Sunday Times Books LIVE Community Sign up

Login to Sunday Times Books LIVE

Forgotten password?

Forgotten your password?

Enter your username or email address and we'll send you reset instructions

Sunday Times Books LIVE

LAPA Uitgewers

@ Sunday Times Books LIVE

Archive for the ‘South Africa’ Category

My Eerste Woordeboek: Afrikaans, Engels, Noord-Sotho, Zoeloe is ’n moet-hê-boek vir elke gesin se boekrak!


Dit is ’n vrolike, prettige eerste woordeboek vol kleurryke illustrasies. Kinders sal hope pret hê en basiese woordeskat in vier van Suid-Afrika se amptelike tale aanleer terwyl hulle hierdie boek speel-speel verken. Maklike woord-prent-assosiasies word in Afrikaans, Engels, Noord-Sotho en Zoeloe volgens verskillende temas gerangskik.

Van die temas sluit in: klere, kos, tuin, teenoorgesteldes, voëls, diere, skool, my liggaam en my familie.

Dit is ’n moet-hê-boek vir elke gesin se boekrak!

Hierdie teks volg op Maja se eerste samestelling, My eerste woordeboek: Afrikaans, Engels, Xhosa, Zoeloe. Dié teks is onlangs herdruk en is ook weer in die handel beskikbaar.

Maja Sereda is oorspronklik van Pole, maar het in 1989 na Suid-Afrika verhuis. Haar liefde vir die Suid-Afrikaanse tale het gemaak dat sy die twee woordeboeke saamgestel het vir japsnoete. Maja illustreer sedert 2007 kinderboeke en het reeds verskeie toekennings vir haar illustrasies ontvang. Haar werk is ook al in Frankryk uitgegee. Sy het ’n B.A.-graad in Inligtingsontwerp. Sy woon deesdae in Seattle, VSA, saam met haar gesin, maar behou kontak met Suid-Afrika. Maja hou daarvan om tyd in die natuur deur te bring en staproetes te verken. Haar ander passies is fotografie, heerlike kos, die aanleer van nuwe tale, poësie en keramiek.

Boekbesonderhede


» read article

Kristel Loots se Blom in die hare is ’n donker roman wat siniese vrae vra oor die samelewing se borrelgomidees van die liefde en die huwelik

Blom in die hare is ’n donker kragtoer.

Kaila is g’n Salomo nie, waarom moet sy nou keuses maak soos hy?

Die leser loop die pad met Kaila vanaf haar hoërskooljare tot Kaila se seun in die hoërskool is. Daar is mooi én bitter oomblikke op haar pad. Telkens is daar keuses wat opduik in die roman, maar uiteindelik, is daar een wat haar die seerste maak: Haar seun se meisie is swanger. Wie se kant moet sy kies? Die jong man met die pyn in sy oë, of die ongebore baba? Die ma van die ongebore baba is boonop die dogter van hóm wat sy heimlik gehoop het vir háár ’n bietjie plesier sou kon bied.

Kaila ken van verwerping. Sy is agterlaat deur ’n vreemde vrou en toe aangeneem deur ’n ewe wêreldvreemde vrou wat toe ook sommer eendag verdwyn het. Haar eerste liefde was haar Wiskunde-onnie, wat ook oornag verdwyn. Blom in die hare is ’n donker roman, een wat siniese vrae vra oor die samelewing se borrelgomidees van die liefde en die huwelik.

Tog: Die boek bied hoop. Die laaste bladsy in hierdie boek is ’n hoogtepunt, dit bring alles bymekaar en bring ’n enorme verligting aan die leser.

Loots krap op plekke waar ander nie wil nie. Juis daarom is daardie laaste bladsy so belangrik! Regdeur die boek is daar pragtige oomblikke, maar die liefde kan ook seermaak, dit word nooit ontken nie.

Kaila weet, o sy weet, ’n mens het meer nodig as ’n blom in jou hare om gelukkig te wees. Maar wat doen jy as jou aanneemma jou geleer het dat ’n blom jou enigste verweer teen die wêreld is?
Saam met Kaila leer die leser ook die bittersoet geheim van die blomme ken.

Blom in die hare is Kristel Loots op haar beste. Sy beskryf die leefwêreld van gewone vroue van verskillende ouderdomme en verskillende figure. Loots skryf met ontsettende patos, maar weet ook hoe om deurgaans humor te gebruik. Jy lag, jy lag, dan pink jy ’n traan saam met die karakters.

Hierdie doyenne van Afrikaanse vrouefiksie het al weggestap met ’n ATKV-Woordveertjie vir Liefdesromans, en met baie lesers se goedkeuring.

Boekbesonderhede


» read article

Die Vyfde Aspoester delf in die lewenslange invloed wat geweld (in al sy vorms) op die psige van ’n mens kan hê

Dié boek gaan jou in die maag skop.

Die vyfde Aspoester begin met ’n donkerkopmeisie wie se liggaam in ’n agteraf hotel in ’n Aspoester-uniform gevind word. Haar linkervoet se tone is afgesny sodat die voet in die glasskoen kon pas. Haar oë is netjies verwyder. Daarna is haar nekaar gekloof sodat sy kon doodbloei.

“Hoe sal jy voel as ek dieselfde met jóú dogter doen? Haar naam is mos Franci?” Dit is wat die elektronies vermomde stem vir doktor Olaf Demeyer, forensiese profileerder, vra terwyl hy die dossierfoto’s van die moordtoneel bestudeer.

“Hoekom sou jy dieselfde met my dogter wou doen?”

’n Koggellaggie klink op. “Dit is wat jy moet uitvind, Doktor. Kom ons kyk of jy werklik so baie vir verontregde vroue omgee soos wat die media beweer. En kom ons kyk of jy my betyds met jou agtste sintuig kan uitoorlê.”

Die lyke van nog drie meisies word binne ’n paar dae gevind. Olaf besef hy sal baie diep in sy eie donker profiel moet delf na die waarheid as hy wil verhoed dat sy enigste dogter die vyfde slagoffer van die Aspoestermoordenaar word.

Herinneringe aan sy traumatiese kinderjare, sy oordrewe skuldgevoelens en sy fobie vir lemme, maak nie sy taak vir hom ligter nie. Intussen voel hy hoe die uurglas baie vinnig vir Franci leeg loop.

Wat maak die boek anders? Die Vyfde Aspoester delf in die lewenslange invloed wat gesinsgeweld, asook geweld in die algemeen, op die psige van ’n mens kan hê. Dit ondersoek ook die invloed wat geweld teen vroue en kinders op die samelewing het. Kwessies soos pedofilie, geestesversteuring en seksverslawing word aangespreek teen die agtergrond van ’n reeks bisarre misdade waarin jong meisies grusaam vermink word voordat hulle sterf.

Jan Vermeulen publiseer sy eerste kortverhaal, Die Sneeuprins van Alaska, toe hy net veertien jaar oud is in 1976 in die destydse jeugtydskrif Patrys. Sy debuutroman van 1998, Die Laaste Dans, is ’n grensoorlogroman en haal die kortlys van die Eugene Marais-prys. Intussen rig hy ook stringe pryse in vir sy uitstekende jeugromans.

Boekbesonderhede


» read article

LAPA Uitgewers vereer met ’n Tinteltong Toekenning!

Op 21 Februarie, Internasionale Moedertaaldag, is LAPA Uitgewers vereer met ’n Tinteltong Toekenning as die uitgewer wat Afrikaans bevorder.

Die prys is toegeken deur AfriVriendelik, ’n filiaal van AfriForum.

AfriVriendelik het die kortlyste bekendgemaak waarna die publiek ’n geleentheid gehad het om vir hulle gunsteling te stem.

LAPA is besonder trots op die toekenning en is dankbaar dat AfriVriendelik ons werk raakgesien het, ook dat die publiek vir ons gestem het.

Ons luister na ons lesers!

Van links na regs: Ian Dennewill, Izak de Vries, Sylvia de Wet en Sumarie Erasmus van LAPA, met Gerhard van Huyssteen, ’n lid van die ATKV se direksie. Van Huyssteen was ook die gasspreker by die toekenningsgeleentheid.

» read article

Aandag, krimivrate! Die volledige Thys Krige-reeks is nou weer in druk!

Thys Krige is so cool soos James Bond en so rats soos Chuck Norris. Hy was op ’n bitter jong ouderdom reeds ’n kaptein in die polisie, maar besluit toe om privaat te werk.

Onder die hardwasbuitekant het Thys ’n besonder sagte hart.

Die volledige reeks is nou weer in druk.

Dieper as die bloed

Thys Krige se dryfveer is die onopgeloste moord op sy pa.

Die enigste leidraad wat hy het is iemand wat hy daardie aand vlugtig naby die toneel gesien het, en die woorde wat die man vir hom gese het: “Kyk dieper as die bloed.”

Sy ondersoek na die moord op twee sakemanne lei Krige na die onopgeloste moord op ‘n model.

Hy krap ‘n misdaadsindikaat van korrupte sakemanne en senior polisie-offisiere oop; mense wat hulself as bo die wet beskou; mense wat nie skroom om wie in hul pad kom uit die weg te ruim nie.

In die proses kry Krige oproepe van ‘n geheimsinnige persoon wat nie alleen sy vordering met die ondersoek dophou nie, maar ook duidelik baie van hom weet.

In hul gesprekke se die man by herhaling vir hom: “Kyk dieper as die bloed.”
 

Ou bloed

Thys Krige soek al vyftien jaar na sy pa se moordenaar. Wat hy nie geweet het nie, is dat hy ’n vennoot in hierdie soektog het. Ou bloed volg Venter se vorige roman, Dieper as die bloed, op.
 
 
 
 
 
 

Waar boosheid broei

Thys Krige is uit die speurdiens en rigtingloos.

Hy is bekommerd oor die reeks artikels wat Robyn Arendse oor kindersmokkelary skryf, en waarsku haar dat haar veiligheid in gedrang mag wees. Dit plaas ‘n stremming op hul verhouding.

Sy word ook gedreig om op te hou skryf aan die artikels.
 
 
 

Plasenta

Teen die einde van die derde boek, Waar boosheid broei, is Thys Krige se loopbaan by ’n laagtepunt. In Plasenta tel hy die stukkies op en besluit om die laaste hoofstukke van sy troebel verlede af te sluit.

Thys kyk sy demone in die oë en begin die ontvoering van sy halfsuster, Karen Borijn, én die dood van sy minnares, Robyn Arendse ondersoek. Karen is meer as vyftien jaar gelede, op twaalfjarige ouderdom ontvoer. Die vraag is of sy nog leef, en indien wel, in watter toestand sal sy wees as hy haar opspoor? Jong meisies word vir die sekshandel ontvoer en Thys weet dit.

Sy speurvernuf bring hom op die spoor van ’n Turkse sluipmoordenaar wat hom na Maputo toe lei vanwaar ontvoerde meisies verskeep word na Pakistan.

Danksy ’n intense binnegeveg in die sindikaat, verkry Thys die nodige inligting wat hom moontlik van aangesig tot aangesig kan bring met die man wat destyds sy kloue in Karin, Thys se halfsussie, geslaan het.

Dié leidrade neem hom na Ciprus.

Die probleem is, die huis daar op Ciprus waarin al die geheime bewaar is, word deur gewapende wagte bewaak. Krige is versigtig, maar word wel deur die wagte gevange geneem … Nou moet die leser maar self verder lees, want aan die binnekant van dié vesting weet Thys skielik wat hom te doen staan.

In hierdie boek word talle van die vrae waarmee die leser in die vorige boek gestrand was, beantwoord, en Thys se lewe én speurwerk bereik nuwe hoogtes. Sal hy egter oorleef om hierdie suksesse te smaak?

Brand

Hoë politici sweer saam om Suid-Afrika in ’n diktatorskap te dompel. Die armes het genoeg gehad en kom in opstand. Die land brand. Mense vir wie Thys Krige omgee, kry seer. Iemand moet daarvoor boet.

Hierdie keer word hy betrek by korrupsie en komplotte op regeringsvlak. ’n Korrupte president speel in die hand van buitelandse moondhede met imperialistiese ambisies wat ’n voet in die deur soek. Sagte kolonisasie, noem mens dit. Staatskaping noem die media dit. Die tentakels daarvan al so diep in die struktuur van mense in sleutelposte dat niemand meer seker is wie betrokke is en wie vertrou kan word nie. In sulke gevalle protesteer mense gewoonlik. Hulle kan byvoorbeeld so aggressief gemaak word dat hulle mekaar begin uitroei. Traangas word gedokter met dwelms wat ten doel het dat mense mekaar te lyf gaan. Grootskaalse chaos maak ’n land onregeerbaar. Dryf die mense se frustrasie tot breekpunt. Sweep hulle teen mekaar op. Maar daar is maniere om hulle stemme stil te kry.

In Krige se stryd het drie vroue deel van sy wêreld geword: sy halfsuster, ’n gestremde IT-spesialis en ’n genie wat die donkerweb met die donkerbewuste in die mens se psige in verband bring. Al drie gaan gebuk onder pyn en trauma, soos Krige, en vir al drie ervaar hy iets wat aan liefde gelykgestel kan word.

“Hy voel die wonderlike pyn wegsak, diep in, dieper, dieper, tot dit sag word en tot rus kom op die koue en harde ding in hom.”

Boekbesonderhede


» read article

Sewe kinderboeke om na uit te sien in Februarie!

Z is vir Zackie 9: Die dieretuin
Jaco Jacobs
Illustreerder: Alex van Houwelingen

7+

Vandag is ’n spesiale dag. Zackie se klas gaan dieretuin toe! Hulle kan nie wag om die leeus, olifante, apies en ander diere te sien nie. Maar Anton gaan ook saam. Anton is ’n boelie. Hy hou vreeslik baie van spog. En hy gaan sy bes probeer om almal se dag te bederf.

Z is vir Zackie 10: Die vreemde fossiel
Jaco Jacobs

Illustreerder: Alex van Houwelingen
7+

Zackie en Vincent is op soek na fossiele! Dalk is daar ’n T-rex in die tuin begrawe? Of ’n trikeratops in die parkie? Of ’n stegosourus op die sypaadjie! Almal dink hulle is laf. Daar is tog nie fossiele in Granaatstraat nie. Maar dan ontdek hulle iets fantasties!

Hoezit! Die wonderwêreld van perde en ponies
Jaco Jacobs & Fanie Viljoen

Wat is die verskil tussen ’n perd en ’n ponie? Watter soort perd kan meer as ’n klein motor weeg? Waarvoor word verskillende soorte perde regoor die wêreld gebruik? Hoe moet jy jou perd of ponie versorg? Ontdek die wonderlike wêreld van perde en ponies met hierdie boek propvol prettige feite en aktiwiteite! Met 48 bladsye vol fassinerende feite, volkleurfoto’s en hope aktiwiteite, speletjies en kopkrappers waarmee jy die wonderwêreld van perde en ponies kan verken, is hierdie boek gewaarborg om jong feitevrate se tone te laat omkrul van lekkerkry! Maak van naderby kennis met van die indrukwekkendste perderasse, vind uit wat alles by ’n ryskool gebeur, ontmoet perde se verlangse familie in die diereryk, en ontdek ’n paar asemrowende perderekords! Die temas en aktiwiteite maak hierdie reeks boeke die perfekte hulpbron vir skoolprojekte en sal sorg vir ure se prettige vermaak by die huis. Sedert Hoezit! se bestaan in boekvorm, is daar al meer as 51 700 kopieë van hierdie reeks verkoop.

Reënboogrant Maats: Omnibus 1
Maritha Snyman
9+

Een van die gewildste Afrikaanse reekse is nou vir die eerste keer in ’n omnibus beskikbaar! Kom deel in die lekkerste tye van Shani en haar sussie Sunette se lewens – tydens die Reënboogrant-jare! In die Reënboogrant Maats-boeke is Shani-hulle op laerskool, en hulle beleef allerlei opwindende avonture – van ’n dief wat straatnommers steel, tot ’n droomrol in ’n balletkonsert.

Hierdie omnibus bevat die eerste drie titels uit dié gewilde reeks: Skelmstreke en kattekwaad, Alleen tuis en Die balletkonsert.

Die Reënboogrant-boeke, waarvan die eerste in 1995 verskyn het, was uiters gewild. Reënboogrant is destyds as ’n “boeksepie” beskryf. LAPA is trots om dit weer aan jong lesers beskikbaar te stel.

Kattekwaad
Susan Ongansie
lllustreerder: Linki Lutz

3+

Susan Ongansie is ’n splinternuwe skrywer!

Mietsie en haar boetie, Maans, is twee katjies. Hulle hou daarvan om met hulle bal op die sagte gras te speel. Maar toe Mietsie aan die slaap raak, besluit Maans om oor die muur te spring en iemand te gaan soek wat met hom wil speel.

Mietsie word wakker en ontdek haar boetie is skoonveld! Toe sy hom gaan soek, kry sy vir Mors en Jors, die twee grys straatkatte wat hou van stry en baklei! Sal die twee straatkatte haar kan help om haar boetie te kry – en uit die pad van die gevaarlike straatbrakke te bly?

Susan Ongansie is ’n grondslagfase-onderwyseres wat op Beaufort-Wes gebore en getoë is. “Die aard van my werk bied ’n lekker geleentheid vir skryf, aangesien ek graag stories, liedjies en gediggies skryf wat vir my leerders relevant is. Ek geniet die genot op hul gesiggies.”

Linki Lutz het aan die Universiteit van Stellenbosch gegradueer met ’n cum laude vir haar prakties in Skone Kunste. Piet Grobler is haar peetpa, so sy wou van ’n vroeë ouderdom reeds ’n loopbaan as illustreerder volg.

Kom ons praat oor waar babas vandaan kom
Robie H. Harris
Illustreerder: Michael Emberley
7+

Hierdie deernisvolle boek fokus op belangrike dinge waaroor kinders wonder: babas, voortplanting, liggame, gene, grootword, liefde, gesondheid en nog baie meer. Die inligting word op ’n eenvoudige manier oorgedra met humoristiese kommentaar van ’n baie nuuskierige voëltjie en ’n teësinnig by wat sou verkies om eerder nie oor dié dinge te praat nie! Vrolike volkleurstrokiesprentillustrasies help om die teks nog meer toeganklik te maak.

Seksvoorligtingboeke vir jonger kinders is in groot aanvraag en hierdie titel is al vir 15 jaar in Amerika en Engeland ’n topverkoper.

Robie H. Harris is ’n bekroonde skrywer wat veral bekend is as skrywer van kinderboeke oor seksualiteit. Sy het jare se ondervinding as onderwyser en as die direkteur van ’n náskoolprogram vir jong kinders. Sy woon saam met haar man in Boston, VSA. Michael Emberley skryf en illustreer al meer as dertig jaar lank kinderboeke. Hy woon in Ierland.

Aksieheld Austin: Nag van grille
Skrywer en illustreerder: Fanie Viljoen
9+

Ligte, kamera, aksie!

Ewald is nog op laerskool, maar sy naam is reeds op almal se lippe. G’n wonder nie – hy is immers die ster van die gewilde Aksieheld Austin-rolprente. In die flieks is hy ’n dapper held met vuiste soos kanonkoeëls wat skurke laat les opsê!

Die tweede fliek, Aksieheld Austin: Nag van grille, is pas voltooi, en Ewald kan nie wag vir die bekendstelling nie. Dit gaan by ’n ou fliekteater in die stad gehou word.
Die middag voor die vertoning gaan maak Ewald en sy beste vriend, Carlo, egter ’n draai by die grillerige ou fliekmuseum wat deel van die teater is. Kort voor lank is hulle vasgekeer in die museum – saam met ’n geheimsinnige figuur wat in die donker rondsluip …

As hulle wil ontsnap, sal Ewald hierdie keer net so dapper soos ’n REGTE aksieheld moet wees!

Dié asemrowende reeks avontuurverhale uit die pen van Fanie Viljoen is perfek vir jong lesers wat hou van stories propvol aksie en adrenalien!

Boekbesonderhede


» read article

Jan Vermeulen nou ook internasionaal bekroon

Die bekroonde skrywer Jan Vermeulen se jeugroman Asem is pas deur IBBY (International Board on Books for Young People) as ereboek in die kategorie vir Afrikaanse jeugliteratuur aangewys, wat beteken Asem sal deel vorm van die internasionale erelyskatalogus wat tweejaarliks deur dié gesaghebbende kinderboekliggaam saamgestel word.

Vermeulen is tans besig om op alle fronte naam te maak.

Asem is as wenner van LAPA Uitgewers se jeugromankompetisie vir 2015 aangewys.
• Teen die einde van 2017 het hy silwer gewen in NB se jeugromankompetisie met Soen.
• Verlede week het ons aangekondig dat Vermeulen ook LAPA Uitgewers se jeugromankompetisie vir 2017 gewen het met Oopmond.
• Oor ongeveer drie weke verskyn Vermeulen se krimi vir volwasse lesers, Die vyfde Aspoester, ook by LAPA Uitgewers.

Van die belangrikste oorwegings wanneer die IBBY-erelys saamgestel word, is dat die boeke op die lys die beste van elke land se kinderliteratuur moet verteenwoordig, en dat dit geskik moet wees vir publikasie regoor die wêreld.

Die boeke op die lys vorm deel van rondreisende uitstallings wat by verskeie internasionale konferensies en literêre feeste te sien sal wees, en sal ook deel vorm van die permanente uitstallings van byvoorbeeld die Internasionale Jeugbiblioteek in München, Duitsland.

Asem vertel die verhaal van Barries Barnard wat by sy vervreemde pa in die Oos-Kaap moet gaan bly ná ’n ongeluk waarin hy en sy vriende onder die invloed van drank en dwelms ’n verkeerskonstabel omry.

Vermeulen sê hy kry gereeld positiewe terugvoering van lesers oor Asem, en die insluiting op die erelys is vir hom ’n groot aansporing.

“Ek is veral baie opgewonde oor die moontlikheid dat Asem tieners en jong mense in ander wêrelddele ook kan bereik en vir hulle dieselfde kan beteken as vir ons eie tieners hier in Suid Afrika.”

Toe Asem as wenner van LAPA Uitgewers se jeugromankompetisie vir 2015 aangewys is, het die beoordelaars dit beskryf as ’n aangrypende, eerlike grootwordverhaal oor verslawing en tweede kanse.

Miemie du Plessis, uitgewer: kinder- en jeugboeke van LAPA Uitgewers, sê Asem is werklik ’n unieke storie wat dié uitsonderlike eer dubbel en dwars verdien. “Daar was nog nooit so iets in Afrikaans nie – ’n boek wat die impak van ’n afwesige pa so brutaal eerlik aanspreek. En omdat dit so ’n wydverspreide probleem in Suid-Afrika is, is die boek honderd persent in die kol wat die tema en die uitvoering daarvan betref. Boonop is die storie en karakters behoorlik ontwikkel, en die leser kan nie anders as om ingetrek te word by Barries en sy wêreld nie.”

Boekbesonderhede


» read article

In 50 Prutpotgeregte wys LAPA Uitgewers vir jou hoe maklik dit is vir die prutpot om heerlike kos voor te berei terwyl jy aangaan met jou lewe

’n Prutpot is een van die handigste, mees ekonomiese en gesondste maniere om smulgeregte vir die gesin voor te berei terwyl jy jou aandag en tyd elders spandeer. In Engels staan dit bekend as ’n slow cooker of ’n crock pot.

’n Prutpot is veilig en kan rustig prut terwyl jy werk, inkopies doen of die gesin vervoer.

Hierdie pragtige, volkleurboek, 50 Prutpotgeregte, wys ons vir jou hoe om met behulp van jou prutpot en minimale voorbereiding heerlike bredies, sop, sappige braaistukke, selfs poeding, gaar te maak terwyl jy aandag aan belangriker dinge skenk.

Moenie bodder met Google en uitlandse bestanddele waarvan niemand nog gehoor het nie. Die resepte in ons boek maak gebruik van bestanddele wat moontlik reeds in jou koskas is, of maklik by jou plaaslike supermark bekombaar is.

In 50 Prutpotgeregte wys ons jou hoe maklik dit is vir die prutpot om heerlike kos voor te berei terwyl jy aangaan met jou lewe.

Resepte sluit in: ’n Hoender- en rooiwynstowedis met kruiekluitjies, Romerige Sweedse frikkadelle, Gevlokte beesvleis, Koolrolletjies, Murgpampoentjiesop, Hongaarse ghoelasj, Italiaanse varkboud, ’n geurige Beesvleiskerrie, Sjokoladekoek, en ’n Sjokolade- en grondboontjiebotterpoeding.

Ons gee ook wenke hoe om jou prutpot optimaal te gebruik en te versorg.

Boekbesonderhede


» read article

Wenners van LAPA se Jeugromankompetisie 2017 aangewys

Die wenners van LAPA se Jeugromankompetisie vir 2017 is pas bekend gemaak, en aanhangers van dié genre kan uitsien na drie uitsonderlike wenverhale wat later vanjaar die rakke gaan tref.

Die eerste plek gaan vanjaar aan Jan Vermeulen vir Oopmond, die verhaal van Madelaine Taaibosch wat sewe maande ná haar hartoorplanting begin vermoed die nuwe hart wat in haar borskas klop, is ’n gebroke hart.

Hoewel die dokters haar verseker daar is niks met die skenkerhart verkeerd nie, begin sy vreemde dinge sien – dinge uit die verlede en in die toekoms. Die skrywer vervleg verskillende intriges meesterlik in ’n storie wat wys hoe harte mekaar selfs oor eeue heen kan vind. Vermeulen was ook in 2015 die wenner van hierdie kompetisie met Asem, en is voorheen al twee maal met die Sanlamprys (goud in 2000 en silwer in 2017), die M.E.R.-prys, die Scheepersprys en ’n ATKV-kinderboektoekenning bekroon. In Maart verskyn Vermeulen se krimi, Die vyfde Aspoester, ook by LAPA.

In die tweede plek is Zelda Bezuidenhout met haar debuut-jeugverhaal, As mens geluk kon eet, ’n heerlike grootwordverhaal vol deernis en humor oor Arnelia wat in haar graadnegejaar vasbeslote is om ’n nuwe begin by haar nuwe skool te maak.

Ondanks ’n wankelrige begin maak sy kort voor lank nuwe vriende saam met wie sy ’n kostrok by die skool begin, sy kry die hoofrol in die skool se musical, verloor haar hart op ’n ou met ’n skewe James Franco-glimlag, en vind meer uit oor haar afwesige pa. Die beoordelaars noem hierdie opwindende debuutroman ’n “eerlike, vars, onopgesmukte storie wat jou telkens hardop laat lag”.

Bezuidenhout is van Parys, in die Vrystaat, maar sy het in 2017 ingeskryf by die ATKV-Skryfskool aan die Noordwes Universiteit te Potchefstroom. Sy vertel self:

Die Skryfskool was vir my ’n persoonlike waterskeiding. Dit was net vyf dae lank, maar ek het soveel gesoute en beginnerskrywers met hope talent daar ontmoet.

Ek het nie net geleer hoe die skryfproses werk nie, maar ook hoe die uitgewersbedryf in Suid-Afrika aanmekaarsit. Om die teekan, kon ek skouers skuur met mense soos Prof. Hans du Plessis, kinderboek-grootgees Prof. Franci Greyling, gesoute joernalis/skrywer Carla van der Spuy en die broer-en-suster skrywers Fanie Viljoen en Cecilia Steyn.

Fanie het een of twee werksessies met ons groepie van vier aspirant-jeugboekskrywers gelei. Aan die einde van die week, het ek van sy boeke gekoop en gevra of hy vir my iets voorin sal skryf. In sy boek Pleisters vir die Dooies het hy vir my hierdie woorde geskryf: “Jy gaan beslis publiseer.”

Ek het besluit om hom te glo en het eenvoudig aangehou skryf aan die werk wat ek vir die Skryfskool gestuur het. Twee maande later was dit ’n boek, en dis hoe As mens geluk kon eet die lig gesien het. Deur dit in te skryf vir ’n kompetisie, wou ek eintlik net seker maak iemand lees dit voordat dit later op ’n “slush pile” begin ontbind.

Ek het nie in my wildste drome gedink ek sal ’n prys daarmee wen nie.

Nanette van Rooyen palm vanjaar die derde plek in met haar jeugroman Die sewentiende veer, ’n delikate verhaal oor twee tieners wie se lewens verstrengel raak.

Aan die een kant is daar Lara wat in haar vrye tyd by ’n tatoeëersalon werk, uit ’n ietwat disfunksionele gesin kom, en wonder oor die pa wat sy nooit gehad het nie. Aan die ander kant is daar Alex wat uit ’n kinderhuis kom, ’n vreemde fassinasie met uile het en lyk asof hy Lara agtervolg. Die keerpunt in die verhaal is sestien hartroerende briewe wat Lara in ’n ou hoededoos op haar ma se kas ontdek en wat haar op ’n ontdekkingstog na haar verlede lei.

As skrywer het Van Rooyen geen bekendstelling nodig nie. Sy het in 2011 die LAPA Jeugromankompetisie gewen met Ek was hier, haar kortverhaaldebuut Om te vlerk (2002) is met die RAU-Mardene Marais-prys bekroon, en sy is die skrywer van verskeie kinderboeke asook die volwasse roman Chinchilla.

Die LAPA Jeugromankompetisie is vanjaar vir die derde keer aangebied en met ’n fantastiese oes van 90 inskrywings moes die beoordelaars hul storie deeglik ken. Prysgeld van altesaam R50 000 was vanjaar op die spel: R25 00 vir die eerste plek, R15 000 vir die tweede plek en R10 000 vir die derde plek. Die drie wenverhale word later vanjaar deur LAPA gepubliseer.


» read article

Februarie is die maand van die liefde! LAPA bied met trots ’n smorgasbord van liefdesverhale aan hulle lesers

Rose vir Roselle
Rosita Oberholster

’n Ontroue verloofde en haglike finansies bring Roselle terug op die familieplaas wat hare sal word wanneer haar twee tantes die dag nie meer daar is nie.

Terug hier op La Roseraie lyk dit nie asof die spogroosplaas so winsgewend is as wat haar tantes haar laat verstaan het nie. Dalk was dit, maar nou kort die plaas ’n ferm hand. Droogtes het hul tol geëis en mense haal nie meer so baie geld vir hierdie eksotiese blomme uit nie.

Om alles te kroon, het haar tantes ’n swerwer wat vir kos en verblyf werk, ingeneem. Roselle vertrou hom nie. Wie is hy en waar kom hy vandaan? Wat soek hy hier? Haar tantes weet nie en hy weier om haar te sê toe sy hom direk vra.

Tog, hy help en om vorentoe te boer, sal sy die swerwer se hulp nodig hê.

Haar eksverloofde se meesterlike vermoë om te manipuleer het egter steeds gevolge en Rosalie se trots maak dat sy weier om die swerwer se raad te vra.

Rose vir Roselle is ’n meer verwikkelde, langer romanse wat gekenmerk word deur sterk verhoudings en karakters. Die skrywer het probeer om nie net te fokus op die ontwikkeling van die broodnodige romanse tussen die hoofkarakters nie, sy het ook ’n paar verrassingselemente ingewerk om lesers se lekker te laat vermenigvuldig.

Dit is Rosita Oberholster se eerste SuperRomanza. Sy het die ATKV-Woordveertjieprys vir Romanses in 2017 met Troue in ’n towerbos gewen.

Rose vir Roselle is geskryf ter nagedagtenis aan die skrywer se babasussie wat net sewe weke oud geword het – haar naam was Roselle. Die baba se graf dra die inskripsie “Laat die kindertjies na My toe kom…” en word ook in die boek genoem.

Liefde op Petit Paris
Frenette van Wyk

In die ou Kaap de Goede Hoop stap ’n jongmeisie aan wal ná die vervolging van Protestante in Frankryk. Omdat Royale op die seereis haar ouers verloor het, is sy nou ’n weeskind in ’n land wat sy nog nooit gesien het nie. Die goewerneur wys Aragon as haar voog aan, ook ’n Hugenoot wat vroeër aan die Kaap ’n nuwe begin kom maak het.

Aragon is gekant teen Royale se liefde vir balletdans – dié ydele vermaak wat aan Louis die Veertiende se hof so modieus is – en wil haar nie toelaat om kontak met jongmans te hê nie. Dit is egter nie al wat Royale hinder nie, want sy weet nie waarheen met haar romantiese gevoelens vir haar voog nie, en die swaard van ’n huwelik met sy neef hang oor haar kop.

Boonop is dit ook nie net Royale wat besef wat ’n onweerstaanbaar aantreklike man Aragon is nie! Die ander vrou, Amalia, het boonop ’n dodelike wapen: Die plaas Petit Paris, waarop Aragon boer, behoort aan haar…

Lenteliefde
Alma Carstens

Milan keer ná haar suster se dood terug na SA om haar swaer en sy kinders by te staan. Ou gevoelens begin weer blom, maar wat steek Etienne vir haar weg? Mag Milan hoop op liefde in die lente?

Alma Carstens woon in Bangkok, Thailand en is tans een van LAPA se Top 10 beste verkopers onder fiksieskrywers. Sy skryf om die verlange na Suid-Afrika te help stil.

Blameer die skoenlapper
Elsa Winckler

Josh neem vroumense uit en hy hou van hulle. Sodra hulle oor babatjies begin koer en vassteek voor juwelierswinkels, groet hy egter. Maar nou het hy Catharien ontmoet. Dis ’n probleem, want skielik wil hy bly … Blameer die skoenlapper is ’n Romanza met ongelooflike diepte. Dis ook een van die mees romantiese liefdesverhale wat in ’n lang tyd verskyn het.

Elsa Winckler is ’n internasionaal gerekende romanseskrywer en het al drie keer die ATKV Woordveertjieprys vir Romanses gewen. Die heldinne in haar stories is onafhanklik, hardekwas en nie skaam om hulle sê te sê nie. Die helde is sterk, maar is ook sensitief vir die onderskeie heldinne se behoeftes. Elsa woon op Bettysbaai saam met haar man. Hy is haar studenteliefde.

Wie nie waag nie
Annetjie van Tonder

Gabi het op skool vir Reuel afgeskryf as ’n nerd. By hul reünie twintig jaar later is die nerd nie meer ’n nerd nie, maar ’n aantreklike man vol selfvertroue. Sy wil, maar sal hy haar kan vergewe?
 
 

Liefde in letters
Rika du Plessis

Jennifer se hart mis ’n slag. Waldo, die man wat sy nooit kon vergeet nie, staan weer voor haar. Maar hulle kry nie ’n tweede kans nie, want hy onthou haar nie, boonop is hy verloof. Tog laat ou liefde hom nie so maklik afskud nie.
 
 

Uitgelewer aan die liefde
Marilé Cloete

Hoe gemaak wanneer ’n rofstoeier en skoolhoof op ’n klein Karoo-dorpie koppe stamp? Voeg ’n wysneus-tienermeisie, asook ’n hele paar rondloperkatte by en jy het ’n resep vir moeilikheid. Of wag, dalk net dalk, ’n resep vir liefde?

Marilé Cloete is die skrywersnaam wat Alta Cloete gebruik wanneer sy haar hand aan ʼn romanse waag. Sy is baie trots daarop dat haar Romanzas net so goed vaar as haar ernstiger werk.

Liefde op die Nyl
Joléne de Koningh

Haar suster en ma reken ’n bootreis op die Nyl sal finale berusting vir haar bring ná haar verbreekte verlowing. Troos kan egter verskillende vorme aanneem en in hierdie geval is hy aantreklik – lank, breedgeskouerd en gespierd.

Joléne de Koningh is die Romanza-skrywersnaam van Lien Roux-de Jager. Sy skryf ook spanningsverhale, kortverhale, kinderverhale en historiese romans.

Fees van versoening
Anna Penzhorn

Mia moet ’n artikel oor die kunsskatte van die Van der Bijl-familie skryf. Max van der Bijl is koud en berekenend, maar hy maak ook haar knieë lam. Liefde tussen hulle is egter taboe. Sou sy kom kies, verloën sy haar familie.
 
 

Liefste tinktinkie
Corné van Rooyen

Carlie verskil heeltemal van die vrouens met wie Armand daagliks te make het en prikkel daarom sy belangstelling. Hy het egter vantevore sy kop met ’n jonger vrou gestamp en sal nie toelaat dat dit weer gebeur nie.

Corné van Rooyen het ná skool deeltyds gewerk en studeer toe deur Unisa waar sy haar LLB-graad verwerf het. Sy was nog altyd baie lief vir lees en het van kleintyd al haar eie stories geskryf met die droom om in gewilde skrywers soos Ena Murray en Schalkie van Wyk se voetspore te volg.

Hartewens
Madelie Human

Madelie Human is een van Afrikaans se gerekende romanseskrywers en het al meer as 130 000 boeke verkoop. Sy skryf oor die ligter kant van die liefde en daarom is haar romantiese komedies so uiters gewild.

Hartewens is ’n samestelling van drie van Madelie Human se vorige Romanzas, Onwelkome geskenk, Handomkeer en Le Fleur se hartebreker.

Madelie se eerste romanse, Om Ben lief te hê, is in 2009 met ’n ATKV-Woordveertjieprys vir Romanses bekroon.

Onwelkome geskenk: Marile vertrou glad nie die Werner-vent wat met haar oupa konkel én haar knieë lam maak nie. Hy is immers net nóg een van die mans wat in haar geld belangstel. Of maak sy ’n fout?

Handomkeer: Bea kom uit Johannesburg se agterstrate maar veg haar pad oop tot sy een van dié wynmakers in die land is. Wat haar hinder, is dat die wynplaaseienaar verraderlike dinge aan hart en lyf begin doen.

Le Fleur se hartebreker: Voor die oestyd verby is, is Janneli een van die vroue in sy album vol gewese meisies. Dit is wat die Franschhoekvallei se hartebreker haar wed! Wel, ons sal sien, besluit Janneli.

Hartsbegeerte
Madelie Human

Hierdie omnibus is ’n samestelling van drie van Madelie Human se vorige Romanzas, Terug na jou, Kolwyntjie en Altyd die strooimeisie.

Terug na jou: Een naweek het Mercia, Le Fleur-wynlandgoed se eienares, ’n man ontmoet aan wie sy onmiddellik verknog geraak het. Maar dit was net ’n droom want hulle was albei getroud; sy vrou sieklik en Mercia se man ’n pierewaaier. Nie een kon skei sonder om ander se lewe te verwoes nie. Hulle het mekaar prysgegee.

Kolwyntjie: Die gebakwinkel is Melani se droom wat werklikheid word. Haar ander droom word spoedig ’n nagmerrie toe haar en die mediese dokter se paaie kruis in dieselfde kantoorgebou. En nie sommer enige dokter nie, nie eens sy tweelingbroer kan aan haar doen wat hý met sy intense grys oë doen nie!

Altyd die strooimeisie: Zoë Davel besluit om nooit weer voor die kansel te staan nie – nie as strooimeisie nie en beslis ook nie as bruid nie, al stuur die hoogs aantreklike Meyer Malan haar hart heeltemal in ’n aweregse wentelbaan.

Boekbesonderhede


» read article