Sunday Times Books LIVE Community Sign up

Login to Sunday Times Books LIVE

Forgotten password?

Forgotten your password?

Enter your username or email address and we'll send you reset instructions

Sunday Times Books LIVE

LAPA Uitgewers

@ Sunday Times Books LIVE

“My brein is ’n storiebrein … ek is ’n storiemens” – Irma Joubert gesels oor Immer wes

Irma Joubert

 
Immer wesIrma Joubert-aanhangers het beslis weer rede om fees te vier. Haar jongste roman Immer wes is die eerste in 'n nuwe drieluik - wat sy haar oorlogstrilogie noem - en fokus op die lyding van vroue en kinders in oorloë.

Immer wes is Hildegard se verhaal. As dogtertjie uit die Oos-Pruisiese adel moet sy wegvlug van die Bolsjewistiese opstand, en later as vrou moet sy weer wes vlug, dié keer saam met haar dogtertjie Esther.

Books LIVE het net voor die Woord en Wingerd-viering van Immer wes met die skrywer gesels oor haar nuwe historiese roman.

Lees die onderhoud:

* * * * * * * *

 

In ’n neutedop, waaroor gaan Immer wes?

Immer wes is die eerste van ’n nuwe trilogie – ek noem dit my oorlogstrilogie – en anders as die vorige twee trilogieë gaan dit nie oor die lotgevalle van een familie nie. Dit gaan eintlik oor die universele lot van vroue en veral kinders in oorloë. Dit gaan afspeel in drie verskillende lande; die eerste een is nou in Duitsland, die tweede een in Nederland en die derde een in Engeland.

Immer wes begin in 1905 in Rusland, waar die Russiese adel moes vlug met die Japans-Russiese Oorlog en ook die eerste Bolsjewistiese opstand, en daar reeds kry ons twee hooftemas wat dwarsdeur die boek vloei: Eerstens "immer wes" want hulle moes heeltyd wes trek; die eerste keer net tot in Oos-Pruise waar hulle die Eerste Wêreldoorlog beleef; die tweede keer tot in Berlyn waar hulle die Tweede Wêreldoorlog beleef en uiteindelik na Suidwes-Afrika.

Die tweede tema wat voorkom is Hildegard se vrees vir die Bolsjewiste. Sy word uiteindelik vasgekeer in Berlyn as ’n vrou van 45, met ’n klein dogtertjie, en die Bolsjewiste kom in. As mens lees van die stories oor die Tweede Wêreldoorlog weet ons dat daardie Russiese soldate absoluut verskriklike dade aan die vroue en kinders gedoen het.

Waar kom jou belangstelling in hierdie spesifieke geskiedenis vandaan?

Dit kom uit my laerskooldae toe ek Konsalik se boeke ontdek het, dit was in die vyftigerjare. Dit was vir my absoluut boeiend (my ma het nie geweet ek lees dit nie, ek was die oudste van ses kinders so sy’t nie altyd geweet wat ek doen nie) en kort daarna, toe ek in die hoërskool was, het ’n neef van my ma vir ons kom kuier. Ons ou skoolbus was ’n Bedfordtrok wat hulle omgebou het na die Tweede Wêreldoorlog in ’n bus. Ek het ook maar met die skoolbus skool toe gery en toe kom die neef van my ma kuier en hy sê vir my, “Weet jy dat daardie trok uit die oorlog uit kom?” en toe vertel hy vir my sy storie.

Hy het opgegaan na Oos-Afrika en na Noord-Afrika en hy’s uiteindelik gewond by die Slag van El Alamein. Die boek Anderkant Pontenilo was onder andere Oom Charles Holloway se storie. Daar het ek ewe skielik as baie jong kind besef hierdie stories wat ek van hou is werklikheid. En dis waar my liefde eerstens vir die historiese roman vandaan gekom het, maar spesifiek vir die Tweede Wêreldoorlog. Maar Immer wes het heelwat van die Eerste Wêreldoorlog ook in.

Hoe het jy jou navorsing en die skryfproses aangepak? Hoe weet jy of jy genoeg navorsing gedoen het?

Mens het nooit genoeg navorsing gedoen nie; aan die ander kant doen mens heeltemal te veel navorsing, want op die ou end moet die storie die belangrikste wees, nie die feite nie. Ek is baie geneig om te veel feite in te sit, omdat vir my as liefhebber van geskiedenis is die feite so geweldig interessant. Ek gebruik die feite om die omstandighede te skep sodat die karakters daar binne kan ontwikkel.

Dit begin altyd by mense wat vir my stories vertel. Hierdie storie het ek gekry by Rod Gribnitz wat vir my sy ma se storie vertel het, wat ook in 1905 as klein adelike dogtertjie moes vlug na Oos-Pruise. Hy’t sy hele storie vertel en ek het besef dít is wat ek wil skryf. Maar toe begin ek na ander mense se stories luister en agter in die boek is ’n hele paar mense wat ek daar noem na wie se stories ek geluister het. Terwyl ek in Nederland was, het ek ook met soveel mense gepraat oor hulle ervaring van die oorlog, want of dit nou in Duitsland of in Holland of in Engeland is, of in Frankryk, die vrouens en kinders se ervaring van oorlog en die manier waarop hulle vlug is altyd dieselfde. Dis die vrouens en kinders wat stap met ’n stootkarretjie of ’n babawaentjie só vol gepak; en kinders op sleeptou, en dis hoe hulle gevlug het.

Hoekom skryf jy trilogieë?

Mense wil verskriklik graag nóg weet van daardie karakter, en dis hoekom in hierdie trilogie die karakters mekaar wel ontmoet. Veral in die derde boek gaan die karakters uiteindelik by mekaar uitkom – almal van hulle. Jy sal sien in hierdie eerste boek het Hildegard die hoofkarakter ’n vreeslike oulike dogtertjie, so ’n positiewe klein vrolike mensie, Esther, en sy word een van die hoof-bykarakters in die derde boek. So die derde boek gaan eintlik alles bind.

Ek skryf nie meer as drie boeke nie want teen daardie tyd is ek verveeld met die onderwerp, en dan’t ek nou genoeg van hierdie familie gehad of hierdie mense en dan’s ek weer lus vir iets heeltemal nuuts.

Hoe hou jy al hierdie idees en stories bymekaar in jou kop?

My brein is ’n storiebrein. Jy moet verniet vir my vra om wiskunde te doen, om rekeningkunde te doen! Jy’t gesien hoe’t daai Heyneke Meyer op sy vingers getel, dis min of meer ek. Ek’s nie ’n wetenskaplike persoon nie, ek’s nie ’n vreeslike praktiese persoon nie – ek is ’n storiemens. Stories maak vir my totaal sin; ek kan sien hoe kom die stories bymekaar uit. Dis bitter selde dat daar ’n los draad agterbly wat ek moet gaan haal. As iemand vir my stories vertel dan pas ek dit in my storie in; ek plooi daai werklike ervarings om by my karakters te pas.

Wanneer was jou aha-oomblik toe jy besef het nou is jy ’n skrywer?

Ek dink ek moet dit miskien nog besef! My eerste aha-oomblik was toe Huisgenoot my eerste storie aanvaar, en ek het tien Huisgenote gekoop en vir almal gewys dis my storie. Dit was ’n aha-oomblik. Ek het begin met ligte liefdesverhale – toe LAPA die eerste een publiseer, toe ek daai boekie in my hand het, dit was vir my ’n totale AHA!-oomblik. En toe later toe ek genomineer word vir pryse, of toe RSG vir my vra, mag hulle my boeke voorlees. Dit was alles aha-oomblikke.

Verlede jaar was vir my ook drie vreeslike hoogtepunte. Eerstens is my boek Anderkant Pontenilo aangewys deur die Biblioteekvereniging as een van die top twintig boeke van die afgelope twintig jaar van demokrasie en dit sluit alle Suid-Afrikaanse tale in. Dit was vir my ’n geweldige aha-oomblik, ek kon dit nie glo nie. Tweedens, Kronkelpad het in Nederland die Publieksprys gewen – dit is ’n prys waarvoor die publiek stem. Dis my lesers wat stem, dis die belangrikste. En dan derdens aan die einde van verlede jaar het die Universiteit van Pretoria wat my alma mater is, vir my hulle hoogste erebewystoekenning gegee.

En dan ook verlede jaar was ek saam met skrywers soos Etienne van Heerden, Marita van der Vyver, Sonja Loots en daardie mense op ’n toer deur Nederland vir omtrent tien dae.

Dit was fantasties, absoluut heerlik. Ons het dit so geniet, ons het by party plekke minder lesers gehad, ander plekke geweldig baie lesers. Ons wou hoorders bekeer tot ons vertaalde Afrikaanse boeke. By die Universiteit van Groningen was daar seker maklik 500 mense gewees, dit was heerlik om al die skrywers te leer ken.

 
Hoe betrokke is jy by die vertalingsproses?

Ek’s redelik baie betrokke, nie soveel in Duits nie want hulle vertaal uit Afrikaans uit maar as hulle vashaak gaan hulle na die Nederlands toe. Ek en die Nederlandse vertaler het geweldig baie met mekaar te doen omdat daar dikwels baie Suid-Afrikaanse goed is wat sy nie weet nie; sy is nie ’n Suid-Afrikaner nie, die Duitser is ook nie ’n Suid-Afrikaner nie. Hulle het Afrikaans geleer. Byvoorbeeld as ek nou praat van ’n oulap, wat ’n tiekie was in daardie tyd, dan weet die vertaler nie wat dit is nie. Ek het selfs gesê “dis ’n vreeslike turksvy” – die uitdrukking – sy weet nie wat ’n turksvy is nie, hoe vertaal ek dit in Nederlands? Ek verduidelik vir haar die betekenis en dan doen sy haar eie vertaling.

In Tolbos het ek geweldig baie gebruik gemaak van die alternatiewe Afrikaanse musiek. Afrikaanse mense, veral die geslag wat nou min of meer so tussen veertig en vyfenvyftig is, ken daai musiek geweldig goed. Daardie boek spreek tot hulle, maar in Nederland het dit totaal verby die mense gegaan. Waar ek dit baie goed raakgesien het is spesifiek by Groningen. Ons het gesels oor die probleme van vertaal, en iemand in die gehoor vra toe vir my, hoe voel jy oor hierdie alternatiewe Afrikaanse musiek? Toe sê ek wel, my reaksie op die alternatiewe Afrikaanse musiek is “sit dit af, sit dit af”. En toe lag al die skrywers, want dis ’n Afrikaanse lied, en nie een persoon in die gehoor lag nie. Toe sê ek vir hulle, sien julle watse probleem het ons hier gehad? Daar moes die vertaler en ek baie nou saamwerk.

Hoe weet jy of ’n storie goed is?

Mens weet dit nooit nie. As jy klaar is met ’n storie, veral as jy vir omtrent twee jaar aan ’n storie gewerk het, agtien maande, dan weet jy dis die grootste mislukking wat jy nog ooit geskryf het. Om die waarheid te sê, toe ek die eerste keer moes gaan praat (oor die nuwe boek) toe dog ek nou ja, ek gaan nou maar my bes doen om te praat oor hierdie boek, maar ek weet nie of hy ’n sukses is nie. En daardie eerste aand het mense al vir my gesê, jy moet nooit ophou skryf nie, hierdie boek, ek kon hom nie neersit nie. Nou al hoe jy weet ’n storie is ’n sukses is as mense vir jou sê, “Ek kon nie hierdie boek neersit nie.”

 

* * * * * * * *

 
Lees ook:

 

Boekbesonderhede

 

Please register or log in to comment