Sunday Times Books LIVE Community Sign up

Login to Sunday Times Books LIVE

Forgotten password?

Forgotten your password?

Enter your username or email address and we'll send you reset instructions

Sunday Times Books LIVE

LAPA Uitgewers

@ Sunday Times Books LIVE

Chanette Paul se Gys Niemand-reeks heruitgegee, en laaste boek, Dryfhout, uiteindelik hier!

DryfhoutDie langverwagte laaste boek in Chanette Paul se gewilde Gys Niemand-reeks, getiteld Dryfhout, word uiteindelik hierdie maand vrygestel. Ter viering van dié groot gebeurtenis is nuwe uitgawes van die eerste drie boeke in die reeks, met splinternuwe omslagontwerpe, ook deur Lapa uitgegee:

Oor die boek
Wie is Aengel Rousseau? En wie was die voormoeder by wie Aengel dagboeke, ‘n skulp, ‘n seewatersteen en ‘n verbod om haar hare te sny, geërf het? Dis die vrae wat Aengel Kierangbaai toe lok. Want dis waar Angelique d’Avignon amper twee eeue gelede haar spore gelaat het en legendes van die visvrou ruig loop. Geleidelik maar Aengel sin van die legendes oor Annie en die vloek wat sy oor die Niemands uitgespreek het. Die vier moorde wat op Kierangbaai gepleeg word, kan Aengel egter nie kleinkry nie. Ook nie haar gevoelens vir Roark of hoekom iemand dink sy kan Annie se vloek ophef nie. Gys en Fortuintjie moet weer hul speurvernuf inspan en dit ry Gys se poging om vir oulaas Gertjie se hart te wen, sleg in die wiele.

Oor die outeur

Chanette Paul is in Johannesburg gebore, maar het nomadies grootgeword – onder meer nege skole bygewoon en aan vyf universiteite studeer. Sy woon tans op Stanford in haar skewe pophuis op die oewer van die Kleinerivier saam met haar wit, Persiese kat, Vasti. Haar lewe draai die afgelope tien jaar om stories. As sy nie haar eie skryf nie, help sy ander skrywers om hulle s’n te ontwikkel. Sy is dol op lees, het ’n passie vir musiek, swem, skubaduik en snorkel. Chanette hoop om eendag haar roeivermoëns te verbeter wanneer haar spaarrekening genoeg vir ’n kajak oplewer.

Nuwe baadjies vir die res van die reeks

Springgety

SpringgetyToe Lily Reynecke Maja se voetspore Kruisbaai toe volg in die hoop om haar lewe weer aanmekaargelym te kry, weet sy nie dis ‘n plek waar die dood tasbaar na siele vra en die geskiedenis hom herhaal nie. Kort na haar aankoms eis Springklip, die hoë krans waar reeds vier kruise staan, nog ‘n lewe. Nog iemand wat gespring het. Of gestamp is. Dalk deur Lily self in een van haar vergeettye. Dalk groot, beneukte Ben? Of beskerm Ben vir Kassie, sy verstandelik gestremde broer? En wat is dit aan Kruisbaai dat dese en gene hulle so verlustig in ongeoorloofde vleeslikheid? Die visvrou, Annie Niemand, se postume wraak? Gerbrand Niemand se werkinge uit die hel? Of net die eensaamheid van ‘n afgesonderde plekkie waar die maan en wind massas water hierdie kant toe stoot en dan weer daardie kant toe sleep?

Fortuin

FortuinIs Eva van Eden ’n heks of ’n engel, Paradyskloof die voorpoorte van die hemel of ’n onheilsnes? Dit moet joernalis, Xanthe Tredoux, gaan uitvind in opdrag van Tuisfront se redakteur. Selfs voordat sy na die afgesonderde landgoed in die berge vlieg, loop dinge skeef. In Niemandsdorp ontmoet sy Math Stone en word die volgende oggend in sy bed wakker … Dis eers toe Xanthe in Paradyskloof aankom dat sy besef sy het hier met ’n heel ander werklikheid te doen. Die hele opset met sy meer, kasteelagtige herehuis, tematuine en labirint is surreëel. Die mense wat sy ontmoet, is net so vreemd as die omgewing. Die grootste skok is egter dat Eva van Eden, die vrou wat sy as bedrieër moet ontmasker, allermins so lyk. Xanthe wil graag glo dat Eva opreg is, maar dis moeilik – veral wanneer een van die gaste dood aangetref word in die Heilige Tuin. Later wil dit lyk asof Xanthe ook in die visier is van die een wat die dood se septer op Paradyskloof swaai.

Boheem

BoheemOm vrygespreek te word op aanklag van moord, beteken nie dieselfde as om onskuldig bevind te word nie. En onskuld word nie maklik bewys nie. Veral nie ʼn tweede maal nie. Drie jaar na die moord op haar man, wen Kayla Cilliers ʼn skryfkompetisie en gaan na die kunstenaarskolonie, Bohemia, om haar manuskrip onder leiding van die wêreldbekende skrywer, Rose-Anne Lockwood, af te rond. Kort na haar aankoms, kom Kayla op ʼn lyk af en dis nie net Mitch Lockwood wat wil sorg dat sy dié keer nie skotvry kom nie. Boheem is die derde boek in die reeks wat met Springgety afgeskop het en in Fortuin verder gevoer is. Gys Niemand moet weer sy speurvernuf inspan – al is dit uit ’n heel ander hoek as die speurders wat Kayla wil vastrek.

Boekbesonderhede

Foto te danke aan Chanette Paul se blog

 

Please register or log in to comment