Sunday Times Books LIVE Community Sign up

Login to Sunday Times Books LIVE

Forgotten password?

Forgotten your password?

Enter your username or email address and we'll send you reset instructions

Sunday Times Books LIVE

LAPA Uitgewers

@ Sunday Times Books LIVE

“Weet ons rêrig hoe wit ons is?” – Chanette Paul gesels oor die temas in Offerlam

Chanette Paul

 
OfferlamChanette Paul se jongste spanningsroman en internasionale deurbraak, Offerlam, vertel die verhaal van Caz Colijn, ‘n middeljarige wit vrou in die Overberg wat deur onvoorsiene omstandighede op ‘n soektog na herkoms gaan.

Offerlam speel af in Suid-Afrika, België en die Demokratiese Republiek van die Kongo (met terugflitse na die Belgiese Kongo) en die Nederlandse vertaling is in November in Antwerpen en Gent bekendgestel. Offerlam word in Oktober 2016 opgevolg met Offerande.

Books LIVE het met die skrywer gesels oor die temas, karakters en gebeure in haar nuwe roman.

Lees die onderhoud:
 

* * * * * * * *

 
In 140 karakters of minder, waaroor gaan Offerlam?

Dis die storie van Caz; dit is ‘n soeke na herkoms. (89 karakters)

Waar het die inspirasie vir Offerlam vandaan gekom?

Vir my kom inspirasie terwyl ek skryf, dis nie iets wat vooraf gebeur nie. Mens kry verskillende soorte prikkels en uit hierdie prikkels uit begin die storie so half bymekaar kom en dan terwyl jy skryf kom die inspirasie. Jy wag nie vir inspirasie nie, jy sorg dat dit kom terwyl jy skryf.

Waarna verwys die titels van jou tweeluik, Offerlam en Offerande?

Offerlam spesifiek gaan baie oor mense wat deur ander “geoffer” word vir hul eie doeleindes; en dan in Offerande gaan dit weer oor mense wat bereid is om self opofferings te maak ter wille van ander se heil.

Offerlam speel af in Suid-Afrika, België en die Demokratiese Republiek van die Kongo. Hoe het jy jou navorsing aangepak?

Ek het nie veel navorsing oor Suid-Afrika gedoen nie, maar ek moes natuurlik op datum bly met nuusgebeure en so aan. Ek het ‘n maand in België gewoon en net alles geabsorbeer – hoe die Belgiese mense dink, wat hulle eet, wat hulle drink en dan natuurlik die omgewing, hoe dit voel daar. Daar was ‘n klomp plekke wat ek besoek het en elkeen het sy eie gevoel gehad, sy eie atmosfeer, so dit was vir my baie belangrik dat ek daarheen gegaan het.

Toe ek nou terugkom was daar goed wat ek nie besef het wat by die storie gaan uitkom nie en dit moes ek toe doen deur middel van die internet, maar ek het ook vriende daar gemaak wat my baie gehelp het. Ek het vir hulle stukkies gestuur en dan sê hulle “dis reg” of “hier is ‘n ding verkeerd”.

Daar is twee aspekte van die Kongo in die boek: daar is die onafhanklikheidswording van België in 1961 en dis waar die boek begin, en dan een van die karakters Ammie se herinneringe is aan die Belgiese Kongo, so ek moes weet hoe was dit in die Belgiese Kongo ook, en dan nou vir die hedendaagse Kongo het ek suiwer maar op die internet staatgemaak. Oor die Belgiese Kongo het ek geweldig baie boeke gelees – fiksie spesifiek, maar ook nie-fiksie – oor hoe dit was toe. Met die DRK, die hedendaagse Kongo, het ek ook boeke gelees veral oor die rebellegroepe en die probleme wat hulle daarmee het (onder meer The Catastrophist deur Ronan Bennett en Consuming the Congo deur Peter Eichstaedt).

Ek het nie die Kongo besoek nie; ek het bietjie rondgevra en is allerweë afgeraai om self soontoe te gaan, so ek moes maar daar ‘n plan maak. Ek dink die boeke wat ek gelees het, het my geweldig baie gehelp, meer as die internet.

Hoe het dit gevoel om jou boek eerstens na Nederlands te vertaal, en toe boonop in België bekend te stel?

Die vertaling was ‘n baie stywe leerkurwe vir my; my vertaler het net twee maande gehad om die boek te vertaal. Die grootste deel van die tyd het sy in België gesit en vertaal en elke keer as sy ‘n hoofstuk klaar het dan het ek maar kommentaar gelewer. Ek is Nederlands magtig, nie om te praat nie maar ek lees dit; my ma was Nederlands gewees so ek is gewoond daaraan. Toe het sy vir ‘n week na my toe gekom, in my huis gebly, en ons het letterlik elke dag woord vir woord deur daardie vertaling gegaan. Dit het my baie van Afrikaans geleer, ek het byvoorbeeld besef hoe soepel Afrikaans is. Dis ‘n wonderlike belewenis om te sien dat so ‘n jong taal eintlik so ryk kan wees – daar’s byvoorbeeld dinge wat ek in een sin kan sê, het sy twee of drie sinne nodig om dit te sê. Dit was vir my nogal ‘n baie interessante ervaring om so nou saam te werk met die vertaler.

Na ’n week in die verte verlang Caz vreeslik na Suid-Afrika en dit voel tasbaar vir die leser. Was dit vir jou ook moeilik om weg te wees van jou land?

In daardie maand wat ek daar was, die eerste drie weke was vir my hierdie verwondering, maar die laaste week het ek gesukkel, toe wou ek net huis toe kom. ‘n Mens kan nie die gesigte van die mense daar lees nie, hulle gesigte vertaal nie. Jy kan nie die emosie so lekker vertaal nie want dis so anders. En alles is verskriklik gestruktureerd, dit het vir my begin moeilik raak. Dis wonderlik hoe dit werk, dit is regtig ‘n suksesvolle resep om so gestruktureerd te leef, maar ons is nie gewoond daaraan nie en ek het dit begin baie moeilik vind. En dan natuurlik jy verlang na jou eie plek en jou eie huis en na jou geliefdes.

Hoe het jy jou reistog aangepak?

Ek het by ‘n Belgiese vriendin gebly; sy het ‘n vriendin geword omdat sy my boeke begin lees het, en sy’t my ge-e-pos en ons het mekaar leer ken. Toe sy in Suid-Afrika was het ons mekaar ontmoet en sy’t my uitgenooi om by haar te kom bly en dit was meer as ‘n jaar voordat ek gedink het ek gaan eers België toe. Toe ek nou gaan toe sê sy “my aanbod staan nog steeds”.

Ek het verskriklik hulp gekry van mense. Ek was meeste van die tyd op my eie, ek het myle geloop en ek moes aan daardie vervoerstelsel gewoond raak. Ek dink as ek net stoksielalleen was sonder enige kontakte sou dit nog baie moeiliker gewees het. Karien, die persoon by wie ek gebly het, het ‘n hele paar dae afgeneem by die werk en my gery na plekke toe. Dit was vir my baie kosbaar, sonder haar sou ek baie minder geput het uit die hele belewenis. So ek dink daai kontakte was vir my baie belangrik.

Watter voorblad verkies jy, die plaaslike een of Nederlandse een?

Ek dink die Nederlandse een is geweldig treffend, maar vir my weerspieël dit nie heeltemal die storie nie. My gunsteling is die Afrikaanse een en die uitgewers in België weet dit. Hulle stem nie met my saam nie, maar ek het vir hulle gesê ek dink die inhoud weerspieël nie die voorblad nie.

Erevu vermom hom as ’n straatmusikant op ’n stadium. Hoe het jy van sy instrumente, die mvet en donnuharpie, te hore gekom; en hoe klink hulle?

Ek het in die Bosveld gebly vir vyf jaar en wat hier die mvet genoem is was daar by die Vendas ook ‘n instrument. Ek wou uitvind wat word hierdie instrument genoem in die Kongo en toe’t ek maar deur foto’s gaan soek en soek en soek met tradisionele instrumente tot ek dieselfde een gekry het.

Die mvet is ‘n eensnaar-instrument wat dan nou resonansie kry deur, die een wat ek het byvoorbeeld, ‘n kalbas. So dis ‘n redelike eentonige geluid, maar hulle doen eintlik verstommend baie met die snaar deur dit op verskillende plekke te speel en te druk. Ek dink dis ‘n groot kuns om uit so ‘n eenvoudige instrument musiek te haal. Dis nie soos ‘n kitaar waar jy regtig ‘n wysie speel met die instrument nie, dis eintlik begeleiding by die melodie wat die persoon dan nou so praat-sing.

 
Ek het die donnuharpie gekies, dis eintlik nie tipies van die Tetela nie, kyk Erevu is van die Tetela-stam. Die donnuharpie kom van ‘n ander stam af wat baie bekend is daarvoor dat hulle harpies maak. Ek het iets gesoek wat klein genoeg is sodat hy dit in ‘n rugsak kan ronddra en weereens by die tradisionele musiekinstrumente van die Kongo gaan soek op die internet en toe hierop afgekom. Hulle is pragtig, dis verskriklik mooi, en ek het net gedink die beeldhouwerk van die donnuharpie pas nou baie goed by die Nkísi-idee (van geeste, dikwels voorvadergeeste, wat in objekte gehuisves word).

 
Het jou boek ’n klankbaan, of is daar enige spesifieke musiek waarna jy geluister het terwyl jy dit skryf?

Ek luister nie na musiek nie, maar terwyl ek skryf, hoor ek musiek in my kop. Byvoorbeeld “Kinders van Afrika” van Richard van der Westhuizen en Lochner de Kock het die heeltyd in my kop gedraal, en dan was daar Peter Sarstedt se “Africa, Africa, birthplace of man”. Die song se naam is “Hemingway”, maar daai refrein van “Africa, Africa, birthplace of man” het ook die heeltyd deur my kop gegaan. Ismaël Lô se “Jammu Africa” het ek ook so die heeltyd gehoor … So al hierdie Afrika-goed het ek gehoor terwyl ek spesifiek oor Erevu geskryf het. Of wanneer ek skryf van Caz wat hierdie hartklop van Afrika in haar voel en wat ‘n wit, middeljarige, vroulike Afrikaan is, of haar so beskou, het ek hierdie Afrika-musiek gehoor. As sy nou in Gent stap, snaaks genoeg, het ek die heeltyd in my kop die draai-orreltjies-musiek gehoor.

Hoekom?

Ek weet nie, dis asof die plek waaroor ek skryf eintlik sy eie musiek in my kop skep.

Waarmee wil jy lesers laat na hulle hierdie boek neergesit het?

Ek sal graag wil hê dat hulle moet nadink oor Afrikaanwees; ek sal graag wil hê dat hulle dink oor die hele offeridee, met ander woorde dat daar mense is wat bereid is om vir hul eie doeleindes ander mense te offer. Ek sal graag wil hê dat mense verstaan hoe dit voel om eintlik deur die apartheidsera te gegaan het, in moeilike omstandighede, en nou kom jy in die nuwe Suid-Afrika en nou’s die omstandighede omgekeer, maar Caz s’n het eintlik nie beter geraak nie.

Weet ons rêrig hoe wit ons is? Caz is nou ‘n uitsonderlike geval, maar elkeen van ons, dink ek, moet maar mooi gaan dink as ons onsself as suiwer wit wil beskou. Dis die dinge wat ek hoop mense net so bietjie oor gaan nadink.

Die een ding wat ek rêrig die leser mee wil laat, is om te besef daar’s oral parallelle; dinge wat gebeur, gebeur nie net in Suid-Afrika nie. Dieselfde soort goed het gebeur en gebeur steeds in die Kongo; dieselfde soort goed het in België gebeur. Soos byvoorbeeld mense wat uit hulle dorp uitgeskop word omdat die hawe uitgebrei moet word. Wat in die Kongo gebeur het met die onafhanklikheidswording daar het op ‘n ander manier, maar ook baie op dieselfde manier hier gebeur met die transformasie na 1994. So daar’s baie parallelle te trek, nie net tussen Afrika-lande nie, maar ook tussen Afrika-lande en Europese lande.

Wat is die grootste kompliment wat ’n skrywer kan ontvang?

“Ek kon nie die boek neersit nie” en “Voor ek jou boek gelees het, het ek net Engels gelees”.
 

* * * * * * * *

 
Lees ook:

 
Boekbesonderhede

Foto’s met dank aan Pinterest en die National Music Museum

 

Please register or log in to comment