Sunday Times Books LIVE Community Sign up

Login to Sunday Times Books LIVE

Forgotten password?

Forgotten your password?

Enter your username or email address and we'll send you reset instructions

Sunday Times Books LIVE

LAPA Uitgewers

@ Sunday Times Books LIVE

Hoekom is spanningslektuur so gewild? Martin Steyn blameer endorfiene

Books LIVE het onlangs met die opkomende misdaadskrywer Martin Steyn gesels.

In die eerste deel van die onderhoud het die skrywer meer vertel oor sy tweede misdaadroman – Skuldig – en die inspirasie vir sy hoofkarakters; die skep van volwaardige vrouekarakters; wat ons met skuld “moet” maak; sy navorsingsproses en die ervaring van sy tweede boek in vergelyking met sy eerste een, Donker spoor.

In die tweede deel van die gesprek het Steyn ‘n antwoord gewaag op die vraag, “Hoekom dink jy is spanningslektuur so gewild?” Hy deel ook die hoogtepunt van sy skrywersloopbaan sover, waarmee hy homself besig hou as hy nie skryf nie en hoe sy skryfproses lyk. Die skrywer besin ook oor die rol van skrywers in die moderne konteks en deel raad vir skrywers wat graag wil publiseer.

Lees onder vir Steyn se insigte:
 

* * * * * * * *

 

Martin Steyn

 
Donker spoorSkuldig

Hoekom dink jy is spanningslektuur so gewild?

Dit het te doen met die soort stories. Karakters in lewensgevaar. Stukkende helde. Interessante boosdoeners. Donker dade. Die konfrontasie tussen goed en sleg. Dis stories wat aandag trek en emosie uitlok. Daar gebeur dinge, sigbaar en agter die skerms. Daar is raaisels en wendings. Die situasies is oor die algemeen moontlik, al is dit dalk ’n bietjie oordrewe. En jy kan in ’n veilige plek saam met die karakters deur hierdie gevaarlike gebeure gaan.

Mense hou daarvan om ’n mate van spanning te ervaar. Dit laat jou lewend voel. Een van die dinge wat gebeur wanneer mens spanning ervaar, is dat endorfien vrygestel word. Die doel is om jou te help om vrees en pyn te oorkom, maar dit veroorsaak ook ’n effens euforiese gevoel. Wanneer jy ’n spannende boek lees of ’n riller kyk, ervaar jy ook spanning as jy jou inleef. Jou liggaam ervaar die simptome van spanning, maar omdat jy weet jy is veilig, is dit nie so erg nie. Maar jy kry nog steeds jou endorfien-“high”.

Wat is sover die hoogtepunt van jou skrywersloopbaan?

Toe ek daardie kartonboksie oopmaak en die geskenkpapier oopvou en Donker spoor optel. Ek het dit bestaar, bestreel en beruik asof dit ’n nuwe baba was. Heel moontlik teen my vasgedruk ook toe niemand kyk nie. :D

Waarmee hou jy jouself besig wanneer jy nie skryf nie?

Ek staar. En wag vir die volgende toneel of gesprek of oplossing om te kom.

Of ek lees, antwoord e-posse of Facebook-boodskappe, soek dump sites, soek moordwapens, luister musiek, kyk een van die TV-reekse waarvan ek hou of F1 as dit ’n Grand Prix-naweek is, kuier saam met familie en vriende, woon ander skrywers se bekendstellings by, wonder oor die tipe persoon wat dump sites en moordwapens soek . . .

Hoe lyk jou skryfproses?

Baie organies. Ek werk nie die storielyn voor die tyd uit nie. Ek begin op bladsy een – verkieslik op ’n moordtoneel (Skuldig), of ten minste op pad daarheen (Donker spoor) – en kyk wat die speurders doen. Hulle ondersoek die toneel, praat met getuies en volg enige leidrade op. En so gaan ons aan.

Natuurlik begin dit met ’n idee waaroor die storie gaan. Met Donker spoor was dit die ware verhaal van hierdie moordenaar wat my geïnteresseer het. Ek het sy persoonlikheid en sielkunde gevat, hom in Durbanville gesit, en die storie begin waar die derde slagoffer ontdek word. Met Skuldig was dit baie lekker, want die idee, titel en basiese storielyn (met einde) het alles sommer net so mooi in my gedagtes opgedaag. Ek moes dit net inkleur en die nodige navorsing, veral oor vuurwapens en ballistiek, doen. Die manuskrip waaraan ek nou skryf, is weer omtrent die teenoorgestelde. Ek is al heelwat nader aan die einde as die begin, maar weet nie wat daardie einde gaan wees nie. Daar is interessante dinge aan die gang, maar hoe dit gaan uitdraai …

Wat kan Martin Steyn-aanhangers volgende verwag?

Op die oomblik is ek hard aan die werk aan die volgende manuskrip. Soos ek sê, ek is nader aan die einde as die begin, maar daar is nog heelwat om te skryf en uit te vind (ook die titel).

Wat dink jy is die rol van die skrywer vandag, veral in Afrikaans?

Om goeie stories te skryf wat mense wil lees. So eenvoudig soos dit. Ek hoor by Izak de Vries (bemarker by LAPA) dat die plaaslike mark van omtrent driekwart Engels, kwart Afrikaans tien jaar terug na amper helfte-helfte gegaan het. Daar is baie Afrikaanssprekendes wat lees, boeke lees, en wat graag goeie stories in Afrikaans wil lees. ’n Skrywer kan allerhande goed byroer – veral in misdaadfiksie is daar baie kwessies wat jy kan ondersoek – maar ’n leser koop ’n fiksieboek om vermaak te word. ’n Leser sê: “Vat my hand en neem my op ’n avontuur.” Dis die fiksieskrywer se rol.

Wat is jou raad vir skrywers wat ook graag wil publiseer?

Moenie opgee nie. Klop by ’n kenner aan om jou skryfwerk te help slyp. Iets soos die Skryf ’n roman-kursus van die South African Writers College, waar jy ’n tutor het wat na jou manuskrip kyk en terugvoer gee terwyl jy dit skryf. Of stuur jou manuskrip aan ’n manuskripontwikkelaar soos Madri Victor. Luister na hierdie mense se raad en kritiek. Kritiek deur ’n kenner is baie waardevol vir ’n skrywer en ’n geleentheid om te groei. Gryp dit aan. En moenie opgee nie.

 

* * * * * * * *

 

Het jy Skuldig en Donker spoor geniet? Gesels saam in die kommentaarspasie, of op Facebook of Twitter!

Lees ook:

 

Boekbesonderhede

 

Please register or log in to comment