Sunday Times Books LIVE Community Sign up

Login to Sunday Times Books LIVE

Forgotten password?

Forgotten your password?

Enter your username or email address and we'll send you reset instructions

Sunday Times Books LIVE

LAPA Uitgewers

@ Sunday Times Books LIVE

Henk Breytenbach gesels oor die Helderberg-ramp, Kodenaam Icarus en die genot van spekulatiewe fiksie

Henk Breytenbach

 
Henk Breytenbach se debuutroman, Kodenaam Icarus, het vanjaar by LAPA verskyn en handel oor ’n opdragmoordenaar wat tydens die apartheid-regime ongewenste dade gepleeg het. Vic Nel lei aan post-traumatiese stres-sindroom en een aand rand hy sy vrou aan voor sy sesjarige dogtertjie. Dit is die begin van ’n nuwe wêreld vir Vic, maar die spoke uit sy verlede wil hom net nie uitlos nie.

Breytenbach het verlede maand met Martin Steyn en Peet Venter aan ‘n gesprek oor die misdaadgenre deelgeneem tydens ‘n spesiale geleentheid by Graffiti Lynnwood Bridge. Volg die skakel hier onder vir ‘n verslag oor die aand:

Books LIVE het die gesprek met Breytenbach verder gevoer en met hom gesels oor onder meer die Helderberg-ramp wat gedien het as inspirasie vir die boek, sy skryf- en kunstalente en sy voorkeur vir spekulatiewe fiksie:

* * * * * * * * *

 
Kodenaam IcarusWanneer en hoekom het jy besluit om ’n skrywer te word?

Ek was op laerskool verslaaf aan Arthur Clarke, Isaac Asimov, Stephen King en ID Lampbrecht – in geen besondere volgorde nie. Ek het al die boeke waarop ek my hande kon lê gelees en my voete stukkend geloop agter die goed aan en op een of ander stadium die openbaring beleef dat iémand agter ’n tikmasjien moes sit en die stories skryf.

Dit was vroeg in standerd vier toe my Engelse onderwyseres, ou tannie Page, ons een Vrydag huistoe gestuur het met die opdrag om teen die volgende Maandag ’n driehonderdwoord-storie oor enige onderwerp onder die son te skryf. Ek weet tot vandag toe nie hoe ’n mens só ’n drakoniese beperking op enige aspirantskrywer kan plaas nie. Ek het pas ’n boek klaargelees – ek dink dit was dalk iets van Greg Bear – en was geïnspireer.

Ek het teen die derde sin skoon van die woordbeperking vergeet en het die Maandag my skrif half skaam ingehandig, want ek het die ding vol geskryf – tot op die laaste bladsy. Ek het ’n uittrap uit hoë hoogtes verwag, maar juffrou Page was verbasend genoeg baie beïndruk – waarskynlik meer met die woordtelling as met die kwaliteit van die prosa, toegegee. Sy was die eerste mens wat die idee van boeke skryf by my laat posvat het.

Ek het ’n voëltjie hoor fluit dat jy ’n kunstenaar is. Vertel ons daarvan.

Ek dink dit was Churchill wat gesê het, “If you have to tell anybody that you’re a lady, you’re not”. So, nee – ek sou myself nie ’n kunstenaar noem nie. Ek teken wel portretsketse in mindere of meerdere mate van sukses. Of dit ’n kunstenaar van my maak, is vir die persoon wat na die skets kyk om te besluit. Die getekenry kom ook uit my laerskooldae uit, en ek dink dit spruit uit dieselfde bron as die geskrywery. Ek voel verplig om iets te skep, hetsy dit nou getikte woorde of potloodstrepe op papier is.

Ek hou van potlood, en ek glo nie daar is ’n ander medium waarmee ’n mens die kwaliteite van lig en skadu so kan vasvang nie. Maar moenie my woord daarvoor vat nie.

 
Waarvandaan kom die inspirasie vir Kodenaam Icarus?

Die Helderberg het van die radarskerms verdwyn toe ek in standerd 3 (graad vyf) was, en die raaisel van wat vir die ongeluk verantwoordelik kon wees, broei nog al die jare in my agterkop. Almal het in daardie jare om die braaivleisvure voet by stuk gehou dat die ANC die vliegtuig opgeblaas het, maar op een of ander rede het die Nasionale Party-regering die ANC se betrokkenheid (of onbetrokkenheid) onderspeel. Dit het nie geklink of hulle die Helderberg-episode op die ANC se brood wou smeer nie.

Nou waarom nie? Wat het die regering geweet wat ons nie geweet het nie? Met die dat die WVK-sittings oor die Helderberg-ongeluk agter geslote deure gehou is, en dit met die ANC aan die stuur, twyfel ek of ons ooit rerig sal weet. Kodenaam Icarus is ’n poging om ’n alternatiewe verduideliking daar te stel, een wat sou verduidelik hoekom beide die ou en nuwe regerings liefs nie die waarheid wil laat uitkom nie.

Hoe het jy Vic Nel se innerlike lewe geskep? Wat is sy beweegredes voor en dan na apartheid?

Vic Nel was weermag toe en het in Militêre Intelligensie beland, van waar hy Nasionale Intelligensie toe is. Na apartheid tot ’n einde gekom het, het Vic Nel voet in die wind geslaan. Hy het ook nooit voor die Waarheid- en Versoeningskommissie (WVK) verskyn nie, nie omdat hy die nuwe bestel teenstaan nie, maar omdat hy nie sy mede-NIA lede in enige verklarings wou inkrimineer nie. Amnestie sou net volg op volledige verklarings en uit lojaliteit teenoor sy kamerade het Vic geweier om aansoek te doen.

Dit wat hy moes doen vir sy salaristjek voor die val van apartheid het wel later by hom kom spook, omdat hy weens die gevolge van post-traumatiese stres sy vrou voor sy sesjarige dogtertjie aangerand het. Dit het hom sy huwelik en sy verhouding met sy kind gekos, en die gevoel dat hy op een of ander manier moet opmaak vir wat hy aan sy vrou gedoen het is wat hom motiveer.

Wat maak ’n goeie storie en hoekom skryf jy in die spekulatiewe fiksie-genre?

Wat my betref moet ’n goeie storie ’n groot idee as onderbou hê. Iets wat die leser aan die dink kan sit. Nie noodwendig ’n whodunnit nie, maar ’n what if? Dit is juis die bestaansrede vir spekulatiewe fiksie as ’n genre. Die idee sélf raak eintlik dan ook ’n karakter in die boek.

Onvoorspelbaarheid is belangrik. ’n Skrywer moenie ’n resep volg of resepmatig te werk gaan nie, want dan weet jy reeds wat op die volgende bladsy gaan gebeur.

Ek dink hoekom ek van spekulatiewe fiksie as genre hou, is omdat ’n mens nooit sonder idees gaan sit nie. ’n Ou hoef net ’n koerant oop te maak, en die storie-idees lê die hele blad vol, nogal met moontlike titels ook, mooi netjies in 30-punt Helvetica gedruk.

As daar een boek/storie/verhaal is wat die koers van jou lewe kan bepaal, wat sal dit wees?

As daar een boek is, sal dit seker Zen and the Art of Motorcycle Maintenance wees deur Robert M Pirsig. En as daar een storie moet wees, sal dit daai ou storie oor die Keiser se Kleed wees. Ek dink gans te min mense begryp waaroor daardie storie eintlik gaan. As die Keiser se Kleed ’n wyer voetspoor in die mensdom se bewussyn getrap het, sou die twee wêreldoorloë nooit plaasgevind het nie, en sou die Twin Towers in New York nog gestaan het.

Hoe belangrik is ’n goeie ondersteuningsraamwerk vir ’n skrywer?

Baie, uit die aard van die saak. Ek sou nie by die geskrywery uitkom as dit nie vir my vrou se oneindige geduld was nie.

Wat kan jou lesers volgende van jou verwag?

Vic Nel se tweede eskapade is reeds in die werke, en by die uitgewers. Die titel op hierdie stadium is Moordlys, maar enigiets kan nog gebeur. Moordlys speel in die hede af, maar het ook sy oorsprong in die politiek van die 1980’s. Glad nie die Suid-Afrikaanse politiek waaraan ons blootgestel was (en quite frankly, gatvol voor is) nie, maar die binnewerkinge van die reunifikasie van Oos- en Wes-Duitsland, en hoe ver en wyd die rippels daarvan getrek het. Tot in post-apartheid Suid-Afrika, in 2015. Lekker wye spekulasie!

Boekbesonderhede

 

Please register or log in to comment