Sunday Times Books LIVE Community Sign up

Login to Sunday Times Books LIVE

Forgotten password?

Forgotten your password?

Enter your username or email address and we'll send you reset instructions

Sunday Times Books LIVE

LAPA Uitgewers

@ Sunday Times Books LIVE

“Daar is geen kos nie, ook nie verder wes nie” – Lees ’n uittreksel uit Immer wes deur Irma Joubert

Irma Joubert

 
Immer wesIrma Joubert se jongste historiese roman Immer wes, die eerste in ‘n beplande trilogie, was een van die gewildste boeke van 2015, al is dit eers laat in die jaar gepubliseer.

Hierdie aangrypende verhaal strek oor die twee Wêreldoorloë en eindig uiteindelik, via Suid-Afrika, in Namibië. Dit fokus, nes die volgende twee romans, op die lyding van vroue en kinders en vertel van Hildegard, ‘n Oos-Pruisiese adellike dogtertjie wat die verskrikking van oorloë twee maal oorleef – om nie eers te praat van die een wat in haar hart woed nie.

Vir ‘n proestukkie van Joubert se jongste werk, lees ‘n uittreksel uit Immer wes:
 

* * * * * * *

 

Op Woensdag 16 Mei begin die eerste krane weer drup.
  Esther dans in die rondte van vreugde. “Die water kom, die water kom,” sing sy.
  Hulle vang die water drupsgewys op en bêre dit in potte en emmers.
  “Ek wil vandag saamgaan as jy voorrade gaan koop, Andreas,” sê Hildegard die volgende dag. “Jy het gesê dis nou ordeliker. Die weer is goed en ons kan nie vir Esther langer binne hou nie.”
  Hulle stap rustig deur die strate, verby die puin van eens deftige huise, verby die wrakstukke van uitgebrande tenks, gestroopte karre, weermagjeeps vol koeëlgate. “Die bomme het die karre flenters geskiet,” sê Esther.
  Nader aan die stad is die geboue swart gebrand, die vensters aan skerwe. Ou rommel lê in hope, gewone huisafval, stukke beton, verwronge ysterstawe. Oral skarrel rotte.
  Die bome is vol koeëlgate, stukke takke lê afgeskeur.
  “Hoekom wil die bomme die bome doodskiet?” vra Esther.
  Sy en Esther wag in die lang ry voor die bakkery, die geur sê dat daar tog wel weer brood gebak word.
  “Wat weet julle van ons mense wat in Noord-Nederland was?” vra Hildegard.
  Niemand weet iets nie. Behalwe dat Duitsland amptelik oorgegee het en dat Hitler dood is – of so dink hulle.
  Die hele Oos-Pruise, ook Königsberg, val nou onder die Sowjetunie, vertel die mense. Vlugtelinge stroom steeds in, honderde duisende mense.
  “Waar gaan julle heen?” vra die mense.
  “Verder wes, êrens.”
  “Daar is geen kos nie, ook nie verder wes nie.”
  “’n Hongerdood op pad is beter as waar ons vandaan kom,” antwoord die vroue met die doeke om hulle koppe. Hulle stoot hulle waentjies en slof moeisaam voort.
  “Ek weet nie hoe hulle oor die Elberivier gaan kom nie,” skud ’n ou man in die ry kop.
  Andreas het ’n bietjie sout en olie gekry, twee sakke meel en vier blikkies groente. Ook ’n stuk vleis. “Dit kan miskien perdevleis wees, Hildegard,” maak hy verskoning, “maar dis darem skoon en vars.”
  “Ek sal maklik ’n hele perd kan opeet,” sê Esther beslis. Andreas het nog iets uitgevind. “Blykbaar het Noord-Nederland, ook Arnhem, in die hande van die Duitsers gebly tot ’n week of twee gelede. Toe eers het die Geallieerdes daar ingetrek.”
  “En ons magte wat daar was?” vra Hildegard angstig.
  “Niemand weet nie. Dit klink asof hulle ordelik onttrek het, maar niemand weet regtig nie.”
  Sy is oorhaastig om by die huis te kom. ’n Week of twee gelede? Beteken dit dat haar Karl-kind enige tyd by die huis kan aankom?
  Sy is bang dat dit te goed is om waar te wees.
  Hulle wag vir meer as ’n week. Karl daag nie op nie.
  
Sy staan in die broodry toe sy dit hoor. Iemand, soos die stadsroeper met sy klok vanuit die Donker Middeleeue, loop deur die strate.
  Hy gaan staan op elke straathoek en lees dit uit: “Almal tussen vyftien en sestig moet by die Rathaus vergader vir werk.”
  Sy loop met die kos in haar stootwaentjie en die nuwe gedagte in haar kop huis toe. “Ek moet dit probeer, Andreas. Ek het ’n kind om te versorg.”
  “Ek het al gesê ek sal sorg.”
  Sy kan dit nie sê nie, maar hy is oud, die oorlog het hom nog ouer gemaak. En haar kind is nog nie eens ses nie. “Dankie, Andreas, ek waardeer dit opreg. Maar ek moet ook probeer.”
  Hulle val die volgende dag saam in die ry. “Ouderdom?” vra die beampte.
  “Vyf en veertig.”
  Hy trek sy mond skeef. “Kwalifikasies?”
  “Ek praat Russies.”
  “Formele kwalifikasies?” Meester Rosenberg wat in die bedompige skoolkamer vir hulle geskiedenis probeer leer het? Dreikaisersbund, Zweikaisersbund, Dreibund, Berliner Kongress, Entente Cordiale, Triple Entente . . .
  “Geen,” antwoord sy.
  Die amptenaar gooi haar vorm op die groot hoop langs hom neer. Hy bekyk Andreas skepties. “Onder sestig?” vra hy smalend.
  “Ek is ’n mediese dokter, ek het my kwalifikasies hier,” sê Andreas. Sy hand bewe effens toe hy sy papiere uithou.
  Die amptenaar neem nie die papiere nie. “Ouderdom?”
  “Drie en sewentig.”
  Hy kyk nie verder na Andreas nie. “Volgende!”
  Hulle stap stil na die kantore vir oorlogsinligting.
  “Miskien is ons hier gelukkiger,” praat Andreas haar moed in.
  “Ek is vreeslik honger,” sê Esther.
  Hulle vul weer vorms in. Die vrou gee vir hulle papiere met lyste en lyste name. Hulle soek die ganse middag lank, en vind wel die naam Oswald von Stein, Russiese krygsgevangene. Maar die inligting dateer nog uit 1943. Niks daarna nie.
  Nêrens is enige teken van Karl von Stein nie.
  “Hy kon tog nie van die aarde af verdwyn het nie?” pleit Hildegard toe hulle skemeraand terugstap huis toe.
  
  Die elektrisiteit is skielik terug. Nie drupsgewys soos die krane nie. Volsterkte. Dit verdwyn wel met tye weer, maar kom elke keer weer terug.
  Die radio kry ook weer stem. “Dis Maandag 28 Mei en hier volg die nuus . . .”
  Dit is hoofsaaklik plaaslike brokkies. Nuwe rantsoenkaarte is beskikbaar. Benewens kosvoorrade sal sekere rantsoenkaarte ook sakkies sement beskikbaar maak.
  Almal tussen vyftien en sestig kan by die Rathaus aansoek doen vir werk.
  Die elektrisiteit sal op Woensdag 30 Mei onderbreek word vir instandhoudingswerk.
  En tussendeur, asof terloops: Die as van miljoene Jode wat in konsentrasiekampe in die ooste verbrand is, is gebruik vir bemesting.
  Hulle eet brood en geblikte vleis.
  Laat in die nag luister sy en Andreas na die strelende klanke van Beethoven se Klavierkonsert Nommer 5 in E-mol-majeur.
  Hulle gaan byna daagliks na die Rathaus om te hoor van werk: niks.
  Hulle soek deur die nuutste lyste by die inligtingskantoor: niks.
  Hulle weier om moed te verloor.
  Buite in die strate bars die bome oop in nuwe groen blare.
  Die vroue van Berlyn begin die rommel met grafies opruim, sommige werk met die kaal hande. Hulle ry die rommel op stoot- of trekkarretjies weg na die ashope.
  Die vroue kap die murasiestene skoon, stapel dit weer opmekaar. Hulle gee emmers vol nat sement van hand tot hand na mekaar toe aan. Hulle bou skuilings teen die wind en reën.
  Die vroue skoffel die voortuine skoon. Hulle buk en plant groentesaad in die goeie grond.
  Die vroue van Berlyn het uit die gate onder die aarde gekruip. Hulle sing terwyl hulle werk: “Heilig, heilig, heilig, Herr, allmächtiger Gott . . .”

 

* * * * * * *

 

Lees ook:

 

Boekbesonderhede

 

Please register or log in to comment