Sunday Times Books LIVE Community Sign up

Login to Sunday Times Books LIVE

Forgotten password?

Forgotten your password?

Enter your username or email address and we'll send you reset instructions

Sunday Times Books LIVE

LAPA Uitgewers

@ Sunday Times Books LIVE

“’n Moordenaar is ook maar net ’n mens met beweegredes” – Drie krimiskrywers gesels oor die genre

Peet Venter, Martin Steyn en Henk Breytenbach

 
Peet Venter, Martin Steyn en Henk Breytenbach het op Donderdag 23 April by Graffiti Lynnwood Bridge in Pretoria met Samantha Buitendach gesels oor hul boeke, die misdaadgenre, hoofkarakters, booswigte en nog vele meer. Buitendach het die gesprek geopen met die vraag: “Wat maak die genre so populêr?”

Martin SteynSkuldigSteyn, die skrywer van Donker spoor en Skuldig, het gesê hy vind dit interessant dat die krimi so gewild is, want jy kan deesdae nie die koerant oopmaak sonder om deur geweld gebombardeer te word nie. Die skrywer het gesê dat die genre iets vir elke leser bied, van whodunnits tot stories met ‘n slim raaisel wat jy moet oplos. “Ek is lief vir ware misdaad, die hoe en die hoekom,” het Steyn gesê.

“Die skrywer het ‘n geleentheid om lelike misdaad waarvan ons gewoonlik net die feite kry so bietjie te romantiseer,” het Venter gesê. Die Plasenta-outeur het vertel dat mense van spanningsliteratuur hou omdat dit ontvlugting bied van die alledaagse. Plasenta is die vierde boek in Venter se Thys Krige-reeks naas Dieper as die bloed, Ou bloed en Waar boosheid broei.

Breytenbach het gesê dat misdaadfiksie tot ons emosies spreek – “Ons is emosionele diere”. Die skrywer se debuutroman, Kodenaam Icarus, het vanjaar verskyn en hy het vertel dat mense daarvan hou om boeke te lees waar misdadigers “op hul hel kry”, iets wat jy nie dikwels in die koerante sien nie.

Op die vraag waaroor sy boek gaan het Breytenbach kortliks verduidelik dat Kodenaam Icarus eintlik spekulatiewe fiksie is. Sy hoofkarater, Vic Nel, het jare terug vir die veiligheidsmagte gewerk en hy het ‘n klomp misdade gepleeg waaroor hy nie voor die Waarheid-en-versoeningskommissie gebieg het nie. Nou is Vic se dae getel en sy opdragmoorde is besig om hom in te haal.

Henk BreytenbachKodenaam IcarusBuitendach het die skrywers gepols oor die vroulike karakters in hul boeke: “Hoe maklik of moeilik is dit om vroue geloofwaardig voor te stel?” Breytenbach het die akteur Jack Nicholson in die fliek As Good as it Gets aangehaal as antwoord: “How do you write women so well? I think of a man and I take away reason and accountability.” Op ‘n ernstiger noot het hy gesê: “My karakters het nie geslag nie, almal het dieselfde beweegredes.”

Venter het gesê hy skryf sy vroulike karakters uit ervaring: “Ek het ‘n ma gehad, ek het ‘n suster, ek het ‘n vrou gehad, ek het ‘n dogter.”

Steyn het vertel: “Ek probeer om vroue te skep, nie vrouekarakters nie – ‘n mens met ‘n vol innerlike lewe.” Hy lees ook graag boeke deur vroueskrywers en het vertel dat hy veral op Chanette Paul se leiding staat maak.

“Ons skrywers werk in die lewe van vermaak. Die leser moet waarde vir hul geld kry,” het Venter gesê oor wie sy lesers is. Hy het genoem dat die terugvoering op Facebook aandui dat die meeste van sy lesers vrouens is. Steyn het gesê hy skryf eerstens vir homself en het nie ‘n leser in gedagte nie. Sy leser is alledaagse mense wat Afrikaans lees: “Almal is welkom.” Breytenbach het gesê hy skryf nie bewustelik met iemand in gedagte nie, maar hy gee wel sy manuskrip vir vriende en familie om te lees. Sy lesers is soos sy vriende, soos hy, mense wat daarvan hou om om die braai te sit en “nonsens praat”, het Breytenbach meegedeel.

Peet VenterPlasentaBuitendach het opgelet dat die tema van kinderhandel, vrouemishandeling en prostitusie deur al drie boeke strek, met ‘n held wat dan opdaag om hulle te red. Breytenbach se heldin begin as ‘n prostituut, maar dan word sy die sterk persoon, het hy vertel. Venter se Thys Krige-boeke het begin met die agtergrond van pedofilie en hy gebruik gereeld aktuele sake in sy stories. “Vir my is geweld teen vroue iets wat my pla,” het Steyn gesê. “Die meeste vroue in ons land word vermoor deur die mans wat veronderstel is om hulle lief te hê.”

Oor booswigte het Venter gesê hy vind hulle sommer in koerante, kleur hulle so bietjie in en maak hulle effens slegter. “Hulle is daar,” het hy gesê. Steyn glo dat karakters, soos mense, nie net goed of sleg is nie: “Die ergste reeksmoordenaar is die ou wat langs jou bly.” Breytenbach het saamgestem: “‘n Moordenaar is ook maar net ‘n mens met beweegredes.”

Na die formele gesprek het ‘n vraag-en-antwoord-sessie gevolg, waartydens die skrywers nog verder gesels het oor hul karakters. Daarna het die gehoor hul boeke laat teken en saam met die skrywers eet- en drinkgoed geniet.

 

* * * * * * * *

 
Annetjie van Wynegaard (@Annetjievw) het regstreeks vanaf die gesprek met #livebooks getwiet:


 

 

* * * * * * * *

Facebook galery

http://lapa.bookslive.co.za/blog/

Posted by Lapa Uitgewers on Wednesday, 29 April 2015

 

Boekbesonderhede

 

Please register or log in to comment