Sunday Times Books LIVE Community Sign up

Login to Sunday Times Books LIVE

Forgotten password?

Forgotten your password?

Enter your username or email address and we'll send you reset instructions

Sunday Times Books LIVE

LAPA Uitgewers

@ Sunday Times Books LIVE

“Dis so nodig soos asemhaal” – Peet Venter gesels oor Plasenta, Thys Krige en waarom hy skryf

Peet Venter

Die vierde roman in Peet Venter se Thys Krige-reeks, Plasenta, het vanjaar by LAPA Uitgewers verskyn. Books LIVE het met Venter gesels oor sy skrywerslewe en die skep van spanningsliteratuur:

PlasentaWaar boosheid broeiOu bloedDieper as die bloed

Jy is al ’n ou hand met die skryf van spanningsverhale. Wat maak ’n goeie misdaadverhaal?

Vir my is die begin belangrik. Dit hoef nie met knalle en bloed te gebeur nie. Daar moet net in die eerste paar sinne iets wees wat die leser sal intrek. Dan moet die spanningslyn volgehoue wees, opbou na die einde se klimaks. Daar moet ook verposings in die aksie wees om die leser darem nou en dan ’n blaaskansie te gee.

Verder moet die karakters geloofwaardig in hulle rolle pas. Ek probeer wegbly van die stereotipe speurders met drank en huislike probleme, en verkies om met intelligente boewe te werk.

Waar het jy die eerste keer aan die Thys Krige-reeks begin dink? Hoe het die storie deur die verskillende boeke heen momentum gekry?

Ek het ná my eerste publikasie, Die alleenlopers (1978), baie sporadies geskryf weens my veeleisende werk. Wanneer kry ek weer ’n manuskrip? was ’n gereelde vraag van die uitgewer. Ek het my ook nie toegespits op speur/misdaad spesifiek nie, maar het onder andere ’n liefdes/spanningsriller, ’n historiese roman, humor, kort- en vervolgverhale vir bundels en tydskrifte geskryf.

Toe, iewers in ’94/’95, vra die uitgewer of ek ’n lekker speurroman sal skryf. So sien Thys Krige toe die lig, met geen voorneme dat daar ’n opvolg sou wees nie. Maar eintlik het ek ’n “l” vir my eie “g” gepluk deur die moord op sy pa Krige se motivering te maak waarom hy ’n speurder geword het, naamlik om sy pa se moordenaar op te spoor. Wat hy toe nie in die eeste boek gedoen het nie.

In die onafwendbare tweede boek vind hy toe uit hy het ’n halfbroer wat nou betrokke was by die moord op sy pa. Die halfbroer lei hom toe na die moordenaars toe. Goed, afgehandel. Hy het sy pa se moordenaars laat boet.

Maar toe vind hy uit hy het nog ’n halfsuster ook, wat jare gelede ontvoer is.

’n Mens kan die lewe soms maar lekker swaar maak vir jouself.

Hoe maklik of moeilik is dit om na vier boeke al die verhaallyne en karaktereienskappe bymekaar te hou?

Die karaktereienskappe is nie ’n probleem nie. Jy leef naderhand so saam met hulle dat jy hulle net so goed as jouself ken. Maar ek dink dit kan saai raak as jou hoofkarakter, veral in opvolge, deurgaans maar dieselfde bly. Ek dink dis lui skryf. Daarom het ek Krige ’n metamorfose laat ondergaan van ’n speurder wat so hier en daar die reëls gebuig het, na ’n bykans koelbloedige, moordadige vigilante.

In Krige se geval was die storielyn ook nie ’n probleem nie. Die een boek het aanleiding gegee tot die volgende; van die opsporing van sy pa se moordenaars, tot die opsporing van sy suster se ontvoerders, tot die opsporing van sy suster.

Die slaggate lê in die kontinuïteit van die een boek na die ander. Nie alle lesers lees van die eerste boek af nie. Dan moet jy ’n opsomming in die volgende een inbou sonder dat dit soos ’n opsomming lyk. Dis nie altyd so maklik nie. Hoeveel is nodig, en waar pas dit die beste en effektiefste in, jy weet?

Hoe pak jy jou navorsing aan?

Soos ek skryf, soos nodig. Agtergrond, soos geografie, sosio-ekonomie, politiek en geskiedenis, sal ek vooraf bestudeer om seker te maak my storie pas. Die ander doen ek maar soos ek aangaan.

Waar en onder watter omstandighede skryf jy graag? Hoe lyk jou lessenaar?

Sedert my aftrede kan ek nou voltyds skryf, uiteindelik. Ek woon die afgelope 30 jaar al op my plaas in die Dinokeng-bewaria, so 50 km noordoos van Pretoria. Rus en stilte. Die natuur. Ek skryf agt tot tien uur per dag, soms sewe dae per week, kyk gereeld by my skryfkamer se vensters uit na die koedoes, blesbokke, duikers, vlakvarke, ens, wat in my tuin kom wei en suip. Plate tarrentale, voëls by die tientalle. Saans luister ek na die jakkalse en hiënas. Soms hoor ek die leeus.

Ek het geweet jy gaan vra oor my lessenaar, daarom het ek dit die naweek mooi opgeruim. Tot volgende jaar, as jy weer vrae het.

Hoe voel dit om so ’n groot gevolg te hê? Is dit nie soms vreemd, veral op sosiale media, dat mense weet wie jy is asof julle al ou vriende is nie?

Die belangrikste en lekkerste vir my is om te weet daar is mense aan wie ek genot verskaf met my stories. Dis tog maar waaroor dit gaan. Vroeër jare het ek my tantiemestate van die uitgewer gekry; soveel van jou boeke is verkoop, hier is jou geld. Ek het nie geweet wie my lesers is nie. Nou kan ek hulle foto’s sien, lees wat hulle belangstellings is, met hulle kommunikeer. Dit maak dit net soveel meer besonders.

Wat is die rol van die skrywer vandag, veral in Afrikaans?

Daar was ’n vervreemding van “ligter” Afrikaanse literatuur in die 60’s en 70’s, as gevolg van ’n snobisme in sekere akademiese kringe. Ek was self een wat destyds verkies het om liewer Engels te lees. Maar daar was ’n geleidelike terugkeer. En ek dink die Afrikaanse skrywers van vandag moet sorg dat daardie herwonne lojaliteit van die lesers behou en uitgebou word met kwaliteit.

Plasenta is nou die vierde in die Thys Krige-reeks, hoe verskil die boek van die eerste drie?

Ek dink die grootste verskil lê in Krige se metamorfose. Hy het vir my ’n meer gemotiveerde, vollediger karakter geword sonder om sy “hang-ups” te verloor.

’n Mens moet jou noodwendig in jou hoofkarakter(s) inleef om hulle geloofwaardig te maak. Daarom is dit onafwendbaar dat jy iets van jouself inbou in die karakter. Dis natuurlik moeiliker, vir my as man, om dit met ’n vrouekarakter te doen. Fyn waarneming en lewenservaring help dan.

Watter skrywers of boeke lees jy graag?

Ayn Rand, Victor Hugo, Dostoevsky, Michael Connolly, Peter Temple, Isaac Asimov, Ben Bova, Irma Venter, Deon Meyer. Daar is soveel Afrikaanse skywers by wie ek net nog nie uitgekom het nie. Tans lees ek Martin Steyn se Donker spoor. Ek het ook Etienne Leroux gelees, André P Brink, Nadine Gordimer. In my jong dae het ek Karl Kielblock en Elmar Steyn verslind.

Hoekom is spanningsliteratuur wêreldwyd so gewild?

Ek dink mense vind ontspanning, of ontlading, van die alledaagse werklike spanning en frustrasies in fiktiewe spanning, in die sin dat die “hero” altyd wen. Veral wat misdaadspanning betref, dink ek fiksie maak dit vir mense meer verteerbaar, anders as die strak, feitlike, onpersoonlike nuusberigte, in die sin dat ’n meerdere menslikheid daaraan toegevoeg word deur karakters met emosies. En die misdadigers tjop natuurlik altyd af.

Hoe het jy jou kinderjare spandeer? Wou jy altyd ’n skrywer gewees het?

Ek het in ’n pastorie grootgeword. Kon nie anders nie; my pa was ’n predikant, en my ma getroud met hom, sien. Jongste seun van vier, plus ’n jonger suster. Dus was ek aan die stertkant van die “hand-me-down”-stelsel: klere, fietse, skooltasse, wat van ouboet af deur die linies gekom het, het by my gestop; vierdehands. Ek het my eerste nuwe kerkpak met my aanneming gekry.

Lekker, ongekompliseerde dae. Op laerskool het jy nie huiswerk gekry nie, net pak. Op hoërskool het jy huiswerk en pak gekry, of jy nou jou huiswerk gedoen het of nie. Dit was ’n beginsel ding, sien. Iets met Calvinisme te doen, dink ek.

Nee, ek wou ’n brandweerman word, ’n polisieman, ’n treindrywer. In standerd vyf (graad ses) wen ek ’n opstelwedstryd van die destydse Vlootbond. Toe wou ek ’n matroos word. Dit was eers op hoërskool toe die onnies my opstelle aan die klas begin voorlees dat ek besef het daar moet ’n sluimerende skrywer iewers in my wees.

Hoekom skryf jy?

Maklike antwoord; omdat ek kan. Maar dis nie so eenvoudig nie. Talent onder die maatemmer, jy weet? Dis ’n ding wat moet uitkom anders vrot hy in my. Dis ’n drang, ’n drif wat net nie laat los nie. Dis ’n ongenadige ding met die venynigste dorings met weerhake wat jou siel kan laat bloei, of die soetste vrugte vir jou gee.

Dis so nodig soos asemhaal.

Hemmingway het gesê: “There’s nothing to writing; you just sit down at the typewriter and bleed.” Ek verskil van hom. Ek sit by my rekenaar, en leef.

Boekbesonderhede

 

Please register or log in to comment