Sunday Times Books LIVE Community Sign up

Login to Sunday Times Books LIVE

Forgotten password?

Forgotten your password?

Enter your username or email address and we'll send you reset instructions

Sunday Times Books LIVE

LAPA Uitgewers

@ Sunday Times Books LIVE

Lapa-Leeskringseminaar: SA misdaadfiksie-skrywers tree in gesprek met Vlaming Pieter Aspe

Pieter Aspe, Karin Brynard, Chanette Paul en Corlia Fourie

Die misdaadfiksiegenre kan teruggevoer word na Edgar Allan Poe se verhale in die 1800′s, of selfs na die verhale van die antieke Grieke, en dit volg nog al die jare dieselfde basiese resep. Tog kan misdaadfiksie steeds so verskillend wees soos die van Chanette Paul, Corlia Fourie en die Vlaming Pieter Aspe.

Karin Brynard, wat in 2010 die M-Netprys vir haar misdaadroman Plaasmoord ontvang het, het dié drie skrywers gister by Lapa-uitgewers se Leeskringseminaar onder meer uitgevra oor die verskillende karakters in hul boeke, sowel as die ruimtes waarin hul boeke afspeel. Laasgenoemde is veral interessant aangesien Suid-Afrika én België verteenwoordig is.

Die vierkant van die wraakDie midas moordeDryfhoutDie geheime kamer

Fourie se roman, Die geheime kamer, speel in die beperkte ruimte van ‘n spierwit kamer af. Dit is hier waar ‘n psigopaat die hoofkarakter, Sandra, toegesluit het. Fourie het gesê dat dit ‘n uitdaging was om die spanning te behou, gegewe die klein ruimte waarin die boek afspeel, maar Brynard het haar geloof vir die uitstekende manier waarop sy dit regkry.

Die kamer is wit omdat dit dui op maagdelikheid – iets waarmee die psigopaat, Gert Cloete, ‘n obsessie het. Dit gee ook sy koue, kliniese ingesteldheid weer, het Fourie verduidelik.

Dit was volgens haar aanvanklik moeilik om in dié wreedaardige karakter se kop te klim. “Ek is grootgemaak om ‘n goeie meisie te wees!” Uiteindelik het sy dit reggekry om sy selfgesentreerdheid en manipulering uit te beeld. “En toe het ek eintlik begin om dit ‘n bietjie te geniet!”

Die ruimte in Paul se sogenaamde Gys Niemand-spanningsreeks, waarvan die laaste boek (Dryfhout) onlangs verskyn het, is allermins beperkend, maar dit het wel baie verbeelding geverg, want dit speel in ‘n denkbeeldige dorpie af.

Die “Gys Niemand-reeks” word deur haar lesers só genoem, omdat die karakter van hierdie effens onbeholpe speurder in hul harte ingekruip het. “Gys Niemand het my boeke gekaap,” het Paul vertel, want sy het nie oorspronklik beplan om oor hom te skryf nie. Hy was veronderstel om net ‘n vae karakter in die eerste boek in die reeks, Springgety, te wees, aangesien daar ‘n misdaad plaasgevind het en ‘n polisiefiguur dus nodig was. Gys Niemand, met sy boep en sy liefde vir pasteie (wat hom sooibrand gee) het egter ‘n lewe van sy eie aangeneem.

Daniel Hugo en Pieter Aspe Valiant Swart

Iets soortgelyks het met die Vlaamse skrywer Pieter Aspe se karakter Pieter van In gebeur. Aspe het nooit gedink dat sy eerste Pieter van In-roman tot ‘n reeks sou lei nie, maar nou het daar al 29 boeke met Van In as hoofkarakter verskyn. Die eerste twee boeke in die reeks, Die vierkant van die wraak en Die Midasmoorde het nou ook in Afrikaans verskyn.

Aspe, wie se regte naam Pierre Aspeslag is, het vroeër die dag in ‘n gesprek met sy vertaler, Daniel Hugo, gesê dat hy op 40-jarige ouderdom, na ‘n string onvervullende beroepe, insluitende die van opsigter by ‘n kerk, besluit het om sy droom te volg om te skryf. Hy het die karakter Pieter van In in die eerste boek ‘n bietjie op homself geskoei, maar hy deel beslis nie Van In se drankprobleem nie! Deesdae skryf Aspe twee boeke per jaar en ‘n klomp van sy boeke is al vir die televisie verwerk. In ‘n tyd wat dit moeilik is om ‘n bestaan uit ‘n skryfloopbaan te maak, is Aspe uiters suksesvol.

In die gesprek met Brynard het Brugge, die Belgiese stad waarin Aspe se boeke afspeel, ter sprake gekom. “Die stad en die geboue word byna soos nog ‘n karakter in my boeke,” het Aspe gesê. “Die feit dat Brugge so ‘n stil plekkie is, terwyl daar misdaad en moorde in my boeke voorkom, dra by tot die spanning.” Al die plekke wat in Aspe se boeke genoem word, is werklike, herkenbare plekke in Brugge, wat ‘n mens kan besoek. Daar bestaan trouens ‘n “Pieter Aspe-wandeling”, wat by die plekke in sy romans aandoen.

Miskien verskyn Suid-Afrika egter as ‘n ruimte in Aspe se volgende boek, want hy het gesê die besoek aan ons land het hom beslis geïnspireer!

Al die skrywers

Die ruimte waarin die Leeskringseminaar plaasgevind het, by Bloemendal-restaurant in Durbanville, het waarskynlik menige gas geïnspireer – en so ook die lewendige besprekings en musiek van Valiant Swart waarna hulle by die seminaar geluister het. Buiten die misdaadfiksie-paneelbespreking en Daniel Hugo se gesprek met Pieter Aspe, was daar ook ‘n bespreking deur Madri Victor oor Fransi Philips se roman Net ‘n lewe, wat Lapa se romankompetisie gewen het. Riette Rust het ook met die naaswenner in die romankompetisie, Marinda van Zyl, oor haar roman Wilhelmina Radebe kom tuis gesels. Hou Lapa se blog op Books LIVE dop vir ‘n berig oor laasgenoemde.

* * * * * * * *

Carolyn Meads het regstreeks vanaf Lapa se Leeskringseminaar met #livebooks getwiet. Lees ‘n paar:


Ek is by @LAPAUitgewers se Leeskringseminaar by Bloemendal restaurant in Durbanville #livebooksTue Oct 25 06:48:34 via Twitter for iPad


Eerste op die program is die Vlaamse skrywer Pieter Aspe in gesprek met sy vertaler Daniel Hugo #livebooksTue Oct 25 07:13:05 via Twitter for iPad


Pieter Aspe noem dat hy op ‘n stadium SA wyn (KWV) verkoop het om aan die lewe te bly #livebooksTue Oct 25 07:19:36 via Twitter for iPad


Aspe skryf 2 boeke per jaar. Van sy boeke is ook reeds vir TV verfilm. Hy kan dus ‘n goeie lewe as ‘n skrywer maak #livebooksTue Oct 25 07:28:46 via Twitter for iPad


Aspe lees voor uit De midasmoorden en Daniel Hugo lees die Afr vertaling uit Die Midasmoorde ( @LAPAUitgewers ) #livebooksTue Oct 25 07:42:15 via Twitter for iPad


Aspe skroom nie om politiek in Brugge aan te spreek. ‘As die politici slim is swyg hulle, want anders gee net meer publisiteit’ #livebooksTue Oct 25 07:46:56 via Twitter for iPad


Dit is nou tyd vir die paneelbespreking oor misdaadfiksie en spanningsromans by @LAPAUitgewers se Leeskringseminaar #livebooksTue Oct 25 09:36:36 via Twitter for iPad


@karinbrynard tree in gesprek met Pieter Aspe, @Chanettie ( Chanette Paul ), en Corlia Fourie #livebooksTue Oct 25 09:38:21 via Twitter for iPad


@Chanettie sê mense hou van spanningverhale omdat jy kan bang wees, sonder dat daar regte gevaar is. Adrenalien! #livebooksTue Oct 25 09:50:46 via Twitter for iPad


@Chanettie: Jy kan ook dit in die wereld wat verkeerd is, reg skryf in spanningverhale #livebooksTue Oct 25 09:52:17 via Twitter for iPad


Aspe sê sy lewe is redelik vervelig. Dit is lekker om ‘n bietjie opwinding in ‘n spanningsverhaal te vind #livebooksTue Oct 25 09:53:19 via Twitter for iPad


Aspe stem ook saam dat die wêreld eintlik onregverdig is, en dat spanningverhale vir ‘n wyle ‘n regstelling kan bied #livebooksTue Oct 25 09:54:31 via Twitter for iPad


Fourie konsentreer nie maklik, dus gekies om ‘n spanningsverhaal te skryf – iets wat sy nie gedink het sy kan nie – om te boei #livebooksTue Oct 25 09:57:35 via Twitter for iPad


@Chanettie: Spanning lê nie vir my by lyk in ‘n plas bloed nie. Dit lê by leser se bekommernis dat hoofkarakter niks moet oorkom #livebooksTue Oct 25 10:03:53 via Twitter for iPad


Aspe het voorheen navorsing gedoen oor hoe polisie in België werk. Hoef nie elke keer weer te doen. ‘As 1 keer weet, weet altyd’ #livebooksTue Oct 25 10:16:04 via Twitter for iPad


@karinbrynard wys daarop dat daar te veel veranderinge in die SA polisie is vir Aspe se benadering tot navorsing om hier te werk #livebooksTue Oct 25 10:19:09 via Twitter for iPad


@Chanettie: Die spanningsverhaalleser is slim,hulle ken patrone in misdaadfiksie. Dit raak al hoe moeiliker om spannend te skryf #livebooksTue Oct 25 10:27:00 via Twitter for iPad


@Chanettie: Ek glo in ‘flair play’. Moet probeer wegsteek wat jy kan, maar ook leidrade gee. Die leser wil saamdink #livebooksTue Oct 25 10:28:34 via Twitter for iPad


@Chanettie: Moet ook nie dit sommer weggee nie, dan stel jy die leser ook teleur #livebooksTue Oct 25 10:30:25 via Twitter for iPad


Valiant Swart verskaf nou musiek by @LAPAUitgewers se Leeskringseminaar. #livebooksTue Oct 25 10:51:08 via Twitter for iPad

* * * * * * * *

Facebook galery

Lapa se LeeskringseminaarLapa se Leeskringseminaar

Boekbesonderhede

 

Please register or log in to comment