Sunday Times Books LIVE Community Sign up

Login to Sunday Times Books LIVE

Forgotten password?

Forgotten your password?

Enter your username or email address and we'll send you reset instructions

Sunday Times Books LIVE

LAPA Uitgewers

@ Sunday Times Books LIVE

“Hoe voel ’n man wat dink sy land is gesteel deur wit diewe?” – Chanette Paul by die Offerlam-bekendstelling

Chanette Paul

 
Ilse Salzwedel, Chanette Paul en Sonja Janse van RensburgOfferlamDie laaste Woord en Wingerd-aand by Graffiti Lynnwood Bridge vir 2015 het begin met ‘n vasvra-kompetisie: Noem drie boeke deur Chanette Paul wat in die afgelope drie jaar verskyn het.

Neem ‘n oomblik, dink daaraan. Watter drie boeke kan jy opnoem?

Die Woord en Wingerd-viering in Pretoria was ter ere van Paul se een en veertigste boek en internasionale deurbraak, Offerlam, ‘n meesleurende roman wat in verskillende ruimtes en op verskeie tydsvlakke afspeel.

Ilse Salzwedel het die skrywer gepols oor haar reis na België om die land se kleure en geure te ervaar, die simboliek van die titels in die tweeluik (Offerande verskyn in Oktober 2016) en die unieke karakters waarom die storie draai.

Offerlam speel af in Suid-Afrika, België en die Demokratiese Republiek van die Kongo. Die storie begin in 1961, net na die onafhanklikheidswording van die Belgiese Kongo, met ‘n afgryslike moord. In die hede in Suid-Afrika ontvang Caz Colijn ‘n oproep van haar vervreemde familie; haar ma is op sterwe en sy moet haas na België as sy ooit die waarheid oor haar herkoms wil uitvind.

“Chanette skets België so goed,” het Salzwedel opgemerk. Die skrywer het ‘n maand in België spandeer waar sy elke dag die stad plat gestap het. “Ek wou daai aarde onder my voete voel, ek wou mense dophou, hul asems voel.” Paul het vertel dat sy geweldig baie boeke gelees het vir haar navorsing oor die geskiedenis van die Belgiese Kongo en die hedendaagse DRK.

Charlene Hougaard en Chanette PaulOor die titel, Offerlam, het Paul gesê: “Die karakters is eintlik gebruik vir ander mense se doeleindes.” Die woord “offerlam” suggereer dus die manier hoe mense nie respek het vir ander se lewens nie. Die opvolg, Offerande, gaan weer oor mense wat hulself, hul eie ideale en doeleindes en selfs hul lewens vir ander offer.

Die boek lewer ook kommentaar op die meerderwaardigheid en hebsug van die Belgiese kolonialiste. Salzwedel wou weet hoe Offerlam in België ontvang is. “Hulle is bewus dat daar baie onregte gepleeg is in die Kongo,” het Paul gesê. “Daar is ‘n groot bewustheid en sensitiwiteit hieroor. Ek het nie doekies omgedraai nie, maar ek het ook nie die mes gedraai nie.”

Die eerste karakter wat haar by Paul aangemeld het was Caz Colijn, ‘n Suid-Afrikaanse vrou wat ‘n band het met België. Sy moes ouer wees, en sy moes in 1961 gebore gewees het, het Paul vertel. “Ek weet wat ‘n drie en vyftigjarige vrou sou beleef het in haar leeftyd.”

Oor die karakter Erevu wou Salzwedel weet hoe moeilik dit was om ‘n man, en boonop ‘n Kongolees, te skryf? “Voor Gys Niemand het ek gesê ek kan nie in ‘n man se kop kom nie,” het Paul vertel. “Ek het my net probeer indink hoe iemand van daardie ouderdom sou wees.”

“Hoe voel ‘n man wat dink sy land is gesteel deur wit diewe?” het Paul gevra. “Sy perspektief is baie kort; hy’t my net vir kort rukkies in sy kop toegelaat.”

Paul het meer vertel oor haar gebruik van terugflitse om ‘n blik te werp op die destydse Kongo. “Met korter tonele voel ek ek kon die storie beter oordra,” het sy gesê. “Caz se tonele is heelwat langer as die ander.” Offerlam word vertel deur vier karakters. “Ek hou daarvan om so min as moontlik karakters te hê deur wie se oë jy moet kyk,” het sy gesê, “maar in die geval het ek al vier nodig gehad”.

“Dis ‘n groot voorreg in Suid-Afrika om die foon op te tel en die uitgewer te kan bel,” het sy gesê en verduidelik dat oorsese skrywers deur ‘n literêre agent moet gaan en nie die uitgewer direk kan kontak nie. Nadat jy die agent genader het moet jy ‘n Query Letter skryf, wat Paul beskryf as die grootste struikelblok in die proses. “Daar’s boeke geskryf oor hoe om ‘n Query Letter te skryf.”

 

* * * * * * * *

 
Annetjie van Wynegaard (@Annetjievw) het regstreeks vanaf die bekendstelling met #livebooks getwiet:
 


 

 

* * * * * * * *

 

Facebook galery

 

 
Verwante skakels:

 

Boekbesonderhede

 

Please register or log in to comment