Sunday Times Books LIVE Community Sign up

Login to Sunday Times Books LIVE

Forgotten password?

Forgotten your password?

Enter your username or email address and we'll send you reset instructions

Sunday Times Books LIVE

LAPA Uitgewers

@ Sunday Times Books LIVE

’n Goeie dag vir boomklim: Lees ’n uittreksel uit Jaco Jacobs se nuwe jeugroman

’n Goeie dag vir boomklimJaco Jacobs se aangrypende grootwordverhaal ’n Goeie dag vir boomklim het pas by LAPA verskyn.

Hierdie lekkerlees-jeugroman vertel die verhaal van ‘n middelkind wat moeg is daarvoor om in sy twee broers se skaduwee te leef. Sy ouer broer breek swemrekords en meisies se harte. Sy kleinboetie is op nege reeds ’n uitgeslape entrepreneur met briljante geldmaakplanne. En Marnus-die-middelmannetjie voel partykeer asof hy onsigbaar is.

Op ‘n dag verander alles egter wanneer ‘n meisie genaamd Leila een oggend aan Marnus-hulle se deur kom klop en vra hy moet ‘n petisie teken. So begin ‘n onverwagse avontuur wat moontlik alles vir Marnus kan verander …

Dié heerlike verhaal, wat gepas is vir jonk en oud, is ook ingesluit op Exclusive Books se jaarlikse Kersfeeslys – ‘n aanduiding dat een van die topboeke van die jaar is. Onthou: ‘n mens word nooit te oud vir boomklim nie!

Vir ‘n voorsmakie, hier is vier aanhalings en ‘n vet uittreksel uit ’n Goeie dag vir boomklim:
 

 

“’n Boom?”
   Ek kyk verbaas na Leila.
   Sy knik. “’n Witkaree. Wetenskaplike naam Rhus pendulina.”
   “Aangename kennis, boom,” sê ek.
   Die boom staan stil en effens treurig in die vroegoggendhitte.
   Ek vryf oor die skurwe stam. “Is dit ’n bedreigde spesie of iets?”
   “Nie regtig nie,” sê Leila sonder om na my te kyk. Sy kyk boontoe asof sy wil seker maak elke blaar is nog op sy plek. “Baie mense plant witkarees in hulle tuin. Hulle het nie baie water nodig nie en groei vinnig.” Sy klink ’n bietjie soos iemand wat ’n TV-program aanbied.
   Ek frons. “So, hoekom het jy ’n petisie opgestel om die boom te red?”
   Leila kyk lank na my, asof sy probeer besluit wat sy van my dink.
   Ek wonder wat sy sien. Ek het nie blonde hare, blou oë en bultende spiere soos my oudste broer nie. Ek het nie ’n wipneus vol sproete en ’n opvreet-oulike gesiggie soos my kleinboetie 14 nie. Nie dat ek dink my kleinboetie se gesig is opvreet-oulik nie, maar ou tannies is geneig om so te dink – net voordat Adrian hulle met die een of ander skelmstreek oorreed om vir hom geld te gee.
   My hare is bruin en effens te lank en vol kroontjies wat dit gedurig in alle rigtings laat staan. My oë is groen. As ek by my broers is, is ek altyd die laaste een wat enige iemand raaksien. Marnus-die-middelmannetjie. Soms voel dit asof ek onsigbaar is.
   Stadig blaas Leila haar asem uit terwyl sy my steeds stip dophou. “Dit is nie sommer enige boom nie,” sê sy. “Dit is die Boom in die Middel van die Heelal.” ’n Mens kan die hoofletters in haar stem hoor.
   Voor ek dit kan keer, proes ek van die lag. Hierdie meisiekind is nie lekker in haar kop nie. Wat het my besiel om al die pad tot hier by die parkie te stap, drie straatblokke ver, sodat sy my ’n boom kan wys?
   “Die Boom in die Middel van die Heelal?” vra ek.
   “Vergeet dit.” Haar oë flits. “Ek het gedink … Toemaar, los dit net.”
   Sy klink meteens woedend, en ek verwag dat sy gaan omdraai en wegstap. Uit die manier waarop sy my aangluur, is dit duidelik dat sy verwag ék moet die pad vat. Ek laat my nie twee keer nooi nie. Met ’n skoueroptrek draai ek om en begin terug huis toe loop. Ek het nie lus vir mallerige meisiekinders se geselskap nie. Buitendien, ek het skottelgoed om te was.
   Daar is nog net drie en twintig dae van hierdie aaklige Desembervakansie oor. Jip, ek het getel. Hoe vinniger ek vandag se skottelgoedbeurt agter die rug kry, hoe beter. Dan bly daar nog net twee en twintig wasbakke vol vuil skottelgoed oor.
   “Toe ek klein was, het ek altyd in hierdie parkie kom speel,” sê Leila. Haar stem is so sag dat ek byna-byna nie kan hoor wat sy sê nie. Ek gaan staan. “Ek het in hierdie boom geleer boomklim.” Ek draai om, maar dit lyk of sy nie eens weet dat ek na haar staan en kyk nie. Dit lyk asof sy met die boom praat. “Nie alle bome is goeie boomklimbome nie. ’n Witkaree se stam is skurf en jy kan maklik jou velle verloor as jy gly. Dis nie regtig ideaal vir boomklim nie, maar hierdie een se takke is lekker laag en dik. Hulle groei naby aan mekaar sodat jy tot amper heel bo kan klouter. Perfek vir boomklim.” Sy streel oor die boom se stam.
   Ons kyk albei om toe ’n wit bakkie oor die gras aangery kom.
   “Dis hulle,” sê Leila met ’n donker stem.
   Ek weet nie wie “hulle” is nie. Dalk die ouens met die wit jasse wat haar kom haal om haar te gaan toesluit in ’n plek vir mense wat met bome praat?
   Ek voel dadelik skuldig oor die gedagte.
   Die bakkie hou stil en twee mans klim uit. Een van hulle het ’n knipbord met papiere wat hom baie belangrik laat lyk. Sy hemp span oor sy maag sodat dit lyk of sy knope enige oomblik gaan afspring, en sy voorkop blink van die sweet.
   Die ander een is lank en maer, met ’n spits gesig en ’n yl snorretjie. Hy kyk nie een keer na ons kant toe nie – hy begin net dadelik die boom bestudeer.
   “Ek het ’n petisie opgestel,” sê Leila vir die man met die knipbord. Sy hou die papier met die handtekeninge na hom uit, asof sy wil wys haar papier is net so belangrik soos syne. “Amper vyftig mense het dit al geteken.”
   Aan haar stemtoon kan ’n mens hoor Leila tel die stemme op haar petisie nes ek die dae aftel wat ek nog skottelgoed moet was.
   Ek voel skielik sleg omdat ek nie my handtekening op die papier wou sit nie.
   “Te laat,” sê die man sonder om van sy knipbord af op te kyk. “Papierwerk is gedoen.”
   “Maar dis ’n petisie!” sê Leila. Haar blou oë blits. “Mense het dit geteken omdat hulle nie wil hê die boom moet afgesaag word nie. Amper vyftig mense. Mense wat omgee. Julle kan tog nie net aangaan daarmee nie.” Haar stem ry op en af soos ’n wipplank.
   Die man trek sy skouers op. “Probeer die munisipale bestuurder.”
   “Die munisipale bestuurder?” vra Leila hoopvol.
   “Met vakansie,” sê die man. “Einde Januarie terug.”
   Dit klink of dit vir hom te veel moeite is om in volsinne te praat.
   Die maer man begin met presiese treë rondom die boom stap. Hy kyk daarna soos ek en Donovan en Adrian altyd na die laaste skeppie Sondagmiddagpoeding in die bak kyk. Dit lyk asof hy van plan is om nie net die boom af te saag nie, maar dit te eet ook.
   “Wanneer is julle van plan om dit af te saag?” Met die laaste paar woorde klink dit of Leila se stem oor ’n spoedhobbel jaag.
   “Pyp word vroeg in Januarie gelê,” antwoord die man. “Boom moet vandag val.”
   Leila trek haar asem skerp in. Haar oë rek. Sy begin haar sandale afstroop en skop dit eenkant toe. Voor ek kan vra wat sy doen, spring sy om en begin rats teen die boom opklouter.
   “Waar gaan jy nou?” vra die man verbaas.
   Leila se rok flap om haar bene. Ek staan saam met die twee mans van die munisipaliteit en kyk hoe sy haar op ’n tak tuismaak. Net haar twee kaal voete hang tussen die blare uit. Haar voetsole is vuilbruin soos die binnekant
van haar sandale.
   Die man van die munisipaliteit kyk pleitend na my, asof hy verwag ek moet iets doen. Ek trek net my skouers op. Die man sug en bring ’n sakdoek te voorskyn. Stadig vee hy die sweet van sy rooi voorkop af. “Daai meisiekind.” Hy skud sy kop. “Praat met haar,” sê hy vir my. “Die pypleiding. G’n keuse nie. Boom is in die pad.”
   “Die boom was eerste hier!” roep Leila.
   “Moenie worry nie, Mister Venter, sodra my span hier is, kan een van hulle met ’n leer opklim en die meisiekind daar afhaal,” sê die maer man met die rotgesig. Sy stemtoon is dreigend.
   “Niemand vat aan my nie,” kom Leila se stem tussen die blare uit.
   Ek kyk op na die boom. Strepies sonlig flits verblindend tussen die blare, amper soos wanneer die son op water speel. ’n Onverwagse duiseligheid laat die sonlig voor my oë swem. Dit lyk asof die boom stadig in die rondte draai. Ek
knyp ’n oomblik lank my oë toe.
   Ek dink aan my oudste broer wat vandag weer die hele dag lank langs die swembad gaan lê en dreig om my wedgies te gee as ek nie vir hom koeldrank aandra nie.
   Ek dink aan my kleinboetie, die snotkopslawedrywer, wat my elke oggend beveel om sy bed op te maak in ruil vir sakgeld.
   Ek dink aan die deurklokkie wat “Jingle Bells” speel en die meisie met die draadjies wat betaal het sodat my broer haar kan soen.
   Ek dink aan my skoolrapport. Ek het hierdie kwartaal 77% vir wiskunde gekry – meer as 10% beter as verlede kwartaal – en ek het die beste in my klas in Afrikaans gevaar. Meneer Fourie sê dis omdat ek sulke goeie opstelle skryf. My pa het nie eens my rapport raakgesien nie, want hy was te besig om Donovan uit te trap oor sy vrot punte en Adrian te prys oor sy briljante rapport. Maak nie saak wat gebeur nie, ek verdwyn altyd iewers tussen my twee broers. Altyd iewers in die middel, waar niemand my raaksien nie.
   Toe ek weer my oë oopmaak, kyk ek af en sien die rooi-en-wit vadoek oor my skouer. Ek het skoon daarvan vergeet – ek het wraggies al die pad tot hier geloop, drie blokke ver, met ’n vadoek oor my skouer. Dit voel soos die soort vreemde ding wat Leila sal doen. Miskien is haar vreemdheid aansteeklik.
   Ek dink aan die hoop skottelgoed wat by die huis vir my wag.
   Bokant my skop Leila se twee vuil voete heen en weer tussen die groen blare.
   Iewers koer ’n tortelduif.
   Die rooigesig-man van die munisipaliteit snuit sy neus.
   Ek dink partykeer doen ’n mens in ’n oogwink, sonder om te dink, iets wat jou hele lewe verander.
   Jy vra iemand in die middel van ’n grilfliek om met jou te trou, soos my pa my ma gevra het.
   Jy besluit vyfuur in die oggend jy is lus vir roomys, soos my pa se suster, tannie Karla, verlede jaar toe sy douvoordag in ’n motorongeluk beland het en verlam is.
   Of jy klim agter ’n vreemde meisiekind aan in ’n boom, met ’n kombuisvadoek oor jou skouer.

Boekbesonderhede

 

Please register or log in to comment