Sunday Times Books LIVE Community Sign up

Login to Sunday Times Books LIVE

Forgotten password?

Forgotten your password?

Enter your username or email address and we'll send you reset instructions

Sunday Times Books LIVE

LAPA Uitgewers

@ Sunday Times Books LIVE

Martin Steyn gesels oor Donker spoor: “Geen mens is heeltemal sleg nie en geen mens is heeltemal goed nie”

Martin Steyn het ‘n tydjie afgeknyp om met Books LIVE te gesels oor Donker spoor:

Martin Steyn

 
Donker spoor1. Donker spoor is jou debuutroman. Waarom het jy hierdie spesifieke storie gekies om jou skrywersloopbaan mee te begin?

Eintlik het ek ’n paar ander stories gekies om my skrywersloopbaan mee te begin, maar hierdie was die eerste manuskrip wat suksesvol was! Die eerste een was ’n Stephen King-geïnspireerde gruwelverhaal wat geskryf is toe ek baie jonk was. Ons laat dit maar daar…

Donker spoor het begin as deel van die South African Writers’ College se Skryf ’n Roman-kursus, onder Wilna Adriaanse. Ek het ’n diep belangstelling in reeksmoordenaars, profielsamestelling en misdaadondersoek, en ek lees baie ware misdaadboeke. Die persoonlikheid en sielkundige samestelling van die moordenaar in Donker spoor is geïnspireer deur ’n ware geval wat my besonder fassineer. Toe ek die ware gebeure begin lees, het ek geweet ek wil ’n storie oor so ’n moordenaar skryf.

En dan is daar natuurlik ook Mags se storie. Ek wou graag hê my speurder moet eerstens geloofwaardig wees, en tweedens as ’n karakter werk. Dit was belangrik, want karakterisering was maar altyd ’n bron van kritiek in my skryfwerk. Dit was nie maklik nie, en daar was heelwat korrespondensie tussen my en Wilna, maar iewers het ek en ou Mags mekaar toe darem gevind.

2. As jy iets kon verander aan Donker spoor, wat sou dit wees?

Donker spoor is deur ’n lang proses, van die Skryf ’n Roman-kursus onder Wilna Adriaanse, deur die eerste voorleggings en keurverslae, tot by LAPA en Chanette Paul se kommentaar en aanbevelings. En gedurende hierdie tydperk was daar heeltemal genoeg veranderinge, dankie! Donker spoor is beslis nie perfek nie, maar ek is baie gelukkig met hoe die manuskrip ontwikkel het van die eerste weergawe af.

3. Jy het eers kriminologie geswot, was jy van plan om reeksmoordenaars te jaag of wou jy altyd skryf?

Ek wou altyd skryf. Vandat ek so sestien, sewentien was, in elk geval. Ek het sielkunde en kriminologie gaan swot om mense en misdaad te verstaan, en ook omdat dit my interesseer. Dit was eerder sielkunde wat my verlei het — ek was in ’n stadium oorgehaal om ’n kliniese sielkundige te word. Maar skryf was maar nog altyd die droom.

4. Wat is dit omtrent reeksmoordenaars wat jou so fassineer?

Hulle lyk net soos ons. Hulle bly tussen ons. Ons kan agter een in Pick n Pay staan en ons sal niks vermoed nie. Kyk na iemand soos Jeffrey Dahmer. Hy het net soos ’n gewone ou gelyk. Intussen lok hy mans na sy woonstel toe en saag hulle in stukke. Van die dele maak hy saam met groente gaar vir ete. Die res los hy in vate suur op.

Hoe word iemand so? Hoe loop ’n persoon se lewe dat dit by die punt kom waar sy fantasieë oor marteling en moord gaan? En net daaroor gaan. Dat hy die mag oor ’n vreemdeling se lewe moet hê om iemand te wees.

Profielsamestelling is ook vir my baie interessant, wat mens kan aflei omtrent die moordenaar deur na die toneel, modus operandi, viktimologie, ensovoorts, te kyk. Byvoorbeeld, daar is ’n rede hoekom een moordenaar sy slagoffers van agter bekruip en met ’n hamer oor die kop slaan en ’n ander een sy slagoffers gesels-gesels by die strand weglok tot hy hulle in ’n verlate stegie het.

5. Hoe skryf jy ’n geloofwaardige moordenaar wat nie net eendimensioneel boos is nie?

Dis belangrik om te onthou dat elke mens grys is. Geen mens is heeltemal sleg nie en geen mens is heeltemal goed nie. Ted Bundy het meer as dertig vroue vermoor, waarvan ons weet. Hy was ’n psigopaat, sonder empatie, sonder ’n gewete. Op pad na die elektriese stoel toe, het hy nog probeer om sy slagoffers te gebruik om sy lewe te red. En tog het hy in ’n stadium saam met Ann Rule by ’n krisislyn gewerk. Wat ook al sy redes was om daar betrokke te wees, die feit bly staan, sy het langs hom gesit terwyl hy mense se lewens gered het.

Selfde vraag: hoe skryf jy ’n speurder wat nie net goed is nie?

Ek dink die truuk is om mense te skryf en nie karakters nie. Mense maak foute. Mense het nie die luukse om voor ’n rekenaarskerm te sit en te dink, “Hoe sal ek nou in hierdie situasie optree?” nie. Baiekeer is die situasie nou en jy moet optree, jy moet ’n besluit neem sonder dat jy noodwendig al die gevolge in ag kan neem. En dan is daar nog die emosie van die oomblik ook.

Ek is ook baie meer geïnteresseerd in ’n gewone speurder. Met die uitsondering van Patrick Jane (The Mentalist) staan briljante speurkarakters my nie regtig aan nie. Daar is hierdie wonderlike sin in Homicide van David Simon: “The homicide detective endures.” Dis die soort speurder wat my interesseer. Die ou wat elke dag inkom en sy werk doen. Hy is nie altyd lus nie. Hy sien nie elke leidraad raak nie. Hy breek nie elke verdagte nie. Partykeer loop hy in die verkeerde rigting. Partykeer weet hy nie waarheen om te loop nie. Maar hy hou aan en hy probeer sy bes om geregtigheid te kry vir daardie persoon wat nou ’n nommer op ’n moorddossier is. Terwyl hy weet hy gaan dit nie noodwendig regkry nie.

Die regte magic gebeur wanneer daardie karakter begin leef. Ek was ’n ruk terug in die Paarl vir navorsing en terwyl ek in die gebou rondkyk, begin Mags en Menck met mekaar praat. So hier staan ek en grinnik soos ’n idioot vir die stemme in my kop. Maar dis wat skryf so intoxicating maak.

6. Jy het sewe artikels oor Moses Sithole geskryf, hoe het jy na die tyd gevoel?

[Net een van die sewe was oor Sithole, alhoewel hy ook ter sprake is in die een oor David Selepe.]

Ek voel altyd hartseer vir die slagoffers. Hulle gaan net deur hulle dag, soos gister, soos die vorige week, en hier loop hulle in ’n reeksmoordenaar vas. Sithole het al hoe meer sadisties geraak. Aan die begin het hy net die vroue verwurg, gewoonlik met hulle bra of sykouse of iets. Teen die einde het hy hulle hande op so ’n manier vasgebind dat hulle hulself verwurg as hulle probeer loskom. Sithole het ook daarvan gehou om sy slagoffers na dieselfde plek te neem. By Boksburg het die polisie iets soos tien liggame naby mekaar gekry. So dink jou in: hy lok hierdie vrou weg met beloftes van werk, dreig haar met ’n mes en lei haar tussen hierdie ontbindende liggame deur. Dink wat gaan deur daardie arme vrou se gedagtes. En hoe banger sy is, hoe meer sy ly, hoe meer geniet Sithole dit.

Maar hier is weer eens die ding van reeksmoordenaars. Ek het met ’n forensiese patoloog gaan praat, professor Lorna Martin by die Universiteit van Kaapstad, en sy was toevallig ’n distriksgeneesheer in Johannesburg toe Sithole gearresteer is. Die polisie het Sithole na haar toe gebring ná sy arrestasie. Professor Martin sê hy was aangenaam, beleefd, welsprekend. “He was very charming.”

Sithole is skuldig bevind aan 40 verkragtings en 38 moorde.

7. Sal jy ooit oorweeg om soos Micki Pistorius of Chris Karsten nie-fiksie verhale oor reeksmoordenaars te skryf? Hoekom/hoekom nie?

Ek sal nie nooit sê nie, maar dis nie waar my skryf-belangstelling lê nie. In terme van misdaadboeke, verkies ek dit om ware verhale te lees en fiksie te skryf.

8. Wie is jou gunsteling Suid-Afrikaanse skrywer op die oomblik en hoekom?

Ek moet eers meer Suid-Afrikaanse skrywers se boeke lees voor ek ’n gunsteling kan kies. Maar my gunsteling Suid-Afrikaanse boek van die afgelope paar jaar is Poppekas, van Deborah Steinmair. Ek was mal oor die storie, die onverwagsheid daarvan—want ek het dit gelees oor die heerlike grusame omslag en die interessante titel, sonder om regtig te weet waaroor dit gaan—en die andersheid van die skryfstyl.

9. Jy is baie aktief op sosiale media, waarheen dink jy is die toekoms van skrywers oppad? Kan jy deesdae ’n Stephen King wees sonder om te twiet?

Ek weet nie. Ek het eers sosiale media begin gebruik ’n paar maande voor Donker spoor se publikasie, so ek dink nie ek is die regte persoon om te vra nie. As ’n leser gaan dit vir my meer oor die boeke wat ’n skrywer skryf as wat hy of sy op Facebook of Twitter kwytraak. Maar ek dink nie mens kan sosiale media ignoreer nie. Dit het ’n integrale deel van baie mense se daaglikse bestaan geword, veral jonger mense wat daarmee grootword.

As skrywer hou ek baie daarvan. Dis vir my lekker om te hoor wat lesers dink, en ek het al verskeie boodskappe en kommentaar deur Facebook gekry. Dis ook ’n gerieflike manier om interaksie met lesers te hê en gebeure te deel, soos om foto’s van ’n bekendstelling op te laai. Dit bied ’n lekker wedersydse toeganklikheid. Daar is baie potensiaal.

10. Wat het jou die meeste verbaas omtrent jou aanhangers?

Dat amper elke leser wat my gekontak het, gesê het hulle kon die boek nie neersit nie. Ek beskou nie Donker spoor as ’n page-turner nie, so dis ’n wonderlike kompliment!

Boekbesonderhede

 

Please register or log in to comment