Sunday Times Books LIVE Community Sign up

Login to Sunday Times Books LIVE

Forgotten password?

Forgotten your password?

Enter your username or email address and we'll send you reset instructions

Sunday Times Books LIVE

LAPA Uitgewers

@ Sunday Times Books LIVE

Archive for the ‘International’ Category

Chanette Paul nou internasionaal met haar jongste spanningsroman, Offerlam (Plus: Video)

Chanette Paul

 
OfferlamChanette Paul se internasionale deurbraak het gebeur.

Sy vertrek eersdaags om die Nederlandse vertaling van Offerlam, wat in dieselfde maand as die Afrikaanse vertaling verskyn, in België te gaan bekendstel.

Offerlam speel in Suid-Afrika, die destydse Belgiese Kongo (nou die DRK) en in België af.

Verwerp deur haar man en skoonfamilie asook deur haar eie familie – juis toe sy hulle die nodigste gehad het – was dit vir Caz Colijn nie maklik om haar uitsonderlike dogter groot te kry nie.

Nou is Lilah egter ʼn suksesvolle internasionale model en kan Caz uiteindelik haar lewe lei soos sy wil – in afsondering op haar eie lappie Afrika in die Overberg. Hier het sy vir haar ’n skuiling teen die lewe geskep waar sy haar vertaalwerk kan doen en uitsien na Lilah se jaarlikse besoeke.

’n Oproep van haar vervreemde suster, Tieneke, keer Caz se rustige lewe eensklaps op sy kop. Josefien Colijn, die vrou wat Caz haar lewe lank as haar ma geken het, is op sterwe. As Caz wil weet wie haar biologiese ouers is, moet sy Gent toe kom voor Josefien sterf.

Hierdie oproep maak ’n tonnel na die verlede oop: na haar jeug onder Josefien se meedoënlose duim; na herinneringe aan haar kortstondige huwelik; na die nag waarop Lilah gebore is.

’n Inbraak beklink die saak. Caz gaan Gent toe. Deels om weg te kom van die misdaadmekka wat Suid-Afrika geword het, deels om uit te vind waarom sy deur haar biologiese moeder weggegee is en deels om Lilah te siene te kry.

Aanvanklik is Caz salig onbewus van die mense wat elke beweging wat sy maak, monitor. Geleidelik begin dit egter by haar insink: die twee Kongolese wat so gereeld oor haar pad kom, is dringend op soek na iets waarheen hulle glo sy hulle kan lei; en hulle stuit nie vir moord nie.

Die legkaartstukke van Caz se herkoms begin stadig in mekaar pas. Die waarheid het egter vele fasette, veral gesien deur die oë van ’n bejaarde vrou wat sukkel om hede en verlede uitmekaar te hou, en onthou en vergeet soos haar verkalkte are dit toelaat, of nie.

Intussen span die net wat die Kongolese oor Caz gooi, al stywer …

Die Nederlandse vertaling van Offerlam word ook op 10 November by die Antwerpse Boekebeurs bekendgestel en die stad Gent het Chanette genooi om die boek daar bekend te stel op 15 November 2015.

Offerlam is Paul se een en veertigste boek, maar verteenwoordig ’n nuwe begin vir haar oorsee.

Paul is steeds geliefd onder Suid-Afrikaanse lesers. Haar boeke haal verskeie kere finalisstatus vir pryse en sy word drie agtereenvolgende jare aangewys as die wenner van die Lekkerlit Boek van die Jaar-prys, naamlik in 2012 met Maanschijnbaai: Jo & Sue, 2013 Siende Blind en 2014 Ewebeeld. Ewebeeld wen ook in 2015 die ATKV-Woordveertjie in die liefdesromankategorie.
 

* * * * * * * *

 
Voorsmaak: Kyk na die Belgiese voorskou van Offerlam – “thriller van formaat”:

 

 
Maar wat kan die leser verwag?

Soos gewoonlik hanteer Chanette donker temas met soveel deernis dat ’n mens wil voortlees, al word jy as leser diep getref. Wilna Adriaanse sê by die eerste lees van die manuskrip aan Chanette: “Jy het nog nooit geskrik om moeilike, en selfs kontroversiële, temas aan te pak nie. Hierdie manuskrip is net weer ’n bewys daarvan.”

Offerlam is internasionaal in baie opsigte en gee die leser ’n interessante blik op die Belgiese kultuur, soos hulle liefde vir die dieprooi kriekbier, hulle huise, hulle leefwyse en hulle effens verwarrende, maar tog so stiptelike, vervoelstelsels. Tog weet ons die hele tyd dat ons hand aan hand loop met ’n Suid-Afrikaner.

Adriaanse het oor Offerlam gesê dit is ’n “uitsonderlike en gutsy verhaal. As dit die soort inspirasie is wat kriekbier gee, vertrek ek nog vanaand België toe.”

Op ’n ernstiger noot, sê Adriaanse Offerlam “slaag ook daarin om die verskillende karakters se stemme baie outentiek oor te dra: Die Europeërs met hulle effe gereserveerdheid; die Afrikane wat aan die een kant ’n Europese opvoeding het, maar steeds met ’n Afrikastem praat; Caz wat wissel tussen Afrikaans-Holland/Vlaams en Afrikaans, ’n mens kan werklik hoor hoe sy met die Europeërs ’n meer formele manier van praat het, maar haar gedagtes is puur Afrikaans en aards. Heerlik.”

Boekbesonderhede


» read article

Benny Lindelauf in SA saam met LAPA-skrywers Jaco Jacobs, Eldridge Jason, Nanette van Rooyen en Fanie Viljoen

Die Nederlandse outeur Benny Lindelauf is tans in Suid-Afrika en het verlede week saam met Nanette van Rooyen, Eldridge Jason, Jaco Jacobs en Fanie Viljoen drie kreatiewe werkswinkels aangebied. Izak de Vries het foto’s van die geleenthede op LitNet gedeel. Eureka Barnard, hoof van SASNEV, Die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Nederland en Vlaandere wat Lindelauf na Suid-Afrika toe genooi het, het ook die werkswinkels bygewoon en ook gehelp om foto’s te neem.

Die hemel van HeivisjNege oop armsGerookEk was hierUitZackie Mostert en die baie beroemde hond

 
Lindelauf en Van Rooyen was Maandag, 20 Oktober 2014 in Kaapstad waar hulle met skoliere gesels het. Professor Dorothea van Zyl, wat deel is van SASNEV, het die geleentheid bygewoon.

Loer na die foto’s:

Jason het Dinsdag, 21 Oktober by Lindelauf en Van Rooyen aangesluit vir ’n poësiewerkswinkel waartydens deelnemers met woorde getoor het.

Loer na die foto’s:

Lindelauf het op Vrydag, 24 Oktober die Kaap verruil vir Bloemfontein waar hy saam met Viljoen en Jacobs ’n kreatiwiteitsfees by die Hoërskool Sand du Plessis aangebied het. Die skrywers het die kinders gehelp om hul eie stories te skryf:

Boekbesonderhede


» read article

Benny Lindelauf in Suid-Afrika saam met ’n groot aantal LAPA-skrywers

 
Benny Lindelauf (regs) is ’n Nederlandse outeur wat tans deur die land toer op uitnodiging van SASNEV, die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Nederland en Vlaandere. Saam met hom op die foto is Eureka Barnard, die hoof van SASNEV.

Nege oop armsDie hemel van HeivisjEk was hierGerookIewers vlieg daar fairy dustUitZackie Mostert en die baie beroemde hond

 
Lindelauf tree Maandag (20 Oktober) en Dinsdag (die 21ste) in Kaapstad op saam met Nanette van Rooyen. Dinsdag sluit Eldridge Jason ook by hulle aan. Maandag se sessies sal grootliks gemik wees op inligtingoordrag, terwyl hulle Dinsdag ’n kort, kreatiewe werkswinkel sal aanbied vir skoliere.

Vrydag die 24ste Oktober gee Lindelauf weer ’n werkswinkel om skeppende skryfwerk en leeslus onder skoliere aan te moedig. Hy doen dit saam met Fanie Viljoen en Jaco Jacobs in Bloemfontein.

Maandag 27 Oktober sal Lindelauf optree saam met Lisa Day, Marisa Haasbroek, Alet Steenkamp, Nerine Ahlers en Ilse Salzwedel by die Waverley Biblioteek. Die sessie is oop vir die publiek en begin om 10:00.

Op Vrydag 31 Oktober bied Lindelauf weer ’n werkswinkel oor skeppende skryfwerk aan, dié keer in Port Elizabeth saam met Heila Theron. Dit vind plaas by Grey Kollege en is ook oop vir die publiek.

Belangstellendes kan vir Pieter Rademeyer van Grey Kollege skakel. Mense van alle ouderdomme is welkom.

Daniel Hugo het reeds twee van Benny Lindelaauf se boeke, Die hemel van Heivisj en Nege oop arms in Afrikaans vertaal.

* * * * * * * * *

Die outeur het ’n beperkte kapasiteit vir onderhoude, kontak gerus vir Izak de Vries om ’n onderhoud te reël.

Boekbesonderhede


» read article

Videos: Gewilde Vlaamse skrywer Pieter Aspe word 60 en gesels oor sy jongste boek

Die kinders van ChronosVlaamse misdaadfiksieskrywer Pieter Aspe, wie se gewilde boeke ook deur Lapa in Afrikaans uitgegee is, het onlangs 60 geword en die hele Nederland en Vlaandere het saam fees gevier.

Tydens ’n verjaarsdag-onderhoud met die aanbieders van die geselsprogram Café Corsari vertel Aspe onder andere waar die titel van sy jongste roman, Het Laaste Bevel, vandaan kom.

Klik hier vir die TV-onderhoud met Pieter Aspe

Van Aspe se vriende in die kuns- en vermaaklikheidsbedryf het met Standaard Uitgeverij saamgespan om ’n spesiale video te maak waarin hulle hom met sy verjaarsdag gelukwens.

YouTube Preview Image

Boekbesonderhede


» read article

Pieter Aspe is terug met die derde Van In-misdaadverhaal, Die kinders van Chronos

Die kinders van ChronosNuut van LAPA Uitgewers: Die kinders van Chronos deur Pieter Aspe

Van In is terug! Hierdie keer het hy net ’n skeenbeen en sy intuïsie om die donker raaisel mee op te los, maar hy moet gou speel. Dis nie net sy loopbaan wat op die spel is nie, ’n mooi jong meisie is deur sy toedoen in die booswigte se mag.

Oor die outeur

Pieter Aspe is die gewildste misdaadskrywer in Vlaandere en Nederland. Die kinders van Chronos is die derde boek van die indrukwekkende en spannende reeks Pieter van In-misdaadverhale wat ook verwerk is tot ’n televisiereeks. Die vierkant van die wraak was die eerste in die reeks. Aspe het al meer as 1,5 miljoen boeke in België en Nederland verkoop.

Oor die vertaler

Daniel Hugo is ’n baie bekende digter wat ’n gevestigde aanhang het. Hy lewer gereeld kritiese werk, veral oor die poësie, en is ’n gerekende vertaler van werk uit Nederlands en Vlaams.

Boekbesonderhede


» read article

Vyf splinternuwe prenteboeke om jou kleinding te vermaak dié jaar

Babadiere

 
BabadiereMaak kennis met jou gunsteling-dierebabas. Het jy al ooit met ’n leeuwelpie gespeel? Of ’n babakrokodil van naby gesien? In hierdie fantastiese boek kan jy jou gunsteling-babadiere ontmoet – lewensgroot! Van oulike katjies tot spelerige hondjies tot baba-sjimpansees en grootoog-uiltjies – watter in jou gunstelinge?

’n Fassinerende bekendstelling aan babadiere – groot en klein. Treffende foto’s wys hoe groot babadiere werklik is. Uitvoubladsye wys groter diere se ware grootte.

* * * * * * * *
My groot sprokiesboek met plakkers

 
My groot sprokiesboek met plakkersVier wonderlike sprokies in een reuse-boek!

Pas die prentjies en plakkers bymekaar en voltooi self die pragtige stories. Die ekstra plakkers kan gebruik word om jou eie tonele en stories te skep!

Meer as 300 plakkers en uitdrukprente.

Die stories is Aspoestertjie; Skoonlief en die Ondier; Sneeuwitjie en Doringrosie.

* * * * * * * *
Tom en Tessa se groot skattejag

 
Tom en Tessa se groot skattejagTom en Tessa vertrek op ’n skattejag – van die besige strand tot die woelige dorp tot die bedrywige speelgrond.

Al hul vriende sluit by hulle aan om te deel in die pret. Daar is hope dinge om te soek, soos verskillende kleure, getalle en vorms – en die leser word aangemoedig om saam te soek!

 

* * * * * * * *
Trek en ontdek: Op die plaas

 
Trek en ontdekLoer deur die venstertjies en ontdek ’n plaaswerf vol helder kleure.

Leer ken verskillende kleure op elke bladsy – en trek die skuiwer vir ’n versteekte verrassing!

 
 
 

* * * * * * * *
Trek en ontdek: In die woud

Trek en ontdekLoer deur die venstertjies en soek al die strepe en kolle in die woud! Ontdek verskillende patrone op elke bladsy – en trek die skuiwer vir ’n versteekte verrassing!

Oor die vertaler

Jaco Jacobs het op Carnarvon grootgeword en woon deesdae in Bloemfontein. Daar het reeds meer as 30 kinder- en jeugboeke uit sy pen verskyn. Hy is reeds drie keer met die ATKV-kinderboektoekenning bekroon. Sy boek, Suurlemoen, is ook pas deur die Suid-Afrikaanse been van IBBY (The International Board on Books for Young People) aangewys as ereboek in die kategorie Afrikaans. Verdere toekennings sluit in die Alba Bouwer-prys en die CP Hoogenhout-medalje vir sy bundel rympies Wurms met tamatiesous.

Boekbesonderhede


» read article

Boeke-oggend in Pretoria met Ingrid vander Veken, Deborah Steinmair, Japie Bogaards en Radloff-susters

Uitnodiging: LAPA-Leeskringseminaar in Pretoria

 
LAPA se Leeskringseminaar maak nie net vanjaar ‘n Kaapse draai nie; ‘n lekker boekkuier met ‘n Vlaamse invloed word ook vir Pretoria beplan!

Lesers kan op 23 Augustus om 08:30 by Angel’s Place Boutique Hotel kom luister na ‘n gesprek met die Vlaamse skrywer Ingrid vander Veken, oor haar boeke Papawers en Sam: ‘n Ware verhaal van ‘n dogtertjie en haar olifant wat in Afrikaans vertaal is. Maritha Snyman sal tydens die geleentheid met haar in gesprek tree.

PapawersSam: \'n Ware verhaal van \'n dogtertjie en haar olifantPoppekasEen stad, drie rooikoppe, sewe daeTussen middernag en dagbreek

Deborah Steinmair (Poppekas), Japie Bogaards (Tussen middernag en dagbreek) en Lili en Adeline Radloff (Een stad, drie rooikoppe, sewe dae) sal ook aan die woord gestel word.

Kaartjies kos slegs R140 per persoon en sluit ‘n noenontbyt en ‘n geskenkbewys van LAPA in.

Dit is noodsaaklik om teen 13 Augustus te bespreek. Moet dit nie misloop nie!

Besonderhede van die boeke-oggend:

  • Datum: Donderdag, 23 Augustus 2012
  • Tyd: 8:30 vm tot 1:00 nm
  • Plek: Angel’s Place Boutique Hotel,
    Rubensteinstraat 610,
    Moreleta Park,
    Pretoria | Padkaart
  • Sprekers: Ingrid vander Veken, Maritha Snyman, Deborah Steinmair, Japie Bogaards, Lili Radloff en Adeline Radloff
  • Koste: R140 per persoon, sluit noenontbyt en geskenkbewys van LAPA in
  • RSVP: Teen 13 Augustus by Samantha Buitendach,
    012 401 0700, samantha@lapa.co.za

Boekbesonderhede


» read article

LAPA bied leeskringseminaar met Ingrid vander Veken, Antjie Krog, Irma Joubert en Chanette Paul aan

Uitnodiging: LAPA-Leeskringseminaar 2012 in Kaapstad

 
Ná die sukses van verlede jaar se LAPA-leeskringseminaar, bied ons vanjaar nog ‘n lekker boekkuier met ‘n Vlaamse invloed aan!

Op Dinsdag 21 Augustus om 09:30 sal die Vlaamse skrywer Ingrid vander Veken oor haar boek Sam: ‘n Ware verhaal van ‘n dogtertjie en haar olifant by die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Nederlands en Vlaandere (SASNEV) gesels. Antjie Krog, wat die boek in Afrikaans vertaal het, sal met haar in gesprek tree en Nanette van Rooyen sal die gesprek lei.

Sam: \'n Ware verhaal van \'n dogtertjie en haar olifantTussen stasiesVer wink die SuiderkruisVerbode DrifMaanschijnbaai: Jo en SueEk was hier

Voorts sal Irma Joubert oor die Nederlandse vertalings van haar boeke gesels en Chanette Paul sal haar Maanschijnbaai-tweeluik bekendstel.

Kaartjies kos slegs R125 per persoon en sluit ‘n Kaaps-Maleise ontbyt, ‘n R50-geskenkbewys van LAPA en afslag van 35% op LAPA se nuutste boeke in. Dit is noodsaaklik op teen 10 Augustus vir die geleentheid te bespreek. Moet dit nie misloop nie!

Besonderhede van die leeskringseminaar:

  • Datum: Dinsdag, 21 Augustus 2012
  • Tyd: 9:30 vm vir 10:00 vm
  • Plek: SASNEV,
    Sentraalplein 4,
    Pinelands | Padkaart
  • Koste: R125 per persoon, sluit ‘n Kaaps-Maleise ontbyt, ‘n R50-geskenkbewys van LAPA en afslag van 35% op LAPA se nuutste boeke in.
  • RSVP: Teen 10 Augustus by elzebet@lapa.co.za; 021 914 0936

 
Boekbesonderhede


» read article