Sunday Times Books LIVE Community Sign up

Login to Sunday Times Books LIVE

Forgotten password?

Forgotten your password?

Enter your username or email address and we'll send you reset instructions

Sunday Times Books LIVE

LAPA Uitgewers

@ Sunday Times Books LIVE

Lees vandeesmaand dié twee aktuele romans wat tot vandag se werklikhede spreek

Drie vroue en ’n meisie
Hans du Plessis

“Ek het vir prof ’n storie om te skryf.” Só begin Drie vroue en ’n meisie toe die mooie Katryn een middag ná klas ongenooid voor die skryfkunsprofessor se lessenaar kom staan.

Wat volg is soms lig en sexy, maar dié roman belig te gelyke tyd die afgryslike armoede van wit en swart Suid-Afrikaners, asook die klasbeheptheid van die vroeë Afrikanerelite.

Hans du Plessis het die vermoë om die leser te tart met heerlik speelse inligting, net om jou daarna weer bloot te stel aan die ellende van hulle wat nie het nie.

Ons leef nou, in die een-en-twintigste eeu, weer in ’n fase waar die politieke elite hulle vergryp aan die duurste en die beste terwyl die armes gewoon van honger sterf. Du Plessis hou ’n spieël na die verlede op en wys hoe eenders dit was toe die vorige heersersklas net vir hulself gesorg het en niks vir ander omgegee het nie.

Die einde bring hoop en daar is beeldskone verhale ook in die boek, maar uiteindelik is Drie vroue en ’n meisie ’n roman wat ’n diep seer blootlê en geen pleisters vir die wonde bied nie. Armoede se pyn en die elite se argwaan is skynbaar universeel.

Die ingrepe van die kerk en die staat se maatskaplike werkers bring uiteindelik verligting.

Drie vroue en ’n meisie vertel die saga en lotgevalle van drie generasies vroue wat by Katryn se grootjie in die miserabelheid van die delwerye van Miersehoop, wat byna reeds uitgewerk is, begin. Almal wat kom soek het na ’n diamant so groot soos ’n skaapkop, weet teen hierdie tyd die droom is aan ’t sterwe; maar die hoop bly, die hoop bly. Nypende armoede en hoogmoed, onnoselheid en opregtheid vermeng op die harde Noordwes-Hoëveld en verdring só alles wat goed kon wees.

Hieruit groei die verhaal van ’n weeskind wat nie kos of menswaardigheid gegun word nie, laat staan keuses. Daaruit ontvou nog ’n verhaal en daaruit nog een.

Die roman toon sterk ooreenkomste met JM Coetzee se Disgrace, hoewel die storie gans anders is; daar is ook iets van Herman Charles Bosman te bespeur.

Die Blondine? Hans sê hy wens ook die storie van mooie Katryn en die ou prof is dalk die reine waarheid. Hoekom dan nie? Hy is mos ’n prof wat fiksie opmaak.

Brand
Peet Venter

Hoë politici sweer saam om Suid-Afrika in ’n diktatorskap te dompel. Die armes het genoeg gehad en kom in opstand. Die land brand.

Sagte kolonisasie, noem party mens dit. Staatskaping noem die media dit.

Mense vir wie Thys Krige omgee, kry seer. Kort daarna word hy deur internasionale agentskappe genader om te help, want ons korrupte president speel in die hand van buitelandse moondhede met imperialistiese ambisies. Die tentakels daarvan is al so diep in die struktuur van mense in sleutelposte, dat niemand meer seker is wie betrokke is en wie vertrou kan word nie.

Die diknekke word ryker. Die armes krepeer.

Die prez weet sy einde is naby. Hy soek ’n rede om ’n noodtoestand af te kondig.

Thys se speurwerk kom of ’n afgryslike ontdekking af… Hy vermoed traangas word gedokter met dwelms om mense heeltemal berserk te maak. Is mieliepap, die stapel van die armes, volgende?

Brand is ʼn donker, skokkende verhaal, veral op emosionele vlak. Venter het min genade vir sy leser. Dié boek bied oplossings, maar nie spookasemeindes nie.

Brand is die vyfde boek in die Thys Krige-reeks. Dieper as die bloed, Ou bloed, Waar boosheid broei en Plasenta was die eerste vier.

Boekbesonderhede

 

Please register or log in to comment