Sunday Times Books LIVE Community Sign up

Login to Sunday Times Books LIVE

Forgotten password?

Forgotten your password?

Enter your username or email address and we'll send you reset instructions

Sunday Times Books LIVE

LAPA Uitgewers

@ Sunday Times Books LIVE

“Soet kinders maak nie goeie stories nie” – Fanie Viljoen gesels oor sy jeugromans

Fanie Viljoen het destyds kritici, lesers, ouers, en onderwysers aan die gons gehad oor sy debuutroman BreinBliksem. Sedertien het Fanie uitgebrei na kinderboeke, en romans vir jonger tiener lesers. Hier gesels hy oor die noodsaaklikheid van kwessies soos homoseksualiteit in skole bespreek, die rol wat musiek in sy boeke speel, die subtiele gevare van tegnologie, en faktore wat daartoe lei dat mense gewelddadig optreee.

Buiten jou jeugverhale, skryf jy ook kinderboeke. Hoe verskil die uitdagings wat jy met die skryf van die twee afsonderlike genres ervaar?

Die ontwikkelingsvlak van kinders verskil geweldig van jaar na jaar. ’n Mens moet dus baie versigtig wees vir die tipe stories wat jy vertel en hoe jy dit vertel. Met jeugverhale kan jy meer waag wat temas betref, veral vir ouer tieners.

Die risiko’s wat aan ons maklike/oombliklike toegang tot die internet geheg word, word in jou boeke ondersoek. Brei bietjie uit hieroor?

Tegnologie is baie belangrik vir jongmense, en hulle boeke moet dit weerspieël. Ek hou daarvan om soms die spanning op te jaag as die tegnologie nie werk nie, byvoorbeeld as ’n selfoonbattery pap is wanneer jy hulp wil ontbied. My boeke waarsku ook subtiel teen die gevare van tegnologie, soos die gebruik van sekere apps of kuberkrakery.

Uit handel oor ’n tienerseun wat worstel met sy seksualiteit. Wat is jou opinie oor hoe homoseksualiteit deur Afrikaanse gemeenskappe ontvang word? Dink jy daar word genoeg opbouende, deurdenkte gesprekke daaroor gevoer? Word daar genoeg daaroor geskryf in jeugromans?

Die aanvaarding van homoseksualitiet verskil grootliks in ons land. By sommige skole het die kinders nie ’n probleem daarmee nie, maar by ander skole kan ek sien hoe die atmosfeer dadelik verander as die onderwerp opkom. Daar was al ook ’n skool wat gevra het dat ek nie oor Uit moet praat nie. Dit is juis daardie skole wat dit nodig het. Daar moet gepraat word, want in elke skool is daar ’n paar kinders vir wie die boek bedoel is. Die tieners moet weet hulle staan nie alleen nie. Ons jeugromans begin al hoe meer in die tema delf. Marion Erskine se onlangse jeugroman Vlerke vir Almal vir almal spreek dit ook as subtema aan.

Uit

Een hoofstuk in Pleisters vir die Dooies se titel heet ‘Ultrageweld’; hierdie is ‘n direkte verwysing na die hoofkarakter in Anthony Burgess se Clockwork Orange, Alex, en dié se droogs se gunsteling tydverdryf (“ultra violence”). Die ongure karakters wat die protagonis raakloop herinner ook aan Alex en sy droogs. Beide BreinBliksem en Pleisters vir die Dooies bevat tonele van ultrageweld. Hoe gaan jy teweeg om bloeddorstige tonele te skryf, en wat dink jy ‘veroorsaak’ gewelddadige gedrag in ’n mens? (Die protagonis in PVDD skryf sy geweld-drange aan rekenaarspeletjies toe, maar tog…)

Ek laat my deur my skrywersinstink en die karakters lei wanneer ek so ’n toneel sou skryf. Dit moet getrou wees aan die storie en pas by die karakter se motivering. Daar is verskeie kriminologiese teorieë vir geweld en misdaad. Om net rekenaarspeletjies die skuld te gee, is simplisties. Frustrasie, ouers se onbetrokkenheid, boeliery en toegang tot wapens is van die redes.

Breinbliksem
Pleisters vir die dooies

Verwysings na musiek en musikante verskyn deurlopend in jou romans (van Korn in BreinBliksem tot Foster the People en Leonard Cohen in Pleisters vir die Dooies en selfs jou eie skepping, Koelkop, in Spring). Wat beteken musiek vir jou, en watter rol speel musiek in tieners se lewens?

Musiek word die klankbaan van ’n mens se lewe. Elke jeugverhaal wat ek skryf het ook ’n klankbaan. Dit help my om in die karakters se koppe te klim. Vir Pleisters vir die Dooies het ek byvoorbeeld herhaaldelik na Nick Cave se “Mercy Seat” geluister omdat dit byna soos ’n mantra is.

Swendelaars en groepsdruk steek ook gereeld kop uit in jou boeke. Om watter rede skryf jy oor tieners/jong volwassenes se begeerte om deur hulle portuurgroep en/of ouer, cooler, meer ervare mense aanvaar te word?

Die behoefte om aanvaar te word is steeds ’n kwessie vir die meeste tieners. Dis deel van die grootwordproses, ons wil iewers behoort, selfs al is dit by die groep kinders teen wie jou ouers jou gewaarsku het. Om dan te lees hoe daardie behoefte jou in die moeilikheid laat beland, sorg vir ’n lekkerleesboek. Soet kinders maak nie goeie stories nie, of altans nie die stories wat ek wil lees nie.

Boekbesonderhede

 

Please register or log in to comment