Sunday Times Books LIVE Community Sign up

Login to Sunday Times Books LIVE

Forgotten password?

Forgotten your password?

Enter your username or email address and we'll send you reset instructions

Sunday Times Books LIVE

LAPA Uitgewers

@ Sunday Times Books LIVE

Carina Diedericks gesels oor die Thomas@-reeks en die eienskappe van goeie jeugfiksie

Bekendstelling van die Thomas@-reeks op kykNET
Thomas@aksie.netThomas@geraamte.netThomas@sms.netThomas@moord.netThomas@skerpioen.net
Thomas@aqua.netThomas@nagmerrie.netThomas@vrees.netThomas@rock-ster.net

 

Carina Diedericks is die skepper van die immergewilde Thomas@-reeks wat handel oor die manewales van Thomas en sy maats: Alex, Lilian, Hannes, Thabo en Lukas.

Die Thomas@-avonture is in 2013 in ‘n televisiereeks omskep en Thomas@rock-ster.net, die agste boek in die reeks, is in 2011 met ʼn silwer Pendoring Reklametoekenning bekroon.

Books LIVE het met die skrywer gesels oor, onder meer, die prikkels wat aanleiding gegee het tot die reeks, haar skryfproses, die eienskappe van moderne jeugfiksie en die moets en moenies wat jeugboekskrywers liefs in gedagte moet hou.

Lees die onderhoud:

 

* * * * * * * *

 
Waar het jy aan die idee vir die Thomas@-reeks gekom?

LAPA het in 2000 my genader om ’n jeugboek te skryf na aanleiding van kortverhale van my wat gepubliseer is. Ek het gedink dit is ’n maklike opdrag, maar toe ek wou begin, het ek besef ek het nie ’n idee hoe tieners se lewens lyk en werklikheidsverstaan werk nie. Ek het dit toe eers gelos en begin lees. Amper ’n jaar lank. Ek het besef dat reeksboeke geweldig sterk is en dat daar enorm baie ruimte binne die Afrikaanse jeugmark is vir ’n nuwe wending. Ironies genoeg was die bedoeling nie om Thomas ’n reeks te maak nie, maar nadat ek thomas@moord.net geskryf het, was ek nog nie klaar met die karakters nie. Wat die karakters betref is hulle ’n vermenging van my twee ouer broers.

Hoekom is die reekstitel Thomas@ en nie net Thomas nie (soos Trompie, Saartjie ens)?

Ek wou dit kontemporêr maak en tegnologie is so ’n groot deel van my – eintlik almal – se lewens dat dit vir my belangrik was om dit te laat deurskemer. Tegnologie figureer sterk in die reeks. Dis ’n uitdaging, want ek moet dit so skryf dat dit modern bly sonder om te veel detail (soos handelsmerke en weergawes) te gee wat die boek prematuur kan laat verouder.

Wat is die belangrikste eienskappe van moderne jeugfiksie?

Die skrywer se eerlikheid, integriteit en respek vir die leser. Die dae is verby wat skrywers dink hulle gaan “gou” ’n jeugboek skryf en veral waar skrywers hul in ’n posisie bo jongmense plaas en af kyk en af skryf en neersien op hulle. Skrywers soos Barrie Hough en Marita van der Vyver het met hulle jeugboeke daardie weg gebaan vir ons wat op hulle hakke gevolg het.

Watter jeugboeke het jy op skool gelees?

Ek het álles gelees waarop ek my hande kon lê. Gelukkig was boeke en lees groot in ons familie en ons het die drumpel van biblioteke van Johannesburg tot Kaapstad deurgetrap. In daardie dae was daar ook die Daan Retief Boekklub. Elke maand het jy ’n “Japsnoet-boekie” oor ’n interessante onderwerp gekry, ’n aktiwiteitsboek en ’n storieboek. My gunstelinge was beslis die reekse: Maasdorp, Trompie, Saartjie, Jasper, Uile, Groenweide, Bienkie, Mienkie, Meintjie, ens. En dan Engelse reekse soos Famous Five, Secret Seven, Nancy Drew, Hardy Boys, Choose your own adventure … Ek kan baie lank aanhou met my lys van gunstelinge! Later op hoërskool het ek André P. Brink ontdek en ook Etienne van Heerden, Marita van der Vyver, Dalene Matthee, Ingrid Jonker en so aan.

Wat is die grootste verskille tussen destydse jeugboeke en dié van vandag?

Aanvanklik was daar ’n eenvoud en ’n amper onskuldige, lieflike benadering. Ontsnappingsletterkunde. Kyk na Alba Bouwer, Sita (SS de Kock) en MER (Maria Elizabeth Rothmann). Ook die reekse wat al so ver terug as die 1930′s (Maasdorp en Keurboslaan) en die 1950s (Saartjie en Trompie) verskyn het. In die 1970′s en 80′s het daar egter ’n ommeswaai gekom wat die Afrikaanse jeugboek enorme skade berokken het. ’n Handvol akademici het besluit dat boeke “goed” moet wees vir ’n kind. Of die kind van die storie gaan hou al dan nie, was irrelevant. Alle reeksboeke is as ongeskik vir lees verklaar en selfs van biblioteekrakke verwyder. Die boeke was vaal, deprimerend en het ten minste twee geslagte vervreem van Afrikaanse letterkunde. Die akademici het op prys- en voorskryfkommitees gesit en natuurlik het die uitgewers gefokus op wat hulle wou hê. Ek was in ’n Engelse skool en na aanleiding van ’n gruwelike depro voorgeskrywe boek het een van my vriendinne gevra: “M’am, are all Afrikaans people poor and depressed?” I rest my case.

Vertel ons van jou skryfproses – hoe besluit jy op ’n tema en hoe ontwikkel jy jou karakters?

Stories vlieg letterlik om ons rond. Jy moet net weet waar om te kyk. Dit kan ’n brokkie van ’n gesprek wees wat jy afluister. Of iets wat jy sien. Of onthou. Of alles vloei saam en vorm iets nuut. Dieselfde geld vir temas. Dis moeilik om dit mis te kyk. Karakters is sameflansings van mense wat ek ken of gesien of beleef het. Jy speel matchmaker en sien gou dat ’n sekere tema nou ’n sterker storie gaan maak en dat hierdie of daardie karakter pas by die storie. Ek doen nie vreeslike beplanning voor die tyd nie. Ek het ’n basiese idee waaroor die storie moet gaan, die kernkarakters en net daardie eerste sin. Dan spring ek weg. ’n Ent in die boek in sal ek halt roep en navorsing doen of die res van die boek uitlê.

Wat is die moets en moenies wat jeugboekskrywers in gedagte moet hou?

Maklik. Daar is net twee moets: 1. Lees 2. Respekteer jou leser.

Thomas is nie ’n tipiese held nie, hy maak foute en is dikwels die een wat gered moet word. Hoekom het jy hom so geskryf?

Ek dink hierdie James Bonderige hoofkarakters in “realistiese” jeugboeke werk nie. Niemand kan goed wees in alles en ongedeërd uit alle situasies stap nie. Ek wou ’n tipe anti-held skep waarmee lesers kan identifiseer.

Thomas en Alex se verhouding is ’n interessante storielyn. Hoe skryf jy oor romanse in ’n jeugreeks? (En hoekom het Lukas en Lilian nooit bymekaar uit gekom nie?)

Wel, die reeks is nog ver van klaar, so wie bymekaarkom en wie nie, is ’n ope vraag!

Hoe was dit om aan die televisiereeks te werk?

Fantasties. Ek was deel van die skryfspan en dit was heeltemal iets anders gewees om vir TV te skryf as wat jy ’n boek skryf. Skielik het jy die visuele waarmee jy kan speel, maar aan die ander kant moet jy goed soos uitvoerbaarheid van storielyne en tonele, asook kostes in gedagte hou. As jy skryf, is daar geen begroting wat jou kreatiwiteit aan bande lê nie. So het ek byvoorbeeld gedink ’n toneel waarin Thomas aan ’n rotslyn op Tafelberg hang, sal verskiklik cool wees. Maar toe blyk dit dit is nogal duur om helikopters te huur, kameramanne by helikopters te laat uithang, permitte om op die berg te skiet te kry en waaghalse te gebruik vir ’n toneel van hoogstens 10 minute! Who knew?

Boekbesonderhede

 

Please register or log in to comment