Tolbos, die langverwagte derde boek in Irma Joubert se trilogie, verskyn binnekort
Tolbos, ‘n nuwe historiese roman deur Irma Joubert, verskyn vandeesmaand by Lapa:
Die tienjarige Katrien Neethling, kleindogter van Kate en Bernard uit Ver wink die Suiderkruis, hoor oor die radio die polisie skiet op betogende skoolkinders in Soweto. Gedurende dieselfde week in Pole word die vyftienjarige Wladek Kowalski, broerskind van Jakób Kowalski uit Tussen stasies, deel van ’n betoging teen Kommunisme.
Die gebeure vanaf Junie 1976 tot die einde van 1989, met die val van Apartheid in Suid-Afrika en die val van Kommunisme in Pole, vorm die politieke agtergrond van hierdie roman. Beide karakters raak betrokke by ondergrondse bedrywighede teen hulle onderskeie regerings en hulle name verskyn op die rekords van die veiligheidspolisie in albei lande.
Bekende aspekte uit die tagtigerjare gee verdere geur aan die verhaal: verpligte diensplig, die noodtoestand en perssensuur, die Vrye Weekblad, Afrikaner jongmense se opstand teen die gesag van die Nasionale Party, die Broederbond, die kerk, die literatuur van die daardie jare: Die swerfjare van Poppie Nongena, Kanna hy kô hystoe, ’n Droë wit seisoen; en veral die alternatiewe Afrikaanse musiekgroepe en die Voëlvry-konserttoer.
Bo en behalwe die musikante wat deelneem aan die Alternatiewe Afrikaanse Beweging, ontmoet die leser ook bekende karakters soos Helen Zille, ’n jong joernalis by die Rand Daily Mail, en die enigmatiese Max du Preez in die deurmekaar kantore van die Vrye Weekblad.
Irma Joubert skryf oor mense. Haar romans lees so lekker, want hulle word deur die karakters gedryf. Joubert se lesers sal dit dus nie vreemd vind dat Katrien en Wladek mekaar vind in hierdie omstuimige tye nie. Dit is onafwendbaar dat hierdie twee karakters aangetrokke tot mekaar sal wees, hoewel hulle uit twee wêrelde, twee taalgoepe en verskillende kulture en godsdienste kom. Die gedeelde passie is hulle vurige betrokkenheid by ’n rewolusie teen die bestaande orde. Die einde moet ’n triomf vir die mens se binneste wees, anders is dit nie ’n Irma Joubert-teks nie.
Die reeks
Tolbos is die derde boek in die trilogie wat bestaan uit Ver wink die Suiderkruis, die eerste boek, en Tussen stasies, die tweede boek. Ver wink die Suiderkruis en Tussen stasies is albei topverkopers. Albei is reeds in Nederlands vertaal. Tussen stasies word ook tans in Duits vertaal en HarperCollins gaan dit binnekort in Engels vertaal. Ver wink die Suiderkruis en Tussen stasies is ook voorgelees op RSG.
Joubert skryf regte mense se stories. Sy fokus op die verhoudings tussen geliefdes, gesinslede, familie, vriende, vreemdes, asook die mens in sy verhouding met die gemeenskap, die natuur en die tyd waarin hy leef. Die skrywer slaag daarin om ’n tydvak, wat tot dusver in die Afrikaanse letterkunde hoofsaaklik met wroeging gepaard gegaan het, se sjarme en nostalgie vas te vang vir ’n nuwe generasie lesers.
Die outeur
Irma Joubert is gebore en getoë in die Bosveld (Nylstroom) en het aan die Universiteit van Pretoria studeer. Sy het vir 35 jaar onderwys gegee (Afrikaans en Geskiedenis vir senior sekondêre leerders) voordat sy einde 2004 afgetree en begin skryf het. Sy het sedertdien as vryskut-joernalis verskeie artikels en kortverhale in tydskrifte gepubliseer, is in 2005 aangewys as Media24 se Spesialisjoernalis van die Jaar en was ’n Mondi-finalis.
Tans skryf sy historiese romans, want geskiedenis is haar passie. Haar bekendste boeke is Verbode drif, Ver wink die Suiderkruis, Tussen stasies en die trilogie Anderkant Pontenilo, Pérsomi en Kronkelpad wat by NB verskyn het.
In 2008 was Joubert ’n finalis in die ATKV-Woordveertjieprys vir Prosa met Tussen stasies, en in 2010 wen Anderkant Pontenilo die ATKV-Woordveertjieprys vir Liefdesromans. Sy was ook finalis in die ATKV-Woordveertjieprys vir Liefdesromans met Kronkelpad in 2012.
Sy is al drie-en-veertig jaar lank getroud met Jan en woon in Bloemfontein. Hulle het drie volwasse seuns, ’n skoondogter, ’n pleegdogter en drie kleinkinders. Irma se stokperdjies is lees en kook, veral buitelug kokerasies. Haar gunstelingvakansieplek is die boendoes: woestyn-boendoes, Transkei-boendoes, Bosveld-boendoes, eintlike enige Afrika-boendoes.
Boekbesonderhede
- Tolbos deur Irma Joubert
EAN: 9780799364033
Spoor hierdie boek met BOOK Finder op!
Please register or log in to comment