sê die maer man met die rotgesig. Sy stemtoon is dreigend.
   “Niemand vat aan my nie,” kom Leila se stem tussen die blare uit.
   Ek kyk op na die boom. Strepies sonlig flits verblindend tussen die blare, amper soos wanneer die son op water speel. ’n Onverwagse duiseligheid laat die sonlig voor my oë swem. Dit lyk asof die boom stadig in die rondte draai. Ek
knyp ’n oomblik lank my oë toe.
   Ek dink aan my oudste broer wat vandag weer die hele dag lank langs die swembad gaan lê en dreig om my wedgies te gee as ek nie vir hom koeldrank aandra nie.
   Ek dink aan my kleinboetie, die snotkopslawedrywer, wat my elke oggend beveel om sy bed op te maak in ruil vir sakgeld.
   Ek dink aan die deurklokkie wat “Jingle Bells” speel en die meisie met die draadjies wat betaal het sodat my broer haar kan soen.
   Ek dink aan my skoolrapport. Ek het hierdie kwartaal 77% vir wiskunde gekry – meer as 10% beter as verlede kwartaal – en ek het die beste in my klas in Afrikaans gevaar. Meneer Fourie sê dis omdat ek sulke goeie opstelle skryf. My pa het nie eens my rapport raakgesien nie, want hy was te besig om Donovan uit te trap oor sy vrot punte en Adrian te prys oor sy briljante rapport. Maak nie saak wat gebeur nie, ek verdwyn altyd iewers tussen my twee broers. Altyd iewers in die middel, waar niemand my raaksien nie.
   Toe ek weer my oë oopmaak, kyk ek af en sien die rooi-en-wit vadoek oor my skouer. Ek het skoon daarvan vergeet – ek het wraggies al die pad tot hier geloop, drie blokke ver, met ’n vadoek oor my skouer. Dit voel soos die soort vreemde ding wat Leila sal doen. Miskien is haar vreemdheid aansteeklik.
   Ek dink aan die hoop skottelgoed wat by die huis vir my wag.
   Bokant my skop Leila se twee vuil voete heen en weer tussen die groen blare.
   Iewers koer ’n tortelduif.
   Die rooigesig-man van die munisipaliteit snuit sy neus.
   Ek dink partykeer doen ’n mens in ’n oogwink, sonder om te dink, iets wat jou hele lewe verander.
   Jy vra iemand in die middel van ’n grilfliek om met jou te trou, soos my pa my ma gevra het.
   Jy besluit vyfuur in die oggend jy is lus vir roomys, soos my pa se suster, tannie Karla, verlede jaar toe sy douvoordag in ’n motorongeluk beland het en verlam is.
   Of jy klim agter ’n vreemde meisiekind aan in ’n boom, met ’n kombuisvadoek oor jou skouer.

Boekbesonderhede


» read article

Potgooi: Christien Neser gesels oor Elle se sewende avontuur in haar jongste boek, Middernagklub

MiddernagklubEsté Meyer Jansen het onlangs met Christien Neser gesels oor haar jongste jeugroman, Middernagklub.

Die sewende boek in Neser se Elle-reeks begin met die allerlaaste middernagfees. Elle en haar vriende is nou in graad elf en mik om die volgende jaar op die leerlingraad te wees. Hulle belowe om hul stoutighede af te sweer, maar moet darem eers nog een finale koshuisfees geniet.

Neser skryf Elle se gewildheid daaraan toe dat meisies haar as ‘n vriendin aanvaar, “soos ons as kinders vir Saartjie aanvaar het”, en vertel dat sy inspirasie put uit die jongmense in haar kring wat vir haar stories aandra.

Neser gesels ook oor die taalgebruik in haar reeks, wat sy graag skoon wil hou van kru taal, en die kreatiewe woorde waarmee die jongmense hulself uitdruk, soos byvoorbeeld Refilwe se voorliefde vir oudtydse Franse kragwoorde en Elle wat iets as “superhiepermegagoed” sal beskryf.

Luister na die potgooi:

Boekbesonderhede


» read article