Sunday Times Books LIVE Community Sign up

Login to Sunday Times Books LIVE

Forgotten password?

Forgotten your password?

Enter your username or email address and we'll send you reset instructions

Sunday Times Books LIVE

LAPA Uitgewers

@ Sunday Times Books LIVE

Kom gesels met Vita du Preez oor Droomland by ’n Lentetee in Panorama

Lentetee met Vita du Preez

 
DroomlandLAPA nooi jou graag na ’n Lentetee met Vita du Preez, ter viering van haar jongste roman, Droomland.

Die geleentheid sal plaasvind op Saterdag, 10 September in die Panorama NG Kerksaal, en begin om 9:30 vir 10:00.

Kaartjies kos R70 per persoon.

Moenie dit misloop nie!

Besonderhede

  • Datum: Saterdag, 10 September 2016
  • Tyd: 9:30 vir 10:00
  • Plek: Panorama NG Kerksaal
    Rembrandtsingel 14
    Panorama
    Kaapstad | Padkaart
  • Koste: R70
  • RSVP: Johanna, 072 039 0668

 
Oor die boek

Ruby se pynlikste begeerte is om te weet wie haar pa was – of is. Nóg haar loopbaan as loopplankmodel, nóg haar gesogte modereeks kan vergoed vir hierdie leegheid in haar lewe. Of dit die oorsaak van haar slaaplopery is, weet sy nie maar toe haar ma sterf, neem sy hierdie geheim saam met haar graf toe.

Ná haar ma se begrafnis vlam die hoop egter onverwags op. Sy moet die welmenende raad van die dorp se gehate ou sedeprediker verduur en haar ma se prokureur oorhandig ’n juwelekissie met ’n sleutel aan haar. En toe ’n jeugkennis weer sy verskyning maak, weet Ruby hierdie man bedreig haar goed bewaarde hart. Dit is ook hy wat haar oortuig om elke leidraad wat sy nou gekry het op te volg en nie nee vir ’n antwoord te neem nie.

Maar elke paadjie waarop sy haar begeef, lei na ’n doodloopstraat. Monsters wat mens uit die verlede gaan haal, moes dalk gebly het waar hulle was – die hede is al wat jy eintlik het en jy moet daarmee woeker.

Oor die outeur

Vita du Preez se eerste romanse As sterre blom het in 1996 verskyn terwyl sy voltyds as argivaris by die WNNR gewerk het. Daarna het verskeie titels uit haar pen die lig gesien. ’n Persoonlike gunsteling was Skuiling van die hart, ’n historiese roman wat tydens die Boereoorlog afspeel. ’n Man vir Mia was ’n finalis vir die LAPA-Liefdesromansetoekenning 2005/2006. Nadat sy in 2002 Kaap toe verhuis het, het sy vryskutvertaalwerk begin doen, wat later ’n heeltydse werk geword het. Sy het meer as sestig Mills & Boon en Harlequin Intrigue-titels vertaal. Ná tien jaar in die bedryf het sy besluit genoeg is oorgenoeg en weer voltyds op haar skryfwerk begin fokus. Sy was lus vir ’n nuwe uitdaging en het besluit om ’n ander genre – liefdesromans – aan te pak. Vita kry haar inspirasie uit die alledaagse, waar goeie en slegte goed met mense gebeur, en wil karakters skep met wie moderne Afrikaanse vroue kan identifiseer. Gelukkige eindes, glo sy, kan ons almal beskore wees as ons ons lewensvreugde en humorsin behou. Deesdae woon Vita saam met haar man Riaan du Plessis in die Strand en wanneer sy nie skryf nie, maak sy tuin, lees en kuier saam met vriende.

Boekbesonderhede

 

Please register or log in to comment