Sunday Times Books LIVE Community Sign up

Login to Sunday Times Books LIVE

Forgotten password?

Forgotten your password?

Enter your username or email address and we'll send you reset instructions

Sunday Times Books LIVE

LAPA Uitgewers

@ Sunday Times Books LIVE

Jan Vermeulen nou ook internasionaal bekroon

Die bekroonde skrywer Jan Vermeulen se jeugroman Asem is pas deur IBBY (International Board on Books for Young People) as ereboek in die kategorie vir Afrikaanse jeugliteratuur aangewys, wat beteken Asem sal deel vorm van die internasionale erelyskatalogus wat tweejaarliks deur dié gesaghebbende kinderboekliggaam saamgestel word.

Vermeulen is tans besig om op alle fronte naam te maak.

Asem is as wenner van LAPA Uitgewers se jeugromankompetisie vir 2015 aangewys.
• Teen die einde van 2017 het hy silwer gewen in NB se jeugromankompetisie met Soen.
• Verlede week het ons aangekondig dat Vermeulen ook LAPA Uitgewers se jeugromankompetisie vir 2017 gewen het met Oopmond.
• Oor ongeveer drie weke verskyn Vermeulen se krimi vir volwasse lesers, Die vyfde Aspoester, ook by LAPA Uitgewers.

Van die belangrikste oorwegings wanneer die IBBY-erelys saamgestel word, is dat die boeke op die lys die beste van elke land se kinderliteratuur moet verteenwoordig, en dat dit geskik moet wees vir publikasie regoor die wêreld.

Die boeke op die lys vorm deel van rondreisende uitstallings wat by verskeie internasionale konferensies en literêre feeste te sien sal wees, en sal ook deel vorm van die permanente uitstallings van byvoorbeeld die Internasionale Jeugbiblioteek in München, Duitsland.

Asem vertel die verhaal van Barries Barnard wat by sy vervreemde pa in die Oos-Kaap moet gaan bly ná ’n ongeluk waarin hy en sy vriende onder die invloed van drank en dwelms ’n verkeerskonstabel omry.

Vermeulen sê hy kry gereeld positiewe terugvoering van lesers oor Asem, en die insluiting op die erelys is vir hom ’n groot aansporing.

“Ek is veral baie opgewonde oor die moontlikheid dat Asem tieners en jong mense in ander wêrelddele ook kan bereik en vir hulle dieselfde kan beteken as vir ons eie tieners hier in Suid Afrika.”

Toe Asem as wenner van LAPA Uitgewers se jeugromankompetisie vir 2015 aangewys is, het die beoordelaars dit beskryf as ’n aangrypende, eerlike grootwordverhaal oor verslawing en tweede kanse.

Miemie du Plessis, uitgewer: kinder- en jeugboeke van LAPA Uitgewers, sê Asem is werklik ’n unieke storie wat dié uitsonderlike eer dubbel en dwars verdien. “Daar was nog nooit so iets in Afrikaans nie – ’n boek wat die impak van ’n afwesige pa so brutaal eerlik aanspreek. En omdat dit so ’n wydverspreide probleem in Suid-Afrika is, is die boek honderd persent in die kol wat die tema en die uitvoering daarvan betref. Boonop is die storie en karakters behoorlik ontwikkel, en die leser kan nie anders as om ingetrek te word by Barries en sy wêreld nie.”

Boekbesonderhede

 

Please register or log in to comment