Sunday Times Books LIVE Community Sign up

Login to Sunday Times Books LIVE

Forgotten password?

Forgotten your password?

Enter your username or email address and we'll send you reset instructions

Sunday Times Books LIVE

LAPA Uitgewers

@ Sunday Times Books LIVE

Bernette Bergenthuin by bekendstelling van Stiletto’s van staal: “Skrywers is afluisteraars en afloerders”

Boekbekendstelling: Stiletto's van staal

 
Boekbekendstelling: Stiletto's van staalStiletto's van staalBernette Bergenthuin het tydens ’n Graffiti Woord en Wingerd-aand haar jongste roman, Stiletto’s van staal, bekendgestel. Die skrywer se vriende, familie en kollegas het op Donderdag, 16 Oktober 2014 by Graffiti Lynnwood Bridge byeengekom om saam met haar die bekendstelling van haar derde roman te vier.

Bergenthuin het alreeds op 23 gedebuteer met haar Romanza, Flenters vir lint. Kort daarna het sy nog ’n Romanza gepubliseer, Lief vir jou en in 2013 was die skrywer uiters produktief met Glansheld en die koerantprinses en haar eerste vollengte roman, Lam in wolfsklere. Hierdie jaar het Bergenthuin weer gewoeker met haar pen en Als oor kop en Stiletto’s van staal gepubliseer.

“Elke keer as ek klaar is met ’n boek belowe ek nooit weer nie – dis baie werk!” het die skrywer gesê en vlugtig uitgebrei oor die kenmerke van ’n romantiese komedie, wat sy bo die term “chick lit” verkies. ’n Romantiese komedie het ’n “funky voorblad” en die heldin is meer soos Bridget Jones – sy neem haar beroep ernstig op en sy het dalk al ’n paar klappe van die lewe weg. Dit is hierdie tipe heldin vir wie Bergenthuin ’n man skryf.

Bergenthuin begin haar stories met die skepping van ’n onafhanklike heldin wat selfstandig moet wees, en die man en vrou in die verhaal moet mekaar ondersteun binne ’n realistiese raamwerk. Bergenthuin het gesê die skryf van Romanzas was vir haar ’n wonderlike reis en het haar geleer hoe om te skryf. Die Romanza-skrywer poog om binne 44 000 woorde ’n storie te skryf wat die leser sal boei.

Stiletto’s van staal gaan oor drie susters in verskillende stadiums van hul lewens. Die oudste is getroud met kinders, die middelste suster is ’n beroepsvrou en die jongste is ’n student. Daar is baie drama en deure wat toeklap, maar tog is die susters lief vir mekaar. Bergenthuin het gesê sy hoop dat die liefde en geborgenheid wat tussen die sussies bestaan na vore sal kom in haar boek.

Haar eie huis was altyd vol humor, het sy vertel. “Ek en my boetie het mekaar altyd uitgedaag om te kyk wie is die skerpste.” Haar ouers is ’n goeie klankbord, en haar ma sal gou vir haar sê, “Ek weet nou nie so mooi oor dié nie.”

Bergenthuin het gesê dit is belangrik om selfvertroue te hê om die storie uit jou hande te laat ontwikkel. “Dis gevaarlik om jouself te beperk. Sterk karakters reageer teenoor mekaar, jy wil nie die gevoel skep dat jy trappe klim nie.”

“Skryf moet uit jou uitvloei, anders is dit nie natuurlik nie.” Oor haar dubbele loopbaan as praktiserende advokaat en skrywer het Bergenthuin gesê: “Die wisselwerking werk vir my, skryf is regtig ’n stokperdjie – ek skryf om te onstpan.” Bergenthuin het vertel sy is verskriklik lief vir lees, veral in Afrikaans, en is op die oomblik besig met Ballade vir ’n enkeling deur Leon van Nierop. Sy is mal oor Wilbur Smith en het Die blou van onthou deur Marita van der Vyver genoem as een van haar gunsteling boeke.

* * * * * * * *

Annetjie van Wynegaard (@Annetjievw) het regstreeks vanaf die bekendstelling met #livebooks getwiet:


 

* * * * * * * *

Books LIVE het voor die bekendstelling ’n paar vrae aan Bergenthuin gestel:

Stiletto’s van staal is jou derde roman en jy het voor dit drie romanzas geskryf. Waar kry jy jou idees vandaan?

Jy begin mos maar gewoonlik jou storie bou om karakters, dis net baie makliker. Ek draf baie en ek stap, ek is baie lief vir die buitelug, en dan kom hulle net na jou toe. Dan werk jy maar daaraan tot jou karakters ontwikkel. Ek het al agtergekom dis baie makliker om te skryf wanneer jy jou twee hoofkarakters goed ontwikkel, en dan jou newekarakters goed ontwikkel, en dan kom vloei van daaraf.

Die idees is ook baie genade en groot seëninge, hoor! Partykeer het jy ’n droeë seisoen wanneer daar geen idees kom nie, maar dit kom gewoonlik.

Baseer jy jou karakters op mense wat jy ken?

Nie doelbewus nie, maar ek dink dis ’n natuurlike proses want jy het jou verwysingsraamwerk en die mense wat jy ken. My ma en my pa en my ouma het almal ’n baie goeie sin vir humor, ek kom uit ’n huis uit waar mense mekaar amuseer. So dis lekker vir my om mense dop te hou en te sien wat hulle doen, en in ’n restaurant sit ek baiekeer en luister na die mense om my… Hulle sê mos skrywers is afluisteraars en afloerders.

Jou nuutste boek gaan oor drie besondere sterk vrouens. Vertel my van jou karakters?

Ja, weet jy, ek dink die interaksie tussen die karakters en tussen die drie susters en vriendinne was nog altyd vir my ’n bron van vermaak. Ek het twee baie goeie universiteitsvriendinne gehad en jy dink aan die lekker goed wat julle saamgedoen het en die bakleiery wat julle gehad het, want julle word soos susters.

Die karakters het my letterlik kom pla. Ek dink op hierdie stadium van my lewe, ek’s nou 27, begin ek agter kom daar is veskillende fases in jou lewe en in verskillende fases ervaar jy dinge anders. Goed wat vir jou as jy 18 is so wonderlik lyk, soos ’n man en kinders, as jy daar is lyk dit ’n bietjie anders. So dit was vir my lekker om op dit sin te speel, en omdat dit drie sussies is in verskillende fases in hulle lewens, het dit nou lekker gewerk.

Wat was vir jou die lekkerste deel van hierdie boek?

Seker die interaksies tussen die sussies, maar wat vir my die lekkerste was om dit te skryf was dat ek drie baie goeie vriendinne gemaak het.

Dink jy jy sal weer ’n boek oor hulle skryf?

Ek weet nie, ek dink ek moet hulle begrawe saam met die boek, “don’t flog a dead horse”. So wie weet? Dalk is daar ’n opvolg, “Stiletto’s van staal 2″, ons sal kyk! Maar ek wil graag ’n skrywer wees wat op inspirasie gaan en nie noodwendig om die til te laat slaan nie. As ek ’n opvolg skryf sal dit wees omdat ek regtig ’n opvolg wil skryf.

Wat wil jy graag hê lesers moet wegneem uit jou boek?

My lesers is baie wyd, van kom ons sê 14 tot mense wat nie meer kan lees nie. En wat ek baie graag wil hê, en dan sal ek tevrede wees, is as elke groep lesers, mense in die ouetehuise, mense op skool, inspirasie kan put en veral kan ’n aanknopingspunt vind met ’n karakter of ’n situasie, as ’n tannie kan dink aan haar kleinkind of aan haarself toe sy jonk was en met hulle kan identifiseer. En dan natuurlik, dat dit ontspannend is en sekere boodskappee uitbring. Dit sal ’n groot bonus wees.

Wat is jou raad vir jong skrywers?

Doen dit net. Ek sê dit vir myself en vir ander skrywers ook, die groot ding is dit help nie die storie is net in jou kop nie en dis hierdie wonderlike ding nie. Jy moet hom ontwikkel, want ’n storie in jou kop is soos ’n plan vir ’n huis, die huis moet nog gebou word. Die groot ding is, as jy wil skryf, skryf.

* * * * * * * *

Facebook galery

Boekbesonderhede

 

Please register or log in to comment