Kom vier die bekendstelling van Swartval deur Martin Steyn in Pretoria
LAPA en Protea Boekwinkel nooi jou graag na die bekendstelling van Martin Steyn se opwindende nuwe roman, Swartval.
Kom gesels met die skrywer oor sy derde spanningsroman op Saterdag, 17 September by Protea Boekwinkel Hatfield. Die geleentheid begin om 10:30 vir 11:00.
Steyn het in 2014 gedebuteer met Donker spoor en nie lank daarna nie het Skuldig op die rakke verskyn. Swartval vertel die angswekkende verhaal van ’n raaiselagtige ontvoering.
Moenie dit misloop nie!
Besonderhede
- Datum: Saterdag, 17 September 2015
- Tyd: 10:30 vir 11:00
- Plek: Protea Boekwinkel Hatfield
Burnettstraat 1067
Hatfield
Pretoria | Padkaart - RSVP: eddington@proteaboekwinkel.com, 012 460 0781
Oor die boek
Haar brein jaag net so vinnig soos haar hart. Dis hy. Die een wat die blomme op haar kar gelos het. Hy het teruggekom. En hierdie keer het hy nie gekom om iets te bring nie, hy het gekom om iets te vat.
Vir haar.
En nou word Claire Winters iewers in ’n sel van sement gevange gehou. Eers plaas sy haar hoop op haar speurderbroer. Hy weet wie die man is wat haar ontvoer het. Maar nog ’n lang, donker dag eindig met ’n toebroodjie en ’n glas water en Derek kom nie. Claire besef hierdie keer sal sy haarself moet red. Voordat haar verstand heeltemal in die swart van die kelder oplos.
Die enigste uitweg is deur haar ontvoerder. Want hy het die kelder se sleutel. Maar net toe sy dink sy begin vordering maak, vind Claire uit waarvoor sy regtig aangehou word.
Oor die outeur
Martin Steyn het begin skryf nadat hy The Dark Half deur Stephen King gelees het en danksy mense soos Jeffrey Dahmer het hy geïnteresseerd geraak in reeksmoordenaars. Die vraag het by hom ontstaan waarom hierdie mans, wat net soos die buurman lyk, ander mense jag bloot vir die plesier daarvan. Hoe is dit dat hulle vir jare tussen ander mense bly en niemand vermoed iets nie? Dis toe dat hy ware-misdaadboeke begin lees het.
Op universiteit was Martin se hoofvakke sielkunde en kriminologie. Hy het ’n paar kortverhale geskryf, waarvan een, “Kira”, in Rooi Rose verskyn het. Na sy honneurs in sielkunde het hy Suid-Afrikaanse reeksmoordenaars en geweldsmisdade bestudeer en sewe ware-misdaadverhale aan die Crime Library, ’n CourtTV-webwerf (tans onder truTV), verkoop. Dit het onder meer gehandel oor Moses Sithole, die wrede verkragting en poging tot moord op Alison, en die Sizzlers-moorde in Seepunt.
Tog, fiksie bly sy eerste liefde. Deesdae interesseer die hele misdaadondersoek hom, en hy geniet dit veral om met plaaslike speurders en forensiese spesialiste te praat. Navorsing is ’n kritieke deel van misdaadfiksie, maar Martin het ook aan sy skryfvaardighede gaan skaaf onder leiding van Wilna Adriaanse. Donker spoor, sy debuutroman, het ontstaan as deel van hierdie kursus van die South African Writers’ College, wat hy met meriete geslaag het.
Dis wat Chanette Paul te sê gehad het oor Martin se eerste manuskrip: “Ek is bitter lanklaas so meegevoer deur ’n manuskrip soos met hierdie een. Dis ’n grusame verhaal waarin afskuwelike wreedheid en onmenslikheid afgewissel word met deernis en diep menslikheid. Die verhaalgegewe is plek-plek gewis nie vir sensitiewe lesers nie, maar die goeie en die bose word op skitterende wyse teenoor mekaar gestel. In sy geheel is die manuskrip van internasionale gehalte.”
Lees ook:
Boekbesonderhede
- Swartval deur Martin Steyn
Boek se tuisblad
EAN: 9780799380910
Spoor hierdie boek met BOOK Finder op!
Please register or log in to comment