Sunday Times Books LIVE Community Sign up

Login to Sunday Times Books LIVE

Forgotten password?

Forgotten your password?

Enter your username or email address and we'll send you reset instructions

Sunday Times Books LIVE

LAPA Uitgewers

@ Sunday Times Books LIVE

“Die groot kwessie is nie soseer skuld nie, maar verantwoordelikheid” – Martin Steyn gesels oor Skuldig

Martin Steyn

 
Donker spoorSkuldig“Een swaeltjie maak nou wel nie ’n somer nie, maar Martin Steyn se Skuldig herbevestig die skrywer se enorme talent.”

Só het krimikenner Jonathan Amid onlangs in ‘n resensie op LitNet geskryf oor die man wie Louis Esterhuizen bestempel het as die skrywer van die beste krimidebuut in Afrikaans, Donker spoor.

Books LIVE het na sy boektoer vir Steyn gepeper met vrae – oor alles van sy tweede spanningsroman tot die rol van skrywers – en sy antwoorde het glad nie teleurgestel nie.

Maak ‘n koppie koffie, sit terug en lees die eerste deel van die boeiende gesprek wat gevolg het:
 

* * * * * * * *

 

Martin Steyn en Jono AmidVir dié wat nog nie Skuldig kon lees nie, wat kan hul verwag?

Adjudant Colin Menck staan in ’n middeljarige tandarts se televisiekamer. Dis aand. Die tandarts lê op die vloer. Daar is ’n enkele koeëlwond in sy voorkop en ’n sny oor die palm van sy regterhand. Daar is geen tekens van gedwonge toegang of ’n struweling nie. Net sewe letters in bloed teen die muur: SKULDIG.

Menck is seker dis ’n professionele huurmoordenaar se werk. Maar wie het hom gehuur? En waaraan dink hierdie persoon is die tandarts skuldig dat dit ’n teregstelling en skulderkentenis verdien?

Terwyl die polisie nog die leidrade volg, word ’n tweede man tereggestel. Waaraan is hy “skuldig”? Hou dit verband met die eerste moord? Want daar is nie ’n ooglopende konneksie tussen die slagoffers nie. En is daar nog “skuldiges”? Hoeveel name is op die lys? Wat begin het as een vreemde moord het nou verander in ’n jaagtog teen tyd.

Waar het jy inspirasie gekry vir die hoofkarakters in Skuldig (veral dié wat nie bekend is aan jou Donker spoor-lesers nie)?

Ek hou van gewone mense. Menck is nie ’n uitsonderlike speurder nie. Hy weet nie sommer met die intrapslag wie is skuldig en wie nie. Hy het sy ervaring, sy instink en watter leidrade ook al beskikbaar is en hy werk daarmee totdat dit hopelik iewers heen lei. Hy is ’n grys karakter, wat nie altyd die regte besluit neem of die beste opsie kies nie, maar hy is ’n getroue polisieman wat meestal sy bes doen om ’n saak op te los en geregtigheid te probeer kry vir die slagoffer. Soms is dit moeilik, want moordsake is ook nie altyd swart en wit nie.

Verder is Menck gelukkig getroud, hy is lief vir sy vrou, lief vir sy kinders, al sukkel sy verhouding met sy tienerseun maar ’n bietjie. Hy het nie ernstige persoonlike probleme of demone nie. Nie alle polisiemanne is geskei en sukkel met drank of vroue of geweld of die een of ander sielkundige eksentrisiteit nie. Dit interesseer my om te sien hoe hierdie “normale” speurders hulle werk doen, hoe hulle hierdie gruwelike moorde ondersoek en dit hanteer.

Menck kom natuurlik uit Donker spoor, waar hy ou Mags (die hoofkarakter) se partner was. Hy sit nou met ’n nuwe partner, die jonger Derek Winters, en die twee het mekaar nog nie gevind nie. Winters wou graag EGM toe kom om groot moordsake te ondersoek. Hy is in sy middel twintigs, ongetroud, en nog nie baie lank in die Kaapse metropool nie. Winters is eintlik nogal ’n gekompliseerde mens. Daar lê nog interessante tye voor . . .

Tydens jou gesprek met Peet Venter en Henk Breytenbach verlede maand het jy gesê, “Ek probeer om vroue te skep, nie vrouekarakters nie – ’n mens met ’n vol innerlike lewe.” En toe later, “Vir my is geweld teen vroue iets wat my pla.”

Hoe gaan jy te werk om daardie kwessie aan te spreek, en volwaardige vrouekarakters te skep?

Elke vrou in die storie – of sy nou die forensiese patoloog is of die ontvangsdame wie se naam nooit genoem word nie – is ’n mens. Sy vertolk nie ’n rol nie. Daardie meisie by die oogkundige is nie daar om mooi en sexy te wees nie. Sy is daar, want dis haar werk. Miskien geniet sy dit of miskien doen sy dit net vir die geld. Toe Menck daar instap, is sy dalk besig om te droom oor ’n vakansie Thailand toe waarvoor sy spaar. Of sy is bekommerd oor haar pa wat vir ’n operasie moet gaan. Niks hiervan is ter sprake in die storie nie. Maar jy die skrywer moet onthou dat sy ’n volledige innerlike lewe het. Dan let jy op hoe sy vir Winters dophou terwyl hy sonbrille oppas en in die spieël vir homself kyk, en hoe sy vinnig wegkyk wanneer sy sien Menck kyk hoe sy kyk. Sy tree soos ’n regte mens op.

Natuurlik moet sy ook soos ’n vrou optree, en dis waar die uitdaging inkom as jy ’n man is. Want vroue dink anders, ervaar anders en sien anders – dis juis daardie vroulike andersheid wat hulle so spesiaal maak. Hier moet jy nou maar staatmaak op die bietjie wat jy in jou dekades van interaksie met vroue kon regkry om te verstaan. Dit help om boeke te lees met vroulike hoofkarakters wat deur vroue geskryf is. En ek steun ook op Chanette Paul, wat my manuskripte vir LAPA lees. Sy is goed daarmee om haakplekke aan karakters en hulle verhoudings raak te sien, en sy is natuurlik self ’n vrou.

Geweld teen vroue pla my. Die meerderheid vroue wat in Suid-Afrika vermoor word, word deur die mans in hulle lewens vermoor. Die een wat veronderstel is om vir haar lief te wees, wat haar moet koester en wil beskerm. Dan is daar nog seksuele geweld. Huishoudelike geweld. Ons (mans) het ’n besliste voordeel as dit by fisieke krag kom, en dit grief my dat soveel van ons dit misbruik. Dis miskien die eienskap van Menck waarvan ek die meeste hou, dat hy regtig lief is vir sy vrou, nog steeds, want hierdie jaar is hulle sestiende herdenking.

Ek dink baie mans wil vroue hê, maar hulle hou nie regtig van vroue as mense nie. Dit kan nou ’n vreeslike lang sielkundige antwoord word, maar een van die fundamentele kwessies is respek. En respek vir vroue word deur ’n seun by sy pa geleer, deur te sien hoe sy pa sy ma behandel.

Met jou Stellenbosch-bekendstelling het jy gesê, “Ons is almal in iemand se oë skuldig aan iets”. Wat, dink jy, moet ons met daardie skuld maak, of dit nou geregverdig is of nie?

Ek dink die groot kwessie is nie soseer skuld nie, maar verantwoordelikheid. Baie min mense aanvaar deesdae verantwoordelikheid. Dis altyd iemand anders of dis die omstandighede of dis die drank. Ons het vrye wil. Maar dit kom saam met verantwoordelikheid. Ons kan kies hoe ons optree, óf ons optree, en dan is ons verantwoordelik vir daardie keuse en die gevolge daarvan.

Daar is seker geen plek waar verantwoordelikheid so ontduik word soos in die hof nie. Vat die moordsaak teen Christopher Panayiotou. Hulle gaan argumenteer oor die toelaatbaarheid van ’n opname waar Panayiotou glo oor die moord praat. Die argument gaan oor hoe die opname gemaak is, die omstandighede waarin dit gemaak is, ensovoorts. Wat van die waarheid? Wat van geregtigheid vir die vermoorde Jayde? Maar nee, die opname moet uitgegooi word, want Panayoitou is moontlik in ’n lokval gelei om te sê wat hy gesê het.

 

Hoe pak jy jou navorsing aan, veral met minder bekende temas soos die Jehovasgetuie wat ’n verskyning in Skuldig maak?

’n Kombinasie van leeswerk en gesprekke. Ek begin gewoonlik om oor die onderwerp te lees, indien moontlik. Voor ek destyds die eerste keer met die forensiese patoloog gaan praat het, het ek eers heelwat oor forensiese patologie gelees. Toe gaan vra ek vir haar hoe al hierdie goed in Suid-Afrika werk en wat in my spesifieke geval sal gebeur. Ek probeer om, sover dit moontlik is, ’n realistiese, Suid-Afrikaanse storie te vertel. En daarvoor is ek afhanklik van speurders en forensiese deskundiges wat bereid is om hulle kennis en ondervinding met my te deel.

Met die Jehovasgetuies het ek al die inligting op hulle webwerf gekry. Hulle het nogal ’n besondere deeglike webwerf – wat selfs in Afrikaans beskikbaar is. Ek het ook met ’n Getuie gaan praat. Ek het vir hom verduidelik presies waarvoor ek die inligting wou hê, juis omdat ’n karakter hulle organisasie uitbuit, en hy wou nie deel wees daarvan nie. Wat my toe laat nadink het. Maar uiteindelik het ek gevoel die Jehovasgetuies word regverdig behandel in die boek – een kry ook die geleentheid om hulle saak te stel.

Die navorsing is vir my belangrik, maar dis ook net regtig lekker. Mens ontmoet interessante mense, sien interessante plekke, leer interessante dinge. En jy besef ook dat dit maar net gewone mense is wat hierdie werk doen, wat probeer om geregtigheid te kry vir die slagoffers van misdaad.

Wat is die mees verrassende terugvoering wat jy al oor jou tweede roman ontvang het?

Dat Skuldig nog steeds ’n week later in ’n leser se kop bly maal het. Toe ek Nineteen Minutes van Jodi Picoult gelees het, het ek nog vir dae daarna daaraan bly dink. Dit het bly krap aan my. Dis ’n wonderlike kompliment dat iemand nie net jou storie saam met die boek toemaak nie.

Die ou gruwelskrywer in my wat op ’n dieet van Stephen King grootgeword het, het natuurlik hierdie kommentaar vreeslik geniet: “. . . gister jou SKULDIG klaargelees en gisteraand seker 3x gaan seker maak my deure is gesluit en die alarm is aan.”

Hoe vergelyk jou tweede boek-ervaring met die eerste boek-ervaring?

Books LIVE se vrae is aansienlik moeiliker ;)

Met Donker spoor was alles nuut en die eerste keer. Daar was baie om te leer. Die proses van manuskrip tot boek by die uitgewer. Om Donker spoor op die rak in boekwinkels te sien. Eerste radio-onderhoud. Eerste bekendstelling. En dit sal altyd ’n bietjie meer spesiaal wees omdat dit die eerste een was, die uiteindelike deurbraak.

Met Skuldig het ek geweet hoe dinge werk en wat om te verwag, so alles was makliker. Dit was lekker om byvoorbeeld op Facebook te sien lesers is opgewonde dat die tweede boek kom. Ek was by die US Woordfees. Ek het my eerste boektoer gehad, Pretoria toe.

Die hele ervaring is wonderlik. Ek het jare en jare daaroor gedroom om ’n publiserende skrywer te wees en die werklikheid is baie beter as wat ek gedink het! En ek is baie dankbaar vir die lesers, vir hulle ondersteuning, hulle terugvoer, hulle opgewondenheid. Sonder die lesers is niks hiervan moontlik nie.

 

* * * * * * * *

 

Hou Books LIVE dop vir die tweede deel van hierdie gesprek. Het jy Skuldig en Donker spoor geniet? Gesels saam in die kommentaarspasie, of op Facebook of Twitter!

Lees ook:

Boekbesonderhede

 

Please register or log in to comment