Jaco Jacobs benoem vir Carnegie-medalje
LAPA Uitgewers kondig met trots aan dat die Engelse vertaling van Jaco Jacobs se bekroonde jeugroman ’n Goeie dag vir boomklim pas benoem is vir die Carnegie-medalje, Brittanje se oudste en mees prestigeryke literêre prys vir kinderboeke.
A Good Day for Climbing Trees is vroeër vanjaar deur Rock the Boat, ’n druknaam van Oneworld Publications, wêreldwyd gepubliseer. Italiaanse vertaalregte is ook intussen verkoop.
Die Carnegie-medalje word al sedert 1936 jaarliks deur die Chartered Institute of Library and Information Professionals (CILIP) toegeken. Vorige wenners sluit wêreldbekende skrywers soos C.S. Lewis, Neil Gaiman, Terry Pratchett, Sharon Creech en Philip Pullman in.
“In die kinderboekbedryf is die Carnegie-medalje een van die héél grotes,” sê Jaco. “Bloot om net daarvoor benoem te word, is vir my ’n byna ondenkbare groot eer. Ek kan nie genoeg dankie sê vir my uitgewer by LAPA en my oorsese uitgewer, Oneworld, wat so hard gewerk het om die boek die wêreld in te stuur nie.”
Miemie du Plessis, tans aan die stuur van produkontwikkeling by LAPA, is minder skalks. Háár opmerking aan kollegas was: “Ek het soos ’n tiener tekere gegaan wat die Beatles in lewende lywe gesien het toe ek die nuus gehoor het. Die Carnegie Medal is ENORM, net so Brits en enorm soos die Beatles.” Du Plessis was Jacobs se uitgewer toe die boek verskyn het.
’n Goeie dag vir boomklim is die verhaal van Marnus, ’n gefrustreerde middelkind, wat hom een Desembervakansie laat ompraat om saam met ’n meisie in ’n boom te klim om te probeer keer dat die plaaslike owerheid dit afsaag.
’n Goeie dag vir boomklim was in 2016 die wenner van die kykNET/Rapport-prys se filmkategorie, en was een van die wenners van die internasionale In Other Words-vertaalprojek. Filmregte vir die boek is sedertdien aan M-Net toegeken.
In Oktober vanjaar het nog een van Jaco se boeke, Oor ’n motorfiets, ’n zombiefliek en lang getalle wat deur elf gedeel kan word, oorsee verskyn as A Good Night for Shooting Zombies.
Boekbesonderhede
- ’n Goeie dag vir boomklim deur Jaco Jacobs
EAN: 9780799373967
Spoor hierdie boeke met BOOK Finder op!
- A Good Day for Climbing Trees, vertaal deur Kobus Geldenhuys
EAN: 9781786073174
Spoor hierdie boek met BOOK Finder op!
Please register or log in to comment