Sunday Times Books LIVE Community Sign up

Login to Sunday Times Books LIVE

Forgotten password?

Forgotten your password?

Enter your username or email address and we'll send you reset instructions

Sunday Times Books LIVE

LAPA Uitgewers

@ Sunday Times Books LIVE

Drie moet-lees Maart boeke

Lapa Uitgewers het ‘n besige Maart-maand agter die rug gehad. Buiten Hemelbesem se outobiografie, ‘n relaas van Wollie Wolmarans se beroep as forensiese patoloog, en Tannie Koelsoem en Tannie Flori se nuwe kookboek, het dié uitgewery boonop drie romans uitgebring wat by enige kranige leser sal aanklank vind.

Lees meer oor die boeke hier:

PelgrimshoopPelgrimshoop
Ronel Nel

Dit gebeur selde dat iemand ’n heel nuwe perspektief kan oopskryf op ’n ou tema. Ronel Nel kry dit reg – deels deur feite uit haar eie gesin se geskiedenis te gaan opdiep en ’n storie daarvan te maak. Die roman vertel van ’n skynbaar onskuldige vrou wat vir ’n skynbaar nors boer moet gaan skool hou. Die boer is ryk en sy perde doen goed.

Stadig maar seker ontdek die leser dat ons heldin nie so onskuldig is as wat ons dink nie, dat ons ryk boer nie om dowe neute homself eenkant hou nie – en bowenal dat die stukkie paradys wat hy probeer skep, nie deur slange nie, maar wel rassiste bedreig word.

’n Mens sou hierdie roman kon beskryf as relevant vir ’n wêreld waarin “die ander” deesdae weer openlik aangeval en verkleineer mag word. Dit is. Tog, diep in die wese van hierdie storie klop twee harte wat desperaat is om menslikheid te vind. Lees maar. Geniét die storie; daar is baie om te geniet. Ten spyte van die donker onderwerp, breek die hoop deur. Wanneer die leser dan boonop – teen die einde – besef hoe hierdie storie die skrywer se eie lewe gevorm het, wil jy ’n traan van lekkerkry wegpink. Maar ervaar dit self.

Die ander vs. die ons: Elias Bart, die ryk boer vir wie Hannah moet klasgee, doen moeite om na ander om te sien. Vliet Vorster, voorste boer en burgemeester, wat elke Saterdagaand Die Oog leegdrink en dan Sondag voor in die kerkgestoeltes sit, pes die “bontspul” op Elias Bart se plaas. Moeilikheid broei, en breek uit. Die boek loop deur een baie belangrike jaar in ons geskiedenis, 1956, ondersoek die instelling van ‘petty politics’ en betrek onder meer die vrouemars na die Uniegeboue, wat ons steeds elke jaar gedenk op die 9de Augustus. Dit vertel egter ook ’n stukkie onbekende geskiedenis – en is gebaseer op werklike gebeure.

DoodsroeperDoodsroeper
Rika Cloete

Dit is Februarie, 1861.

’n Groepie trekboere maak hulle gereed vir die jaarlikse migrasie van die springbokke – een van die merkwaardigste en bekendste tonele in die Suid-Afrikaanse geskiedenis. Hulle staning is naby die Gamagararivier in die Kalahari. Die spanning bou op, want hulle verkenners vertel dat die bokke op pad is.

Dan is daar ’n lyk.

Die man is wreed vermoor en die lyk is daarna verder vermink. Die dooie lê in Stilbos – ’n misterieuse plek sonder voëls en die skuilplek van die Doodsroeper, ’n onaardse wese wat uitroep voordat iemand sterf. Soois Bruwer, ’n verloopte wetsman, word versoek om ondersoek in te stel. Soois het rede gehad om homself eenkant te hou, nou moet hy meer spraaksaam wees en só besef hy: Dié groepe mense met wie hy saamtrek, het byna almal iets om weg te steek.
 
 
 
Net toe Soois dink hy is op die regte spoor, roep die Doodsroeper weer en sit hy met ’n tweede lyk op hande. Nou moet hy alles inspan om die moordenaar vas te trek, want dit wil voorkom asof daar binnekort nog dooies sal wees.

Rika Cloete se obsessie is misdaadfiksie, as dit boonop teen ’n geskiedkundige agtergrond afspeel, soveel te beter. Reeksmoordenaars, passiemoorde, gifmoorde, geestesversteurings – dit is alles al van toentertyd af deel van die mens se bestaan, so ook die vraag om geregtigheid, die drang na die uitlewering van die skuldige en die onwrikbare geloof dat die goeie uiteindelik die bose sal oorwin; dit is alles gewortel in ons menswees. Juis dít gee ons hoop vir die toekoms; daarom is dit noodsaaklik om daaroor te skryf. In 2002 is Cloete se debuutbundel eensaamigheid gepubliseer en in 2004 die avontuurromanse Die Oog van Isis. ’n Hele klompie tydskrifverhale het ook al uit haar pen verskyn. Doodsroeper is Rika se eerste spanningsroman.

SmeulSmeul: Drie Vroue, Een Kombuis
Riana Scheepers, Marietjie Koekemoer en Leonie Scholtz

Drie uiteenlopende karakters, drie vriendinne: ’n Bemarker, ’n radioloog en ’n skrywer; hulle is so verskillend soos komyn en kaneel, maar al drie is wêreldswerwers, kunstenaars en passievol verknog aan die eeu-oue wonderwerk van kosmaak. Hulle deel ’n liefde vir die kombuis, salf mekaar se wonde, drink wyn, luister magiese musiek en vier die lewe. In die kombuis bruis hul vriendskap, of juis soms nié. Die een is morsig met meel en heeltemal te oordadig as dit kom by rissies en peperkorrels, die ander meet alle mates presies af en swaai die houtlepel-septer oor die botter én die bobotie.

Eeu-oue familieresepte en hartsgeheime word gedeel, maar hulle het ’n neus vir nuwe neigings in die kulinêre wêreld, dié word beproef, getoets en hul eie gemaak. Diepnag, tussen sielsgenote, word nuwe geregte word geskep, want dit is dán wanneer die kokke dans. Hierdie drie vroue kuier en kook van die Weskus tot in die Karoo, in die woud en ook die stad; hulle kook oor die aardbol heen.
 

Die resultaat van hierdie unieke vriendskap, en die geregte wat daaruit voortspruit, kan net smeul.

Smeul bevat ou bekende resepte, opgekikker in ’n nuwe moderne baadjie, maar ook ’n hele paar nuwe smake en interessante kombinasies uit die drie formidabele vroue se kombuise. Daar is 110 resepte en in vier afdelings.

Iets oor elke afdeling
Weergalose Weskus: Swartmossels met lekker bros brood; braaisnoek op die kole; smoorsnoek én viskoekies; calamari-, kiwivrug-en-kruisementslaai; oondpatat met suurroom,
pikantrissies en veldkool.
Karooland, hartland: waterblommetjiesop; bruin wildvleissop met jenewerbessies en jenewer; pampoentert met lemoensjokolade; bolmakiesiepastei; Marietjie se karoowors;
ontbeende, gevulde skaapkop en biltongpatee.
Diep, diep in die donker woud: botterskorsie-en-soetpatatsop met grondboontjiebotter; sampioenrisotto; ertjiemousse met kruisement; brandnetelbredie; malva-gemmerpoeding met appels; rolkoekpoeding met pere, witsjokolade en nastergalkaaskoek.
Sprokie vir ’n stadskind: beesstertsop met ’n Thaise kinkel; Marokkaanse lensies; artisjokke; oondgebakte kwartels; hupse hamburgers op roosterkoek; frikkadelle met plomp tamatiepuree op Afrika-polenta; kantkoekies en mooikoek.

Book details

 

Please register or log in to comment