Sunday Times Books LIVE Community Sign up

Login to Sunday Times Books LIVE

Forgotten password?

Forgotten your password?

Enter your username or email address and we'll send you reset instructions

Sunday Times Books LIVE

LAPA Uitgewers

@ Sunday Times Books LIVE

Archive for the ‘Interviews’ Category

Carina Diedericks gesels oor die Thomas@-reeks en die eienskappe van goeie jeugfiksie

Bekendstelling van die Thomas@-reeks op kykNET
Thomas@aksie.netThomas@geraamte.netThomas@sms.netThomas@moord.netThomas@skerpioen.net
Thomas@aqua.netThomas@nagmerrie.netThomas@vrees.netThomas@rock-ster.net

 

Carina Diedericks is die skepper van die immergewilde Thomas@-reeks wat handel oor die manewales van Thomas en sy maats: Alex, Lilian, Hannes, Thabo en Lukas.

Die Thomas@-avonture is in 2013 in ‘n televisiereeks omskep en Thomas@rock-ster.net, die agste boek in die reeks, is in 2011 met ʼn silwer Pendoring Reklametoekenning bekroon.

Books LIVE het met die skrywer gesels oor, onder meer, die prikkels wat aanleiding gegee het tot die reeks, haar skryfproses, die eienskappe van moderne jeugfiksie en die moets en moenies wat jeugboekskrywers liefs in gedagte moet hou.

Lees die onderhoud:

 

* * * * * * * *

 
Waar het jy aan die idee vir die Thomas@-reeks gekom?

LAPA het in 2000 my genader om ’n jeugboek te skryf na aanleiding van kortverhale van my wat gepubliseer is. Ek het gedink dit is ’n maklike opdrag, maar toe ek wou begin, het ek besef ek het nie ’n idee hoe tieners se lewens lyk en werklikheidsverstaan werk nie. Ek het dit toe eers gelos en begin lees. Amper ’n jaar lank. Ek het besef dat reeksboeke geweldig sterk is en dat daar enorm baie ruimte binne die Afrikaanse jeugmark is vir ’n nuwe wending. Ironies genoeg was die bedoeling nie om Thomas ’n reeks te maak nie, maar nadat ek thomas@moord.net geskryf het, was ek nog nie klaar met die karakters nie. Wat die karakters betref is hulle ’n vermenging van my twee ouer broers.

Hoekom is die reekstitel Thomas@ en nie net Thomas nie (soos Trompie, Saartjie ens)?

Ek wou dit kontemporêr maak en tegnologie is so ’n groot deel van my – eintlik almal – se lewens dat dit vir my belangrik was om dit te laat deurskemer. Tegnologie figureer sterk in die reeks. Dis ’n uitdaging, want ek moet dit so skryf dat dit modern bly sonder om te veel detail (soos handelsmerke en weergawes) te gee wat die boek prematuur kan laat verouder.

Wat is die belangrikste eienskappe van moderne jeugfiksie?

Die skrywer se eerlikheid, integriteit en respek vir die leser. Die dae is verby wat skrywers dink hulle gaan “gou” ’n jeugboek skryf en veral waar skrywers hul in ’n posisie bo jongmense plaas en af kyk en af skryf en neersien op hulle. Skrywers soos Barrie Hough en Marita van der Vyver het met hulle jeugboeke daardie weg gebaan vir ons wat op hulle hakke gevolg het.

Watter jeugboeke het jy op skool gelees?

Ek het álles gelees waarop ek my hande kon lê. Gelukkig was boeke en lees groot in ons familie en ons het die drumpel van biblioteke van Johannesburg tot Kaapstad deurgetrap. In daardie dae was daar ook die Daan Retief Boekklub. Elke maand het jy ’n “Japsnoet-boekie” oor ’n interessante onderwerp gekry, ’n aktiwiteitsboek en ’n storieboek. My gunstelinge was beslis die reekse: Maasdorp, Trompie, Saartjie, Jasper, Uile, Groenweide, Bienkie, Mienkie, Meintjie, ens. En dan Engelse reekse soos Famous Five, Secret Seven, Nancy Drew, Hardy Boys, Choose your own adventure … Ek kan baie lank aanhou met my lys van gunstelinge! Later op hoërskool het ek André P. Brink ontdek en ook Etienne van Heerden, Marita van der Vyver, Dalene Matthee, Ingrid Jonker en so aan.

Wat is die grootste verskille tussen destydse jeugboeke en dié van vandag?

Aanvanklik was daar ’n eenvoud en ’n amper onskuldige, lieflike benadering. Ontsnappingsletterkunde. Kyk na Alba Bouwer, Sita (SS de Kock) en MER (Maria Elizabeth Rothmann). Ook die reekse wat al so ver terug as die 1930′s (Maasdorp en Keurboslaan) en die 1950s (Saartjie en Trompie) verskyn het. In die 1970′s en 80′s het daar egter ’n ommeswaai gekom wat die Afrikaanse jeugboek enorme skade berokken het. ’n Handvol akademici het besluit dat boeke “goed” moet wees vir ’n kind. Of die kind van die storie gaan hou al dan nie, was irrelevant. Alle reeksboeke is as ongeskik vir lees verklaar en selfs van biblioteekrakke verwyder. Die boeke was vaal, deprimerend en het ten minste twee geslagte vervreem van Afrikaanse letterkunde. Die akademici het op prys- en voorskryfkommitees gesit en natuurlik het die uitgewers gefokus op wat hulle wou hê. Ek was in ’n Engelse skool en na aanleiding van ’n gruwelike depro voorgeskrywe boek het een van my vriendinne gevra: “M’am, are all Afrikaans people poor and depressed?” I rest my case.

Vertel ons van jou skryfproses – hoe besluit jy op ’n tema en hoe ontwikkel jy jou karakters?

Stories vlieg letterlik om ons rond. Jy moet net weet waar om te kyk. Dit kan ’n brokkie van ’n gesprek wees wat jy afluister. Of iets wat jy sien. Of onthou. Of alles vloei saam en vorm iets nuut. Dieselfde geld vir temas. Dis moeilik om dit mis te kyk. Karakters is sameflansings van mense wat ek ken of gesien of beleef het. Jy speel matchmaker en sien gou dat ’n sekere tema nou ’n sterker storie gaan maak en dat hierdie of daardie karakter pas by die storie. Ek doen nie vreeslike beplanning voor die tyd nie. Ek het ’n basiese idee waaroor die storie moet gaan, die kernkarakters en net daardie eerste sin. Dan spring ek weg. ’n Ent in die boek in sal ek halt roep en navorsing doen of die res van die boek uitlê.

Wat is die moets en moenies wat jeugboekskrywers in gedagte moet hou?

Maklik. Daar is net twee moets: 1. Lees 2. Respekteer jou leser.

Thomas is nie ’n tipiese held nie, hy maak foute en is dikwels die een wat gered moet word. Hoekom het jy hom so geskryf?

Ek dink hierdie James Bonderige hoofkarakters in “realistiese” jeugboeke werk nie. Niemand kan goed wees in alles en ongedeërd uit alle situasies stap nie. Ek wou ’n tipe anti-held skep waarmee lesers kan identifiseer.

Thomas en Alex se verhouding is ’n interessante storielyn. Hoe skryf jy oor romanse in ’n jeugreeks? (En hoekom het Lukas en Lilian nooit bymekaar uit gekom nie?)

Wel, die reeks is nog ver van klaar, so wie bymekaarkom en wie nie, is ’n ope vraag!

Hoe was dit om aan die televisiereeks te werk?

Fantasties. Ek was deel van die skryfspan en dit was heeltemal iets anders gewees om vir TV te skryf as wat jy ’n boek skryf. Skielik het jy die visuele waarmee jy kan speel, maar aan die ander kant moet jy goed soos uitvoerbaarheid van storielyne en tonele, asook kostes in gedagte hou. As jy skryf, is daar geen begroting wat jou kreatiwiteit aan bande lê nie. So het ek byvoorbeeld gedink ’n toneel waarin Thomas aan ’n rotslyn op Tafelberg hang, sal verskiklik cool wees. Maar toe blyk dit dit is nogal duur om helikopters te huur, kameramanne by helikopters te laat uithang, permitte om op die berg te skiet te kry en waaghalse te gebruik vir ’n toneel van hoogstens 10 minute! Who knew?

Boekbesonderhede


» read article

“Weet ons rêrig hoe wit ons is?” – Chanette Paul gesels oor die temas in Offerlam

Chanette Paul

 
OfferlamChanette Paul se jongste spanningsroman en internasionale deurbraak, Offerlam, vertel die verhaal van Caz Colijn, ‘n middeljarige wit vrou in die Overberg wat deur onvoorsiene omstandighede op ‘n soektog na herkoms gaan.

Offerlam speel af in Suid-Afrika, België en die Demokratiese Republiek van die Kongo (met terugflitse na die Belgiese Kongo) en die Nederlandse vertaling is in November in Antwerpen en Gent bekendgestel. Offerlam word in Oktober 2016 opgevolg met Offerande.

Books LIVE het met die skrywer gesels oor die temas, karakters en gebeure in haar nuwe roman.

Lees die onderhoud:
 

* * * * * * * *

 
In 140 karakters of minder, waaroor gaan Offerlam?

Dis die storie van Caz; dit is ‘n soeke na herkoms. (89 karakters)

Waar het die inspirasie vir Offerlam vandaan gekom?

Vir my kom inspirasie terwyl ek skryf, dis nie iets wat vooraf gebeur nie. Mens kry verskillende soorte prikkels en uit hierdie prikkels uit begin die storie so half bymekaar kom en dan terwyl jy skryf kom die inspirasie. Jy wag nie vir inspirasie nie, jy sorg dat dit kom terwyl jy skryf.

Waarna verwys die titels van jou tweeluik, Offerlam en Offerande?

Offerlam spesifiek gaan baie oor mense wat deur ander “geoffer” word vir hul eie doeleindes; en dan in Offerande gaan dit weer oor mense wat bereid is om self opofferings te maak ter wille van ander se heil.

Offerlam speel af in Suid-Afrika, België en die Demokratiese Republiek van die Kongo. Hoe het jy jou navorsing aangepak?

Ek het nie veel navorsing oor Suid-Afrika gedoen nie, maar ek moes natuurlik op datum bly met nuusgebeure en so aan. Ek het ‘n maand in België gewoon en net alles geabsorbeer – hoe die Belgiese mense dink, wat hulle eet, wat hulle drink en dan natuurlik die omgewing, hoe dit voel daar. Daar was ‘n klomp plekke wat ek besoek het en elkeen het sy eie gevoel gehad, sy eie atmosfeer, so dit was vir my baie belangrik dat ek daarheen gegaan het.

Toe ek nou terugkom was daar goed wat ek nie besef het wat by die storie gaan uitkom nie en dit moes ek toe doen deur middel van die internet, maar ek het ook vriende daar gemaak wat my baie gehelp het. Ek het vir hulle stukkies gestuur en dan sê hulle “dis reg” of “hier is ‘n ding verkeerd”.

Daar is twee aspekte van die Kongo in die boek: daar is die onafhanklikheidswording van België in 1961 en dis waar die boek begin, en dan een van die karakters Ammie se herinneringe is aan die Belgiese Kongo, so ek moes weet hoe was dit in die Belgiese Kongo ook, en dan nou vir die hedendaagse Kongo het ek suiwer maar op die internet staatgemaak. Oor die Belgiese Kongo het ek geweldig baie boeke gelees – fiksie spesifiek, maar ook nie-fiksie – oor hoe dit was toe. Met die DRK, die hedendaagse Kongo, het ek ook boeke gelees veral oor die rebellegroepe en die probleme wat hulle daarmee het (onder meer The Catastrophist deur Ronan Bennett en Consuming the Congo deur Peter Eichstaedt).

Ek het nie die Kongo besoek nie; ek het bietjie rondgevra en is allerweë afgeraai om self soontoe te gaan, so ek moes maar daar ‘n plan maak. Ek dink die boeke wat ek gelees het, het my geweldig baie gehelp, meer as die internet.

Hoe het dit gevoel om jou boek eerstens na Nederlands te vertaal, en toe boonop in België bekend te stel?

Die vertaling was ‘n baie stywe leerkurwe vir my; my vertaler het net twee maande gehad om die boek te vertaal. Die grootste deel van die tyd het sy in België gesit en vertaal en elke keer as sy ‘n hoofstuk klaar het dan het ek maar kommentaar gelewer. Ek is Nederlands magtig, nie om te praat nie maar ek lees dit; my ma was Nederlands gewees so ek is gewoond daaraan. Toe het sy vir ‘n week na my toe gekom, in my huis gebly, en ons het letterlik elke dag woord vir woord deur daardie vertaling gegaan. Dit het my baie van Afrikaans geleer, ek het byvoorbeeld besef hoe soepel Afrikaans is. Dis ‘n wonderlike belewenis om te sien dat so ‘n jong taal eintlik so ryk kan wees – daar’s byvoorbeeld dinge wat ek in een sin kan sê, het sy twee of drie sinne nodig om dit te sê. Dit was vir my nogal ‘n baie interessante ervaring om so nou saam te werk met die vertaler.

Na ’n week in die verte verlang Caz vreeslik na Suid-Afrika en dit voel tasbaar vir die leser. Was dit vir jou ook moeilik om weg te wees van jou land?

In daardie maand wat ek daar was, die eerste drie weke was vir my hierdie verwondering, maar die laaste week het ek gesukkel, toe wou ek net huis toe kom. ‘n Mens kan nie die gesigte van die mense daar lees nie, hulle gesigte vertaal nie. Jy kan nie die emosie so lekker vertaal nie want dis so anders. En alles is verskriklik gestruktureerd, dit het vir my begin moeilik raak. Dis wonderlik hoe dit werk, dit is regtig ‘n suksesvolle resep om so gestruktureerd te leef, maar ons is nie gewoond daaraan nie en ek het dit begin baie moeilik vind. En dan natuurlik jy verlang na jou eie plek en jou eie huis en na jou geliefdes.

Hoe het jy jou reistog aangepak?

Ek het by ‘n Belgiese vriendin gebly; sy het ‘n vriendin geword omdat sy my boeke begin lees het, en sy’t my ge-e-pos en ons het mekaar leer ken. Toe sy in Suid-Afrika was het ons mekaar ontmoet en sy’t my uitgenooi om by haar te kom bly en dit was meer as ‘n jaar voordat ek gedink het ek gaan eers België toe. Toe ek nou gaan toe sê sy “my aanbod staan nog steeds”.

Ek het verskriklik hulp gekry van mense. Ek was meeste van die tyd op my eie, ek het myle geloop en ek moes aan daardie vervoerstelsel gewoond raak. Ek dink as ek net stoksielalleen was sonder enige kontakte sou dit nog baie moeiliker gewees het. Karien, die persoon by wie ek gebly het, het ‘n hele paar dae afgeneem by die werk en my gery na plekke toe. Dit was vir my baie kosbaar, sonder haar sou ek baie minder geput het uit die hele belewenis. So ek dink daai kontakte was vir my baie belangrik.

Watter voorblad verkies jy, die plaaslike een of Nederlandse een?

Ek dink die Nederlandse een is geweldig treffend, maar vir my weerspieël dit nie heeltemal die storie nie. My gunsteling is die Afrikaanse een en die uitgewers in België weet dit. Hulle stem nie met my saam nie, maar ek het vir hulle gesê ek dink die inhoud weerspieël nie die voorblad nie.

Erevu vermom hom as ’n straatmusikant op ’n stadium. Hoe het jy van sy instrumente, die mvet en donnuharpie, te hore gekom; en hoe klink hulle?

Ek het in die Bosveld gebly vir vyf jaar en wat hier die mvet genoem is was daar by die Vendas ook ‘n instrument. Ek wou uitvind wat word hierdie instrument genoem in die Kongo en toe’t ek maar deur foto’s gaan soek en soek en soek met tradisionele instrumente tot ek dieselfde een gekry het.

Die mvet is ‘n eensnaar-instrument wat dan nou resonansie kry deur, die een wat ek het byvoorbeeld, ‘n kalbas. So dis ‘n redelike eentonige geluid, maar hulle doen eintlik verstommend baie met die snaar deur dit op verskillende plekke te speel en te druk. Ek dink dis ‘n groot kuns om uit so ‘n eenvoudige instrument musiek te haal. Dis nie soos ‘n kitaar waar jy regtig ‘n wysie speel met die instrument nie, dis eintlik begeleiding by die melodie wat die persoon dan nou so praat-sing.

 
Ek het die donnuharpie gekies, dis eintlik nie tipies van die Tetela nie, kyk Erevu is van die Tetela-stam. Die donnuharpie kom van ‘n ander stam af wat baie bekend is daarvoor dat hulle harpies maak. Ek het iets gesoek wat klein genoeg is sodat hy dit in ‘n rugsak kan ronddra en weereens by die tradisionele musiekinstrumente van die Kongo gaan soek op die internet en toe hierop afgekom. Hulle is pragtig, dis verskriklik mooi, en ek het net gedink die beeldhouwerk van die donnuharpie pas nou baie goed by die Nkísi-idee (van geeste, dikwels voorvadergeeste, wat in objekte gehuisves word).

 
Het jou boek ’n klankbaan, of is daar enige spesifieke musiek waarna jy geluister het terwyl jy dit skryf?

Ek luister nie na musiek nie, maar terwyl ek skryf, hoor ek musiek in my kop. Byvoorbeeld “Kinders van Afrika” van Richard van der Westhuizen en Lochner de Kock het die heeltyd in my kop gedraal, en dan was daar Peter Sarstedt se “Africa, Africa, birthplace of man”. Die song se naam is “Hemingway”, maar daai refrein van “Africa, Africa, birthplace of man” het ook die heeltyd deur my kop gegaan. Ismaël Lô se “Jammu Africa” het ek ook so die heeltyd gehoor … So al hierdie Afrika-goed het ek gehoor terwyl ek spesifiek oor Erevu geskryf het. Of wanneer ek skryf van Caz wat hierdie hartklop van Afrika in haar voel en wat ‘n wit, middeljarige, vroulike Afrikaan is, of haar so beskou, het ek hierdie Afrika-musiek gehoor. As sy nou in Gent stap, snaaks genoeg, het ek die heeltyd in my kop die draai-orreltjies-musiek gehoor.

Hoekom?

Ek weet nie, dis asof die plek waaroor ek skryf eintlik sy eie musiek in my kop skep.

Waarmee wil jy lesers laat na hulle hierdie boek neergesit het?

Ek sal graag wil hê dat hulle moet nadink oor Afrikaanwees; ek sal graag wil hê dat hulle dink oor die hele offeridee, met ander woorde dat daar mense is wat bereid is om vir hul eie doeleindes ander mense te offer. Ek sal graag wil hê dat mense verstaan hoe dit voel om eintlik deur die apartheidsera te gegaan het, in moeilike omstandighede, en nou kom jy in die nuwe Suid-Afrika en nou’s die omstandighede omgekeer, maar Caz s’n het eintlik nie beter geraak nie.

Weet ons rêrig hoe wit ons is? Caz is nou ‘n uitsonderlike geval, maar elkeen van ons, dink ek, moet maar mooi gaan dink as ons onsself as suiwer wit wil beskou. Dis die dinge wat ek hoop mense net so bietjie oor gaan nadink.

Die een ding wat ek rêrig die leser mee wil laat, is om te besef daar’s oral parallelle; dinge wat gebeur, gebeur nie net in Suid-Afrika nie. Dieselfde soort goed het gebeur en gebeur steeds in die Kongo; dieselfde soort goed het in België gebeur. Soos byvoorbeeld mense wat uit hulle dorp uitgeskop word omdat die hawe uitgebrei moet word. Wat in die Kongo gebeur het met die onafhanklikheidswording daar het op ‘n ander manier, maar ook baie op dieselfde manier hier gebeur met die transformasie na 1994. So daar’s baie parallelle te trek, nie net tussen Afrika-lande nie, maar ook tussen Afrika-lande en Europese lande.

Wat is die grootste kompliment wat ’n skrywer kan ontvang?

“Ek kon nie die boek neersit nie” en “Voor ek jou boek gelees het, het ek net Engels gelees”.
 

* * * * * * * *

 
Lees ook:

 
Boekbesonderhede

Foto’s met dank aan Pinterest en die National Music Museum


» read article

Leer ken Ronelle Uys, oud-onderwyser, boekwurm en skrywer van Sy liefdesplan

Sy liefdesplanRonelle Uys se debuut-Romanza Sy liefdesplan het vanjaar by LAPA verskyn en vertel die verhaal van ‘n vrou wat haar oorlede ouma se erflating met haar bleeksiel skoolmaat van weleer moet deel. Janneman Malan het egter ontpop in ‘n aantreklike jong man, en wanneer hy in sy deel van die huis in trek, maak hy homself sommer ook tuis in Kate se hart.

Netwerk24 se Clive Pretorius en Romanzalesersblog het met die oud-onderwyseres gesels oor haar boek, stokperdjies, die beste skryfraad wat sy al ooit ontvang het en die boeke wat sy nie kan neersit nie.

Lees die artikels:

Beskryf jouself.

Ek is ’n afgetrede onderwyser en hou my maar besig saam met my man, Koos, op ons plaas, Kapkamma. Ek is ’n wannabe-skrywer en ’n regte boekwurm wat maar net nie genoeg van lees kry nie. As kind het ek enige boek gelees waarop ek my hande kon lê, al was dit nie my ouderdom beskore of toelaatbaar nie.

Wat is die beste raad wat ek oor skryf gekry het? Van wie?

Madelie Human het my bekend gestel aan ’n storiebord. Ek het vandag my boeke waarin ek alles wat ek van my karakters wil weet in prentjievorm plak. Ek is ’n mens wat in prentjies dink. So dit maak vir my sin. Verder skryf ek alles daarin neer en beplan ook my hoofstukke. Dan het Alta Cloete vir my gesê ek moet ophou herskryf en eers my storie op papier kry. Dan kan ek daarna slyp en skaaf tot die storie reg is.

Boekbesonderhede


» read article

“My brein is ’n storiebrein … ek is ’n storiemens” – Irma Joubert gesels oor Immer wes

Irma Joubert

 
Immer wesIrma Joubert-aanhangers het beslis weer rede om fees te vier. Haar jongste roman Immer wes is die eerste in 'n nuwe drieluik - wat sy haar oorlogstrilogie noem - en fokus op die lyding van vroue en kinders in oorloë.

Immer wes is Hildegard se verhaal. As dogtertjie uit die Oos-Pruisiese adel moet sy wegvlug van die Bolsjewistiese opstand, en later as vrou moet sy weer wes vlug, dié keer saam met haar dogtertjie Esther.

Books LIVE het net voor die Woord en Wingerd-viering van Immer wes met die skrywer gesels oor haar nuwe historiese roman.

Lees die onderhoud:

* * * * * * * *

 

In ’n neutedop, waaroor gaan Immer wes?

Immer wes is die eerste van ’n nuwe trilogie – ek noem dit my oorlogstrilogie – en anders as die vorige twee trilogieë gaan dit nie oor die lotgevalle van een familie nie. Dit gaan eintlik oor die universele lot van vroue en veral kinders in oorloë. Dit gaan afspeel in drie verskillende lande; die eerste een is nou in Duitsland, die tweede een in Nederland en die derde een in Engeland.

Immer wes begin in 1905 in Rusland, waar die Russiese adel moes vlug met die Japans-Russiese Oorlog en ook die eerste Bolsjewistiese opstand, en daar reeds kry ons twee hooftemas wat dwarsdeur die boek vloei: Eerstens "immer wes" want hulle moes heeltyd wes trek; die eerste keer net tot in Oos-Pruise waar hulle die Eerste Wêreldoorlog beleef; die tweede keer tot in Berlyn waar hulle die Tweede Wêreldoorlog beleef en uiteindelik na Suidwes-Afrika.

Die tweede tema wat voorkom is Hildegard se vrees vir die Bolsjewiste. Sy word uiteindelik vasgekeer in Berlyn as ’n vrou van 45, met ’n klein dogtertjie, en die Bolsjewiste kom in. As mens lees van die stories oor die Tweede Wêreldoorlog weet ons dat daardie Russiese soldate absoluut verskriklike dade aan die vroue en kinders gedoen het.

Waar kom jou belangstelling in hierdie spesifieke geskiedenis vandaan?

Dit kom uit my laerskooldae toe ek Konsalik se boeke ontdek het, dit was in die vyftigerjare. Dit was vir my absoluut boeiend (my ma het nie geweet ek lees dit nie, ek was die oudste van ses kinders so sy’t nie altyd geweet wat ek doen nie) en kort daarna, toe ek in die hoërskool was, het ’n neef van my ma vir ons kom kuier. Ons ou skoolbus was ’n Bedfordtrok wat hulle omgebou het na die Tweede Wêreldoorlog in ’n bus. Ek het ook maar met die skoolbus skool toe gery en toe kom die neef van my ma kuier en hy sê vir my, “Weet jy dat daardie trok uit die oorlog uit kom?” en toe vertel hy vir my sy storie.

Hy het opgegaan na Oos-Afrika en na Noord-Afrika en hy’s uiteindelik gewond by die Slag van El Alamein. Die boek Anderkant Pontenilo was onder andere Oom Charles Holloway se storie. Daar het ek ewe skielik as baie jong kind besef hierdie stories wat ek van hou is werklikheid. En dis waar my liefde eerstens vir die historiese roman vandaan gekom het, maar spesifiek vir die Tweede Wêreldoorlog. Maar Immer wes het heelwat van die Eerste Wêreldoorlog ook in.

Hoe het jy jou navorsing en die skryfproses aangepak? Hoe weet jy of jy genoeg navorsing gedoen het?

Mens het nooit genoeg navorsing gedoen nie; aan die ander kant doen mens heeltemal te veel navorsing, want op die ou end moet die storie die belangrikste wees, nie die feite nie. Ek is baie geneig om te veel feite in te sit, omdat vir my as liefhebber van geskiedenis is die feite so geweldig interessant. Ek gebruik die feite om die omstandighede te skep sodat die karakters daar binne kan ontwikkel.

Dit begin altyd by mense wat vir my stories vertel. Hierdie storie het ek gekry by Rod Gribnitz wat vir my sy ma se storie vertel het, wat ook in 1905 as klein adelike dogtertjie moes vlug na Oos-Pruise. Hy’t sy hele storie vertel en ek het besef dít is wat ek wil skryf. Maar toe begin ek na ander mense se stories luister en agter in die boek is ’n hele paar mense wat ek daar noem na wie se stories ek geluister het. Terwyl ek in Nederland was, het ek ook met soveel mense gepraat oor hulle ervaring van die oorlog, want of dit nou in Duitsland of in Holland of in Engeland is, of in Frankryk, die vrouens en kinders se ervaring van oorlog en die manier waarop hulle vlug is altyd dieselfde. Dis die vrouens en kinders wat stap met ’n stootkarretjie of ’n babawaentjie só vol gepak; en kinders op sleeptou, en dis hoe hulle gevlug het.

Hoekom skryf jy trilogieë?

Mense wil verskriklik graag nóg weet van daardie karakter, en dis hoekom in hierdie trilogie die karakters mekaar wel ontmoet. Veral in die derde boek gaan die karakters uiteindelik by mekaar uitkom – almal van hulle. Jy sal sien in hierdie eerste boek het Hildegard die hoofkarakter ’n vreeslike oulike dogtertjie, so ’n positiewe klein vrolike mensie, Esther, en sy word een van die hoof-bykarakters in die derde boek. So die derde boek gaan eintlik alles bind.

Ek skryf nie meer as drie boeke nie want teen daardie tyd is ek verveeld met die onderwerp, en dan’t ek nou genoeg van hierdie familie gehad of hierdie mense en dan’s ek weer lus vir iets heeltemal nuuts.

Hoe hou jy al hierdie idees en stories bymekaar in jou kop?

My brein is ’n storiebrein. Jy moet verniet vir my vra om wiskunde te doen, om rekeningkunde te doen! Jy’t gesien hoe’t daai Heyneke Meyer op sy vingers getel, dis min of meer ek. Ek’s nie ’n wetenskaplike persoon nie, ek’s nie ’n vreeslike praktiese persoon nie – ek is ’n storiemens. Stories maak vir my totaal sin; ek kan sien hoe kom die stories bymekaar uit. Dis bitter selde dat daar ’n los draad agterbly wat ek moet gaan haal. As iemand vir my stories vertel dan pas ek dit in my storie in; ek plooi daai werklike ervarings om by my karakters te pas.

Wanneer was jou aha-oomblik toe jy besef het nou is jy ’n skrywer?

Ek dink ek moet dit miskien nog besef! My eerste aha-oomblik was toe Huisgenoot my eerste storie aanvaar, en ek het tien Huisgenote gekoop en vir almal gewys dis my storie. Dit was ’n aha-oomblik. Ek het begin met ligte liefdesverhale – toe LAPA die eerste een publiseer, toe ek daai boekie in my hand het, dit was vir my ’n totale AHA!-oomblik. En toe later toe ek genomineer word vir pryse, of toe RSG vir my vra, mag hulle my boeke voorlees. Dit was alles aha-oomblikke.

Verlede jaar was vir my ook drie vreeslike hoogtepunte. Eerstens is my boek Anderkant Pontenilo aangewys deur die Biblioteekvereniging as een van die top twintig boeke van die afgelope twintig jaar van demokrasie en dit sluit alle Suid-Afrikaanse tale in. Dit was vir my ’n geweldige aha-oomblik, ek kon dit nie glo nie. Tweedens, Kronkelpad het in Nederland die Publieksprys gewen – dit is ’n prys waarvoor die publiek stem. Dis my lesers wat stem, dis die belangrikste. En dan derdens aan die einde van verlede jaar het die Universiteit van Pretoria wat my alma mater is, vir my hulle hoogste erebewystoekenning gegee.

En dan ook verlede jaar was ek saam met skrywers soos Etienne van Heerden, Marita van der Vyver, Sonja Loots en daardie mense op ’n toer deur Nederland vir omtrent tien dae.

Dit was fantasties, absoluut heerlik. Ons het dit so geniet, ons het by party plekke minder lesers gehad, ander plekke geweldig baie lesers. Ons wou hoorders bekeer tot ons vertaalde Afrikaanse boeke. By die Universiteit van Groningen was daar seker maklik 500 mense gewees, dit was heerlik om al die skrywers te leer ken.

 
Hoe betrokke is jy by die vertalingsproses?

Ek’s redelik baie betrokke, nie soveel in Duits nie want hulle vertaal uit Afrikaans uit maar as hulle vashaak gaan hulle na die Nederlands toe. Ek en die Nederlandse vertaler het geweldig baie met mekaar te doen omdat daar dikwels baie Suid-Afrikaanse goed is wat sy nie weet nie; sy is nie ’n Suid-Afrikaner nie, die Duitser is ook nie ’n Suid-Afrikaner nie. Hulle het Afrikaans geleer. Byvoorbeeld as ek nou praat van ’n oulap, wat ’n tiekie was in daardie tyd, dan weet die vertaler nie wat dit is nie. Ek het selfs gesê “dis ’n vreeslike turksvy” – die uitdrukking – sy weet nie wat ’n turksvy is nie, hoe vertaal ek dit in Nederlands? Ek verduidelik vir haar die betekenis en dan doen sy haar eie vertaling.

In Tolbos het ek geweldig baie gebruik gemaak van die alternatiewe Afrikaanse musiek. Afrikaanse mense, veral die geslag wat nou min of meer so tussen veertig en vyfenvyftig is, ken daai musiek geweldig goed. Daardie boek spreek tot hulle, maar in Nederland het dit totaal verby die mense gegaan. Waar ek dit baie goed raakgesien het is spesifiek by Groningen. Ons het gesels oor die probleme van vertaal, en iemand in die gehoor vra toe vir my, hoe voel jy oor hierdie alternatiewe Afrikaanse musiek? Toe sê ek wel, my reaksie op die alternatiewe Afrikaanse musiek is “sit dit af, sit dit af”. En toe lag al die skrywers, want dis ’n Afrikaanse lied, en nie een persoon in die gehoor lag nie. Toe sê ek vir hulle, sien julle watse probleem het ons hier gehad? Daar moes die vertaler en ek baie nou saamwerk.

Hoe weet jy of ’n storie goed is?

Mens weet dit nooit nie. As jy klaar is met ’n storie, veral as jy vir omtrent twee jaar aan ’n storie gewerk het, agtien maande, dan weet jy dis die grootste mislukking wat jy nog ooit geskryf het. Om die waarheid te sê, toe ek die eerste keer moes gaan praat (oor die nuwe boek) toe dog ek nou ja, ek gaan nou maar my bes doen om te praat oor hierdie boek, maar ek weet nie of hy ’n sukses is nie. En daardie eerste aand het mense al vir my gesê, jy moet nooit ophou skryf nie, hierdie boek, ek kon hom nie neersit nie. Nou al hoe jy weet ’n storie is ’n sukses is as mense vir jou sê, “Ek kon nie hierdie boek neersit nie.”

 

* * * * * * * *

 
Lees ook:

 

Boekbesonderhede


» read article

“Dit moet energie hê” – Jaco Jacobs deel vyf eienskappe van ’n goeie jeugboek

“Die Karoo waar ek grootgeword het, is ’n skatkis van stories.”

Só het die geliefde jeugboekskrywer Jaco Jacobs vroeër vanjaar aan Vrouekeur vertel oor waar sy liefde vir stories vandaan kom.

’n Goeie dag vir boomklimHoezit 4: Die wonderwêreld van goggasMoenie die knoppie druk nieOp die punt van my tong: 80 lawwe tongknopersProfessor Fungus en die jelliemonsters van Mars

 
Vrouekeur het tien vrae aan Jacobs gestel oor sy gunsteling skrywer, die boeke wat ‘n indruk op hom as kind gemaak het, die mooiste frase wat hy al ooit gelees het en sy gunsteling storiekarakter.

Jacobs deel ook sy skryfleuse, vyf elemente wat ’n kinder- of tienerboek moet bevat en besin oor die rol wat boeke in jongmense se lewens speel.

Lees die artikel:

6. Wat is jou skryfleuse?

Ek het nie regtig ’n skryfleuse nie, maar as jy my nou sou dwing om een te formuleer, sal dit waarskynlik iets wees soos: Moenie jouself te ernstig opneem nie. Ek is nie mal oor die idee van skrywers as celebrities nie. Skrywers moet stories vertel. Stories is celebrities – dis stories wat die kollig moet steel en die asem wegslaan en die skares vermaak. ’n Skrywer behoort soos Brad Pitt se pa te wees – bloot vaagweg van belang en iewers op die agtergrond.

7. Wat is die vyf elemente wat ’n kinder- of tienerboek moet bevat om suksesvol te wees?

• Dit moet eerlik wees. Kinders weet dadelik as jy probeer “oulik” wees of afpraat na hulle.

• Dit moet in voeling met die teikengroep se leefwêreld wees.

• Daar moet ’n sterk storie wees. Ek glo kinders, nes die meeste volwassenes, lees agter ’n boeiende storie aan.

• Dit moet goed geskryf wees. Ek hou van die aanhaling van Maxim Gorky wat lui: “Jy moet vir kinders skryf op dieselfde manier as wat jy vir grootmense skryf, net beter.”

• Dit moet energie hê – daardie soort knetterende kreatiwiteit wat myns insiens een van die kenmerke van die genre is.

Jacobs se heerlike boek vol tongknopers vir kinders, Op die punt van my tong: 80 lawwe tongknopers, het vanjaar by LAPA verskyn. Loer na ‘n uittreksel:

 
Lees ook:

 

Boekbesonderhede


» read article

Hoe gebeur dit dat ’n broer en suster albei krimi’s skryf? Dibi en Henk Breytenbach vertel (Potgooi)

SaligerKodenaam IcarusDie krimisibbe, Dibi en Henk Breytenbach, was onlangs gaste op RSG se Skrywers en Boeke-program.

Henk se debuut, Kodenaam Icarus, het in Januarie vanjaar by LAPA verskyn, en Dibi se Saliger het kort op sy hakke in Junie gevolg.

Ilse Salzwedel het die skrywers gepols oor die storielyne in hul misdaadverhale, die onderliggende temas en hoe dit gebeur het dat hulle in dieselfde jaar gedebuteer het.

Henk deel mee dat een van sy karakters in een sin in Dibi se boek voorkom maar dat hulle nie sommer oor mekaar se karakters sal skryf nie. Hy vertel meer oor die navorsing wat hy oor die Helderberg-ramp gedoen het. “Almal se reaksie daardie tyd was om dit op terroriste te blameer,” sê hy oor sy spekulatiewe fiksie-roman.

Dibi, wat soos haar protagonis Amalia Abrieu ‘n aanklaer is wat elke dag met seksuele misdade te doen kry, sê dat sekere aspekte van die boek vir haar katarsis was. “Dit was ‘n uitlaatklep, maar die sake kan nie so eindig nie.”

Die gesprek begin om 05:00. Luister na die potgooi:

 
Lees ook:

 

Boekbesonderhede


» read article

Chanette Paul gesels oor haar internasionale deurbraak, Offerlam (Plus: Foto’s uit België)

 
OfferlamChanette Paul se jongste spanningsroman, Offerlam, het pas die rakke getref en neem reeds die wêreld op horings!

Offerlam is Paul se internasionale deurbraak en die skrywer het vroeër hierdie maand na België vertrek waar sy die Nederlandse vertaling daarvan by verskeie geleenthede vrygestel het.

Die roman speel af in Suid-Afrika, België en die destydse Belgiese Kongo (nou die Demokratiese Republiek van die Kongo). Die storie handel oor Caz Colijn, ‘n vertaler wat haar lappie Afrika in die Overberg verlaat om die legkaartstukke van haar herkoms op te spoor.

 
Romanzalesersblog het ‘n onderhoud met Paul gevoer oor haar nuwe boek, die moeilikste aspekte van die skryfproses en die prikkels wat uiteindelik aan Caz Colijn vorm gegee het. “Eintlik was daar ’n hele rits ‘sê nou net…’-vrae wat van Caz gemaak het wat sy is,” vertel die skrywer.

Lees die artikel:

Wat was die moeilikste aspek vir die skryf van hierdie boek, en hoekom?

In die maand wat ek in België deurgebring het, het ek nie geskryf nie – net geabsorbeer. Toe ek wel begin skryf, moes ek my die heeltyd probeer indink hoe België voel, hoe die mense daar is, hoe die Belgiese karakters in my boek Suid-Afrikaners sal sien, ook hoe hulle belewing van die wêreld is en ʼn magdom ander dinge.

Dit was vir my ook baie moeilik om my in Caz se situasie in te dink. Hoe dit sou voel om op byna drie en vyftig uit te vind wat sy uitvind, oorkom wat sy oorkom. Of om ʼn dogter soos Lilah te hê. Offerlam gaan in ʼn groot mate oor moederskap en vir my wat kinderloos is, het dit nogal baie geverg om in goeie en slegte ma’s se koppe en harte te probeer klim.

Die navorsing, veral oor die Kongo in verskillende eras, was ook ʼn omvangryke taak en wou my soms onderkry.

Loer na die Offerlam – Thriller-Facebookblad vir foto’s van Paul se Belgiese boektoer. Die skrywer was onder meer by die Antwerpse Boekebeurs en in Gent waar sy die bekende Vlaamse krimiskrywer Pieter Aspe ontmoet het en Kriekbier gedrink het (lees die boek om uit te vind waar dié drankie in pas).

Loer na die foto’s:

 
Die skrywer het ook foto’s op haar blog gedeel van die plekke in Gent waar Caz Colijn haarself bevind. Geniet die visuele toer van die strate en stegies wat die tonele in Offerlam geïnspireer het:

 

Lees ook ‘n artikel oor Offerlam se Nederlandse vertaler, Elke van den Bergh:

 

Boekbesonderhede


» read article

“Wat is fiksie in elk geval?” – Frans van Rensburg gesels oor sy seldsame siekte en volgende roman

LammervangerFrans van Rensburg se debuutroman, Lammervanger, het in 2009 by LAPA verskyn en vertel die verhaal van Johannes van Staden, ‘n tienerseun wat sy bes probeer om armoede te oorkom. Van Rensburg is ook die skrywer van ‘n drama genaamd Tsotsi-Evangelie.

Cyril Blackburn het onlangs met die skrywer gesels oor die seldsame siekte waarmee hy die afgelope 10 maande worstel en sy geloof wat hom deur die donkerste tye gedra het.

Van Rensburg vertel dat hy beplan om sy nagmerrie in iets goeds te omskep deur ‘n roman daaroor te skryf.

Lees die artikel:

Die ervaring was nie net negatief nie. Ná die groot sukses van sy debuutroman Lammervanger het hy reeds begin beplan aan twee nuwe boeke. “Ek gaan die hele proses van my hospitalisering tot my diagnose in ’n roman omskep. Ek het reeds begin met navorsing daarvoor en is baie opgewonde,” sê hy.

Dié boek gaan nes sy ander boeke opreg en waar wees. Hy grinnik. “Want wat is fiksie in elk geval? Alles is op die ou end geskoei op die waarheid. My boeke bevat almal ’n groot mate van waarheid,” merk hy op. “Ek hou egter nie daarvan om vir mense te vertel hoeveel waarheid in ’n storie is nie. ’n Boek is soos ’n kunswerk – jy moet die leser toe te laat om daarvan te vat wat hy wil,” sê hy.

Boekbesonderhede


» read article

Leer ken die skrywers van Die Suid-Afrikaanse vis- en seekoskookboek (Plus: Vier smullekker resepte)

Die Suid-Afrikaanse vis- en seekoskookboekSouth African Fish and Seafood CookbookIs jy mal oor seekos, maar skrikkerig vir al die fêncy voorbereidingsmetodes? Dan is Die Suid-Afrikaanse vis- en seekoskookboek deur Susina Jooste en Henk Stander net die boek vir jou!

Die Suid-Afrikaanse vis- en seekoskookboek het vanjaar by LAPA verskyn en is ook beskikbaar in Engels as South African Fish and Seafood Cookbook. Die skrywers het vroeër vanjaar hul boek tydens ‘n spoggeleentheid in Stellenbosch bekendgestel.

Jooste is die direkteur van The Private Hotel School in Stellenbosch en Stander is die Bestuurder van die Akwakultuureenheid by die Universiteit Stellenbosch. Saam het hulle ‘n kookboek geskep wat vir ewig die vrees uit die voorbereiding van vis sal haal.

Vrouekeur het met Jooste gesels oor haar dertigjaarlange loopbaan in die kosbedryf, waar haar belangstelling in seekos vandaan kom en die lekkerste seekosmaal wat sy nog geniet het. Jooste deel ook die kosreuk wat haar aan haar oupa en ouma laat dink, gunsteling kookboek en grootste kombuisflater.

Lees die artikel:

Waar kom jou belangstelling in seekos vandaan?

Ek dink dit gaan terug na my kinder-somervakansies aan die weskus van Namibië (toe nog Suidwes) en die galjoene/kabeljoue wat ons elke aand gebraai het. Ook, ek het ’n paar jaar gelede bewustelik gesonder begin eet, en ook meer sensitief geraak vir ’n volhoubare omgewing en voedselbronne. Toe Henk Stander (medeskrywer) my vyf jaar gelede genader het om saam met hom aan hierdie projek te werk, het my belangstelling verder toegeneem; en daarna was ek aan die hoek!

Kom jy gereeld mense teë wat te bang is om seekos te berei?

Ek dink “bang” is dalk nie heeltemal die regte woord nie, maar beslis “onseker”. Ek maak altyd ’n punt daarvan om te vertoef by die vars seekostoonbanke in supermarkte en hou mense dop wat koop en luister na die vrae wat hulle aan die persoon agter die toonbank vra: die meeste mense wil baie graag meer weet, maar is huiwerig om geld te bestee en is dan nie heeltemal seker oor hoe om dit voor te berei nie.

Stander het vyf jaar gelede die idee gekry om ‘n seekosboek te skryf en Jooste het dadelik ingestem om deel te wees van die projek. Engela Duvenage het by Stander gekuier om meer uit te vind oor sy aandeel in die boek, sy belangstelling in die ontwikkeling van akwakultuur in Suid-Afrika en sy gunsteling resep in Die Suid-Afrikaanse vis- en seekoskookboek.

Lees die artikel:

Jooste was grootliks verantwoordelik vir die keuse van resepte en die voorbereidingswenke. “Vis en seekos moet vars wees, en hoe minder jy karring aan goeie kwaliteit vis, hoe beter,” gee Jooste raad.

Stander weer het die leeueaandeel gehad in die skryf van ‘n afdeling oor die ontwikkeling van akwakultuur in Suid-Afrika, en hoe dit die volhoubare benutting van see- en varswaterbronne bevorder.

“My gunstelingresep is een waarin krap met kerrie en klapper voorberei word,” verklap Stander, wat onder meer ondervoorsitter is van die Wes-Kaapse Forelprodusentevereniging en dien op die bestuur van die Suider-Afrikaanse Akwakultuur Assosiasie.

* * * * * * * *

 
Wat is ‘n goeie kookboek sonder ‘n paar resepte? Landbou en Maroela Media het aanwysings vir heerlike disse gedeel uit Die Suid-Afrikaanse vis- en seekoskookboek.

Probeer die resep vir gesoute snoekpoffertjies:

Pataniscas, soos wat dit in Portugal bekend is, se oorsprong lê glo in dié land se Algarvestreek. Daar is verskeie variasies van hierdie gereg en dit kan na wense verander word, byvoorbeeld deur kabeljou pleks van gesoute snoek te gebruik.

- 250 g gesoute snoek
- 50 ml melk
- Vars uitgedrukte suurlemoensap
- 45 ml koekmeel

Probeer die resep vir gebraaide soet brandrissie-steurgarnale:

Jy benodig:

‘n Paar houtsosatiestokkies

Bestanddele

- 12 tiersteurgarnale, ontaar, maar behou die kop en stert
- sout en peper na smaak
- 50 ml soet brandrissiesous

Probeer die resep vir soesji:

Bestanddele

- 200 g soesji-reis
- 450 ml koue water
- 50 ml rysasyn50 ml versiersuiker
50 ml gepekelde gemmer, fyngekap

Probeer die resep vir risotto:

Bestanddele

- 25 g botter
- 25 ml olyfolie
- 1 groot ui, fyngekap
- 150 g Arborio-rys
- 60 ml droë witwyn
- 1 liter warm visaftreksel

Boekbesonderhede


» read article

What Happens to Babies Born in Prison? Carla van der Spuy Explains

Blood on Her HandsBloed op haar handeIn her latest book, Blood on Her Hands: Women Behind Bars, Carla van der Spuy asks pertinent questions about women’s experiences in jail:

What drives women to commit murder? What does it feel like to share a cell with murderers? What is the worst part of spending time behind bars?

Sameer Naik interviewed Van der Spuy about one of the controversial issues she touches on in her book, that of babies born behind bars.

The author visited the Johannesburg Prison to do research for her book, which is also available in Afrikaans as Bloed op haar hande: Vroue agter tralies. Here she discovered that there were 27 babies living with their mothers, but she also found that conditions for toddlers are much better than before.

Read the article:

During the visit, Van der Spuy sat down with several woman inmates who had babies living with them in the prison.

She was also given a tour of the women’s wing of the facility by staff members.

The new unit, she discovered, was run by woman inmates.

“To be honest I was blown away by the facilities for female inmates and their babies,” Van der Spuy told Saturday Star.

“That section is so clean and neat. You could definitely mistake it for a normal day care centre.

 
Also read:

 

Book details


» read article