Sunday Times Books LIVE Community Sign up

Login to Sunday Times Books LIVE

Forgotten password?

Forgotten your password?

Enter your username or email address and we'll send you reset instructions

Sunday Times Books LIVE

LAPA Uitgewers

@ Sunday Times Books LIVE

“Aanvaar kritiek. Leer daaruit” – Peet Venter en Henk Breytenbach gee raad aan aspirantskrywers

Peet Venter en Henk Breytenbach het in April met die Skuldig-outeur Martin Steyn en Samantha Buitendach aan ’n gesprek deelgeneem oor hul boeke en die gewildheid van die misdaadroman.

Venter is al ’n ou hand in die skryf van spanningsromans, terwyl Breytenbach vanjaar met sy spekulatiewe boek, Kodenaam Icarus, gedebuteer het. Books LIVE het vir Venter en Breytenbach gepeper vir raad aan aspirantskrywers:
 

* * * * * * * *

 

PlasentaWaar boosheid broeiOu bloedDieper as die bloed

 
Venter se Thys Krige-reeks bestaan uit Dieper as die bloed, Ou bloed, Waar boosheid broei en sy nuutste roman, Plasenta. In ’n onderhoud met Books LIVE het die skrywer vertel dat Thys Krige in 1994/95 die eerste keer die lig gesien het. Dié komplekse karakter het al vele gedaanteverwisselings ondergaan en in Plasenta het hy “’n meer gemotiveerde, vollediger karakter geword sonder om sy ‘hang-ups’ te verloor”.

Lees Venter se wyse woorde aan nuwe skrywers:

Peet Venter

 
Watter raad het jy vir aspirant- of debuutskrywers? Watter slaggate moet hulle liefs vermy?

Wees eerlik met jouself. Jy word met die skrywer in jou gebore. Jy kan leer hoe om ’n storie korrek te skryf, maar niemand kan jou leer om ’n storie goed te skryf nie. Fiksie is nie die enigste skryfmedium nie. Daar is ’n verskil tussen kreatief skryf, en verbeeldingryk skryf. Dus, verbeelding is die sleutelwoord. Jy moet baie daarvan hê, en nie bang wees om dit te gebruik as jy fiksie wil skryf nie. ’n So-so storie wat goed geskryf is, kom verder as ’n goeie storie wat so-so geskryf is.

Spaar die woorde! As jy wat jy wil sê in twee paragrawe kan sê, hoekom dit dan in twee bladsye sê?

Bly uit jou storie. Jy skryf wel die storie, maar dis jou karakters se storie. Laat hulle dit vertel. Waarom anders skep jy hulle dan?

Bly weg van stereotipes. Dis nie alleen ’n gebrek aan oorspronklikheid en skeppingsvermoë nie, maar ook ’n verskuilde manier van plagiaat. Moet nooit jou lesers se intelligensie beledig nie.

Aanvaar kritiek. Leer daaruit. Get over yourself! Daar is altyd mense wat beter weet as jy.
 

* * * * * * * *

 
Breytenbach se debuut is ’n alternatiewe vertelling van die Helderberg-ramp, die Suid-Afrikaanse Lugdiens Vlug 295 wat in 1987 spoorloos in die Indiese Oseaan verdwyn het. Die skrywer het vertel dat hy nog kan onthou hoe daar om die braaivleisvuur bespiegel is oor wat van die vlug geword het.

Breytenbach se protagonis, Vic Nel, was eers in die Militêre Intelligensie en toe in die Nasionale Intelligensie van die ou politieke bestel. Kodenaam Icarus speel af na 1994, en al wil Vic Nel net in ‘n huis woon met sy vrou en kind haal sy opdragmoorde hom in.

Vind uit hoe die skrywer spanning skep in sy roman en wat sy raad is vir nuwe skrywers:

Henk BreytenbachKodenaam Icarus
Watter raad het jy vir aspirantskrywers, veral as dit kom by hoe ’n mens kritiek moet hanteer?

Moenie dit te ernstig opneem nie. Maak seker jy het pret in die proses, moenie dat dit ooit ’n chore of ’n drag raak nie. Wat kritiek aan betref, dit gaan gebeur. Veral wanneer kritici die boek volgens die verkeerde genre beoordeel. Maar kritiek is niks wat ’n dik vel en ’n koue bier nie te bowe kan kom nie.

Nog ’n belangrike ding vir aspirantskrywers: Moenie iemand probeer namaak nie. Vind jou eie stem en maak dit werk. Iewers gaan jou manuskrip op die regte tafel beland, en gaan jou stem soos ’n vars bries oorkom. Jy wil nie hê die uitgewer moet jou manuskrip met ’n sug op die groeiende stapel ander afgekeurde wannabe Deon Meyer-klone gooi nie. Deon Meyer is Deon Meyer. En jy is jy.

Hoe skep en behou jy spanning in jou boek?

Deur interaksies tussen my karakters, waar hulle dalk dieselfde doel najaag, maar dit uit verskillende hoeke benader. Dit maak die vloei en ritme van die verhaal nie net onvoorspelbaar nie, maar hopelik ook boeiend vir die leser.
 

* * * * * * * *

 
Lees ook:

 

Boekbesonderhede

 

Please register or log in to comment