Sunday Times Books LIVE Community Sign up

Login to Sunday Times Books LIVE

Forgotten password?

Forgotten your password?

Enter your username or email address and we'll send you reset instructions

Sunday Times Books LIVE

LAPA Uitgewers

@ Sunday Times Books LIVE

“Genetika fassineer my”: Madelein Rust gesels oor Monstersaad en die biologiese oorsprong van boosheid

 
MonstersaadMadelein Rust se jongste spanningsroman, Monstersaad, het vanjaar by LAPA verskyn en vertel die verhaal van ‘n forensiese sielkundige, Renata Malan, wat op die spoor van ‘n gewetenlose reeksmoordenaar beland.

Terselftertyd het Renata ook haar eie spoke wat sy moet trotseer. Beide haar pa en oupa was moordenaars, en Renata sukkel om haar herkoms en haar traumatiese jare in ‘n kinderhuis te verwerk.

Books LIVE het met Rust gesels oor die inspirasie vir Monstersaad, haar skryfproses, die skepping van geloofwaardige karakters en die sielkundige boustene waarop die verhaal rus.

Lees die onderhoud:

 

* * * * * * * *

 

Sonder om iets weg te gee, waarna verwys die titel van jou jongste roman – Monstersaad?

Die titel verwys na die biologiese oorsprong van boosheid. Die boek verken die debat oor die genetiese oorsprong van sosiopatie (al dan nie) teen die agtergrond van ’n speurverhaal. Die hoofkarakter, Renata Malan, is die dogter van ’n moordenaar en daar is ander moordenaars in haar stamboom. Sy verdien haar daaglikse brood deur moordenaars aan te keer en as forensiese sielkundige voel sy dat sy toegerus is met beide die boekkennis en die instinkte van ’n moordenaar. Dit maak haar suksesvol in haar werk, maar beteken dit ook dat sy inherent boos is? Haar lewe word gekenmerk deur ’n stryd teen die donkerte wat in haar is en dit is ’n onderliggende tema in die boek.

Waar het die idee vir Monstersaad vandaan gekom?

Die idee het ontstaan toe ek navorsing gedoen het oor tweelingstudies wat uitgevoer is rondom die hipotese dat sosiopatie wel geneties is. Genetika fassineer my. Dit het my laat wonder oor hoe die kind van ’n reeksmoordenaar moet voel oor sy of haar ouer se dade. Is daar skuldgevoelens? Is daar vrees dat die donkerte ook in hulle is? Ek het besluit om dit te verken teen die agtergrond van ’n moord wat effens lomp vermom is as ’n selfmoord om ’n ekstra spanningslyn by te voeg. Die storielyn van die slagoffer, Melissa Verhoef, is een van daardie wat hom so half op ’n skinkbord vir jou aanbied. Dit was net daar.

Monstersaad en jou debuutroman, Die 13de kaart, is albei spanningsverhale. Waarom skryf jy in hierdie genre?

Ek dink die genre het my uitgekies. As tiener moes ek vir die klein kindertjies in die buurt spookstories vertel – op hulle versoek. Dit was elke Vrydagmiddag se ding. My slaapkamer was vol kinders wat met groot oë gesit en luister het na die jongste gruverhaal wat ek net daar gesit en uitdink het. Dit was vir my tog te lekker om hulle reaksie te sien. Tieners is mos maar soms aaklig. Van my kortverhale was al in ander genres, maar ek geniet spanningsverhale omdat ’n mens so noukeurig moet wees en omdat daar soveel navorsing ingaan voordat jy kan begin skryf. Leunstoelspeurders is slim mense.

Wanneer, en hoe, het jy tot die besef gekom dat jy wil skryf?

Ek skat dit was terwyl ek my eerste opstel as skoolkind geskryf het. Dit het so wonderlik “reg” gevoel. Die woorde het net gevloei. Vandat ek kan onthou het ek storietjies geskryf vir my eie plesier, so daar was by my nooit enige twyfel dat skryf ’n integrale deel van my lewe sou bly nie.

Monstersaad se hoofkarakter – Renata Malan – is ’n forensiese sielkundige en daar is teorieë in die boek oor onder meer hoe genetika jou noodlot beïnvloed. Hoe het jy navorsing hieroor gedoen?

Ek het gelees en gelees en gelees. Maande lank. Wetenskaplike verhandelings oor tweelingstudies, artikels op die internet, vakliteratuur en die lewensverhale van reeksmoordenaars. Dit was fassinerende leesstof.

Jy’s self geleerd in sielkunde – stem jy saam met Renata se lewensuitkyk?

Op die oomblik – ja. Ek is egter altyd oop vir oortuiging van die teendeel. Wanneer mens navorsing doen is daar altyd oorgenoeg stawing vir jou eie teorie. Dit hang af wat jou soek kriteria is. Die wonderlike ding van die mens se psige en verstand is dat dit, ten spyte van die baie navorsing, nog so onverstaanbaar is. Dit gee vir ’n skrywer oorgenoeg om mee rond te speel.

Hoe skep jy jou karakters, veral ’n sterk vroulike figuur soos Renata? En hoe skep jy dan ander figure rondom die hooffiguur?

Die skepping van al die karakters is ’n groot taak opsigself. Ek skryf ’n profiel vir elke karakter. Een wat begin by hulle kinderdae en wat aangaan tot die hede. Dit help baie om te voorspel wat ’n karakter gaan doen en sê in enige gegewe situasie ten einde die karakter geloofwaardig te maak. Karakterisering is iets waaraan ek, myns insiens, nog baie moet werk en ek geniet die reis terdeë.

Daar’s ook ’n tikkie romanse in die verhaal – hoekom liefde in ’n misdaadroman?

Liefde is, soos haat en afguns, emosies wat altyd by die mens voorkom. Dit is net ’n lekker teenstelling teen al die gruwelike dinge wat in die verhaal gebeur. ’n Bietjie afwisseling is nooit ’n slegte ding nie.

Wat inspireer jou? Noem jou gunsteling skrywers en boeke.

Koerantberigte en artikels oor regte, egte mense en voorvalle inspireer my. En natuurlik die lewensverhale van geweldsmisdadigers. Afrikaanse skrywers wat ek bewonder is Chanette Paul, Martin Steyn, Deon Meyer en deesdae Dibi en Henk Breytenbach. My gunstelingskrywer is Ruth Rendell. Haar karakterisering was briljant. My doel is om dit reg te kry wat sy reggekry het.

Laastens, watter raad het jy vir nuwe skrywers? Wat is die een gesegde oor skryf waarna jy altyd terugkeer?

Ek glo ’n skrywer word gebore, nie gemaak nie. En wanneer jy nie deur ’n dag kan gaan sonder om te wil skryf nie, beteken dit waarskynlik dat jy ’n gebore skrywer is. Dus: vertrou jou instink en moet nooit opgee nie. Lees baie in die genre waarin jy wil skryf, maar bly getrou aan jou styl.

Baie belangrik: skryf elke dag iets. Al is dit net een sin. Moenie ophou skryf nie. Wanneer jy iets instuur vir oorweging en dit word afgekeur, moenie moed verloor nie. Hou net aan werk aan jou stories. John Kennedy Toole se A Confederacy of Dunces is deur tallose uitgewers afgekeur voordat dit na sy selfmoord uiteindelik gepubliseer is. Dit het ’n Pulitzer-prys ingepalm en word beskou as ’n uitstaande klassieke werk wat kultusstatus bereik het.

Boekbesonderhede

 

Please register or log in to comment