Sunday Times Books LIVE Community Sign up

Login to Sunday Times Books LIVE

Forgotten password?

Forgotten your password?

Enter your username or email address and we'll send you reset instructions

Sunday Times Books LIVE

LAPA Uitgewers

@ Sunday Times Books LIVE

Maggie Marx gesels met Eldridge Jason oor sy jeugboek Gerook

GerookEldridge Jason het pas gedebuteer met die jeugboek Gerook, waarin die hoofkarakter, Cobie, ‘n gevaarlike tik-nes teëkom tydens sy Desembervakansie op die Weskus-dorpie Vaalberg, wat op die oog af so stil en rustig gelyk het.

Maggie Marx van Books LIVE het ‘n paar vrae aan Jason gestel:

* * * * * * * * *

Gerook is jou debuut. Vertel ons bietjie meer van Elridge Jason?

Ek is gebore op Paternoster aan die Weskus, waar ek ná voltooing van my skoolloopbaan joernalistiek by die destydse Skiereiland Technikon (Pentech) gestudeer het. Ek werk vir die afgelope 7 jaar as ‘n senior verslaggewer by ‘n Kaapse dagblad en hou my maar met ‘n bietjie van als besig. Ek is getroud met Winifred en ons bly met ons driejarige seuntjie in Kuilsrivier. Verder kap ons maar aan soos wat die lewe move: lief vir ons rustigheid, lief vir uiteet en baie lief om van tyd tot tyd net in die kar te spring en ‘n plattelandse dorpie, waar ons nog nie voorheen was nie, te gaan verken.

Waarom het jy besluit om Gerook te skryf?

Gerook was ‘n gedagte wat lank in my kop rondgedwaal het. Ek was self jare lank in die dwelmlyne en nie skaam om dit te sê. Die trots lê natuurlik in die wete dat ek nou al vyf jaar lank skoon is. Maar ná ek na soberheid teruggekeer het, het ek gedink, ek sit met al die wonderlike én horrific dinge wat ek deurgemaak en aanskou het. En só baie jongmense val in die dwelmstrik en weet nie hoe om daar uit te kom nie. So ek wou ‘n anderse verhaal skryf, iets wat ver van ‘n preek af is en waar ek veral deur middel van storytelling jong mense kan wys hoe dinge verkeerd kan loop as jy met die dwelmduiwel swaarde kruis.

Wie is die ideale leser vir Gerook?

Die boek is gemik op tieners vanaf die ouderdom van 13 jaar. Maar ek sou dit ook aanbeveel vir veral ouers sodat hulle ‘n blik kan hê op die weë van die dwelmwêreld en waarmee kinders wat met drugs eksperimenteer hul eintlik besig hou. So sonder om op hul kinders te spioeneer, kan hulle Gerook lees!

In Gerook het jou hoofkarakter Cobie op ‘n jong ouderdom reeds tik gebruik, en rook en drink hy ook. Het jy doelbewus sy karakter so geskep om vandag se werklikheid oor te dra?

Dit is skrikwekkend om deesdae te aanskou van watter jong ouderdom af kinders met dwelms begin eksperimenteer. Baie vrae sal natuurlik by ‘n mens opkom, soos waar súlke kinders se ouers dan is. Maar die realiteit is dat die verwoestende impak van dwelms veral sy stink voelers na die platteland uitsteek en jongmense se lewens daar verwoes. Vir my is Cobie die perfekte uitbeelding van gans te veel jeugdiges wat in vandag se tyd op dieselfde wyse in ‘n dwelmstrik beland.

Wat is die eindelike boodskap wat jy in Gerook aan lesers wil oordra? As daar een is?

Vir my is daar baie onderliggende boodskappe: Ons is nie ons ouers nie en hoef nie dieselfde foute as hulle te begaan nie; dwelms vat jou net na een plek – oor die afgrond; mens maak nie foute in die lewe nie, maar leer net waardevolle lesse wat slegs foute raak as die lesse in hulle nie geleer word nie; en, seker die belangrikste vir my, is dat dit nooit te laat om uit die wurggreep van dwelms te kom nie.

Jy het jou stem met Gerook by ‘n nuwe neiging in Afrikaanse letterkunde gevoeg waar daar oor tik geskryf word. Waarom dink jy skryf jy, Adriaan van Dis en Abraham Phillips oor spesifiek hierdie dwelm se gebruik en gevolge?

Ek wil nie my eie dwelmkompetisie reël nie, maar as ek tik in ‘n wedloop met ander drugs moet inskryf, wen dit loshande. Die verwoestende impak lê in die feit dat dit so goedkoop is. Selfs arm kinders wat kom uit huishoudings waar geld veronderstel is om skaars te wees, kan dit bekostig. Die impak wat tikverslaafdes op hulself, familie en hul gemeenskap het, is sad verby. Jy sal nie glo hoeveel siek dinge vind in gemeenskappe plaas waar die blaam ten volle voor tik se deur gelê kan word nie. Baie families suffer in die stilte en mens kan net bly wees dat daar skrywers daar buite is wat probeer om dié dwelm te ontbloot vir die vuil uil drug wat hy is.

Beplan jy om nog boeke te skryf? Waarna kan jou aanhangers uitsien?

Ek is nog lank nie “uitgeskryf” nie en reeds besig met my tweede boek waar ek weereens sal poog om kwessies wat die jeug raak, aan te spreek. As als mooi volgens plan verloop, behoort hy vroeg volgende jaar klaar geskryf te wees.

Boekbesonderhede

 

Please register or log in to comment