Sunday Times Books LIVE Community Sign up

Login to Sunday Times Books LIVE

Forgotten password?

Forgotten your password?

Enter your username or email address and we'll send you reset instructions

Sunday Times Books LIVE

LAPA Uitgewers

@ Sunday Times Books LIVE

Die versmorende effek van die huishoudelike alledaagse is die hoofbron van konflik in Elsa Hamersma se domestic noir roman, Die Mense Langsaan

Die Mense LangsaanChristine wil van Frikkie, haar man, ontslae raak. Moord maak meer sin as egskeiding, veral nadat hy baie geld op die Lotto wen wat hy nie met haar deel nie, maar dan trek daar ’n geskeide man met ’n volwasse dogter langs haar in. Wanneer Frikkie op ’n onverklaarbare wyse by die trap in die huis afval, is die speurders en Christine suspisieus oor haar nuwe buurman. Christine, nou die ryk weduwee, trou gou weer en trek saam met haar nuwe man na ’n veiligheidslandgoed.

’n Eertydse kollega van Christine, Zebith, is haar nuwe buurvrou. Mettertyd kom Christine agter dat die huis waarin sy en haar nuwe man bly, ’n bloedige geskiedenis het. Zebith ken die geskiedenis en was betrokke by die inwoners. Sy ly aan postraumatiese stres en wroeg omdat sy skuldig voel oor wat in die huis langs hare gebeur het. Saam met die skuldgevoel moet sy ook die pyn van haar gebroke hart hanteer.

Die twee buurvroue het albei die mans saam met wie hulle gewoon het, verloor en albei het skouers geskuur met gewelddadige dood. Daar kan tog nie nog onvoorsiene tragedies vir hulle voorlê nie?

*

Domestic noir: Elders het boeke soos The girl on the train, wat as domestic noir bekendstaan, opslae gemaak. Hamersma val ook in die kategorie. Die versmorende effek van die huishoudelike alledaagse is die hoofbron van konflik. Hamersma se boek het egter ’n unieke storie, reg vir die Suid-Afrikaanse mark.

Chanette Paul, LAPA Uitgewers se manuskripontwikkelaar, sê: “Dis altyd verblydend wanneer skrywers nuwe genres in Afrikaans aanpak. Die noir-genres, en spesifiek domestic noir, is deesdae baie gewild. Ek is dus bly Elsa het hierdie tendens op die proef gestel.”

Jeanette Ferreira, teksredakteur, sê: “Dit is die beste van Elsa se romans wat ek ooit gelees het. Die bisarheid, die droefheid, die sameloop van omstandighede het my so geboei dat ek nie die teks wou neersit nie. Well done!”

Boekbesonderhede

Bellissimo! Jaco Jacobs doen dit in Italiaans!

LAPA Uitgewers is trots om aan te kondig dat vertaalregte vir Jaco Jacobs se bekroonde jeugroman ’n Goeie dag vir boomklim pas deur nog ’n groot internasionale uitgewery opgeraap is.

Die Italiaanse uitgewery Rizzoli het suksesvol teen ’n mededingende uitgewershuis gebie om die Italiaanse vertaalregte vir Jaco se boek te bekom.

Rizzoli is een van die grootste uitgewerye in Italië en wêreldbekende skrywers soos John Green (The Fault in Our Stars), Cressida Cowell (How to Train Your Dragon) en Michael Morpurgo (War Horse) se boeke word deur hulle in Italiaans uitgegee.

“Ek is steeds ietwat verstom,” sê Jaco, “en natuurlik baie dankbaar. Dit is ’n ongelooflike voorreg om te sien hoe Marnus en Leila, die twee hoofkarakters in my storie, die kans kry om nou regoor die wêreld te gaan boomklim!”

’n Goeie dag vir boomklim is die verhaal van Marnus, ’n gefrustreerde middelkind, wat hom een Desembervakansie laat ompraat om saam met ’n meisie in ’n boom te klim om te probeer keer dat die plaaslike owerheid dit afsaag.

’n Londense uitgewery, Oneworld Publications, het ’n Goeie dag vir boomklim verlede maand wêreldwyd in Engels gepubliseer. Die boek is tans ook in Suid-Afrika te koop as A Good Day for Climbing Trees.

In Oktober verskyn nog een van Jaco se boeke, Oor ’n motorfiets, ’n zombiefliek en lang getalle wat deur elf gedeel kan word, oorsee as A Good Night for Shooting Zombies.

’n Goeie dag vir boomklim was in 2016 die wenner van die kykNET/Rapport-prys se filmkategorie. Filmregte vir die boek is sedertdien aan M-Net toegeken.

Boekbesonderhede

Dié tienerboek oor skape, die stil agterpaaie van die Karoo en selfontdekking uit die pen van Jaco Jacobs sal jou anders laat kyk na die lewe, of jy nou 11 of 111 is

Hier is iets wat Luan van skape geleer het: Glo my, as jy op die ingewing van die oomblik ’n skaap by ’n kerkbasaar steel, sal jou lewe nooit weer dieselfde wees nie…

As straf moet Luan op ’n road trip gaan saam met sy eksentrieke fotograaf-ouma wat ’n fotoboek oor windpompe wil publiseer. Straf? Ja, maar jy wil nie weet nie.

Op pad deur die Karoo ontmoet hy vir Lana, wie se pa al die pad van Bloemfontein na Kaapstad met sy fiets ry om geld vir kankernavorsing in te samel. Lana eet nie vleis nie en sy mal is oor boeke. Lana is ook mal oor Luan. So, sonder dat sy dit weet, oortuig Lana vir Luan om ’n skaap te bevry van die kerkbasaar se veiling. Dis net, wel, hy betaal nie vir die skaap nie.

Dinge ruk hand uit: Die skaap raak bekend, die polisie kry snuf in die neus en… Lees maar self wat als op die Karoo se stil agterpaaie kan gebeur.

Danksy al dié drama, leer ken Luan vir die eerste keer sy ouma – daardie hardekwas-predikantsvrou wat al jare lank ’n baie diep geheim saam met haar ronddra.

Hy leer oor ook vir Lana beter ken. Sommer BAIE beter. Maar die belangrikste van als: Hy leer homself ken. Kort voor lank verander ’n vervelige rit deur die Karoo in ’n onvergeetlike avontuur.

Dié tienerboek uit die pen van Jaco Jacobs sal jou anders laat kyk na die lewe, of jy nou elf of 111 is.

Word dadelik deel van Depro Skaap se lewe! https://www.facebook.com/DeproSkaap

Sy is ook op Instagram: @deproskaap

Boekbesonderhede

Jojo Richter is terug. En hierdie keer het sy moontlik met buiteruimtelikewesens te doene…

… _ _ _ …
Suider-Afrikaanse VVV-bulletin
Soek op Google om meer besonderhede oor elke gebeurtenis te kry

 
1956: ’n Reeks foto’s van VVV’s deur Elizabeth Klarer. Klarer beweer sy het ’n kind gehad by ’n buiteruimtelikewese genaamd Akon. Omgang en geboorte het op ’n planeet naby Alpha Century plaasgevind. Foto’s blykbaar vernietig, die Suid-Afrikaanse regering weier om kommentaar te lewer.

1974: Peter en Frances MacNorman ontvoer naby Beitbrug, oortreders nie menslik nie. Geen optrede van die Suid-Afrikaanse of Rhodesiese regerings nie.

1979: ’n Krugersdorp-ma en haar seun word genooi deur vreemde wesens om na ’n nuwe planeet te vlieg. Geen kommentaar van owerhede nie.

1982: Suid-Afrikaanse troepe op die Mosambiekse grens skiet op ’n inkomende tuig, want hulle dink dit is ’n MiG. Die tuig stort neer, is totaal onbekend. Insittendes dood, liggame is nie menslik nie. Lyke gevlieg na Ysterplaat in Kaapstad voordat die CIA hulle na die VSA neem. Sommige offisiere verbreek die stilswye, maar word nie deur hul seniors ondersteun nie.

1989: Suid-Afrikaanse Lugmag-vlieëniers skiet ’n vreemde tuig af. Dit val in Botswana. Insittendes lewendig in hegtenis geneem; blyk nie menslik te wees nie. Botswana-regering reik geen verklaring uit nie.

1995: SANW se spesiale magte gevlieg na die toneel in Lesotho waar ’n tuig neergestort het. Drie insittendes word lewendig in hegtenis geneem; ooggetuies beweer hulle was nie menslik nie. Lesotho-regering maak geen kommentaar bekend nie.

2005: Verskeie koerante en sosialemediabladsye publiseer foto’s, video’s en ooggetuieverslae van groen flitse in die atmosfeer rondom Kaapstad. Die SA regering bly stil.

2018: Chanette Paul publiseer Uit die bloute, ’n omvattende stuk navorsing deur die navorser Jojo Richter oor ontvoerings, moorde en vreemde, mensagtige wesens in die Akkedisberge naby Hermanus. Tot dusver het die Suid-Afrikaanse regering nie ’n woord gesê nie.

PERSVRYSTELLING: Jojo Richter is terug.
Deur Izak de Vries van LAPA: kolkolkol streepstreepstreep kolkolkol

Jojo Richter, die heldin van Siende blind, Raaiselspieël, Ewebeeld en Paaiboelie is terug.

Vrae gevra deur Jojo: Wat maak die groep vroue in die Akkedisberge wat wag vir moederskip vanaf die Pleiade-sterrestelsel? Is hulle stapelgek, of steek daar iets in hulle bewerings dat die regering die feite oor kontak met ruimtewesens verdoesel?

Daardie regter wat deur ’n boogskutter op rolskaatse vermoor is: Hoekom lyk die moordenaar soos iemand uit die buitenste ruimte?

Is die vroue van die VVV-groep vredeliewende vegetariërs, of koelbloedige moordenaars? Hoekom word Jojo word deur ’n hommeltuig dopgehou?

Uit die bloute is by toonaangewende handelaars asook direk by LAPA Uitgewers beskikbaar.

JOJO is tans om veiligheidsredes nie vir onderhoude beskikbaar nie.
 

Boekbesonderhede

Afgryslik! Jig! Die Slymboek het meer as 30 glibberige, glyerige, grillerige, kleurvolle resepte wat die jongklomp wys hoe om slym te maak!

Afgryslik! Jig! Meer as 30 glibberige, glyerige, grillerige, kleurvolle resepte wat die jongklomp wys hoe om slym te maak!

Rek, trek, druk en speel met hierdie fantastiese, eenvoudige resepte wat van goedkoop, bekombare, veilige en alledaagse produkte gebruik maak.

Maak jou eie Monsterslym met oë binne-in, koes vir die uitbarsting van Vulkaanslym, en lek jou lippe af vir heerlike, eetbare Sjokoladeslym!

Al die projekte word met behulp van duidelike stap-vir-stap-foto’s verduidelik. Vind ook in die feitekassies meer uit oor die wetenskap agter jou slymerige skeppings, en eksperimenteer met verskillende variasies van die resepte.

So, waarvoor wag jy – begin maak jou eie slym!

Boekbesonderhede

Jaco Jacobs wen Tienie Holloway-medalje vir Kleuterliteratuur

Jaco Jacobs doen dit weer!

Die Akademie vir Wetenskap en Kuns het op 13 April 2018 aangekondig dat Jaco Jacobs bekroon gaan word met die Tienie Holloway-medalje vir Kleuterliteratuur vir sy boek Grom.

Die Tienie Holloway-Medalje vir Kleuterliteratuur word driejaarliks toegeken aan die skrywer wat die beste werk in Afrikaans gelewer het in die genre van kleuterliteratuur. Die boek is deur Karen Lilje geïllustreer.

Die ATKV het ’n deel van die prysgeld geskenk, maar was nie betrokke by die toeken van die prys nie.

Grom handel oor Emma, ’n dogtertjie wat nie hou daarvan om op te staan nie. Sy grom vir haar ouers wanneer hulle haar wil wakker maak. Toe, een oggend, toe sy in die spieël kyk… het sy snorbaarde en kolle oral oor haar lyf!

Beide Jaco Jacobs en Karen Lilje is in 2017 vereer met ’n ATKV-Woordveertjie vir Grom. Dié prys is deur kinderlesers aan hulle toegeken. Jaco het die ontvangs daarvan gesê dat sy eie dogtertjie se oggendgromme hom geïnspireer het om die boek te skryf.

Boekbesonderhede

Liefhebbers van spanningsverhale – hiérdie erg klaustrofobiese riller is ’n moet-lees!

Reine Duvenage word geteister. Die sluipjagter speel met haar, maak haar bang en geniet haar vrees. Sy soek hulp, maar ander lag vir haar.

Uiteindelik word sy wreed aangeval. Nou lag niemand meer nie, veral nie toe dit blyk dat die wreedaard moontlik steeds aktief is nie.

Hoe leef ’n vrou met die wete dat daar ’n man rondsluip wat beloof het om haar leed aan te doen? Hoe begin ’n mens oor?

Onder ’n vals naam probeer Reine weer, maar haar poging om anoniem te bly, word bemoeilik toe ’n aantal mans uit haar verlede onverwags in die dorp opdaag waar sy skool hou. Hoekom nou? Is daar ’n rede voor?

Toe die tekens van die sluiper se nabyheid weer al hoe duideliker word, moet Pieter Taljaard, die speurder, alles doen om dié keer nie die te fouteer nie, want almal weet dat Reine nie ’n tweede keer sal kan ontsnap nie.

Watter een van hierdie mans was dit wat haar laas aangeval het? Of staar sy al weer haar vrees in die gesig en nie die werklikheid nie?
 

Hierdie keer lag niemand vir haar nie, maar hoe kan sy beskerm word teen ’n gesiglose persoon wat aan niemand bekend is nie?

Kan Taljaard, ’n gewone, feilbare mens, die regte inligting kry uit die polisie se ewe feilbare stelsels?

Bets Smith skep opsetlik gewone mense. Ja, Reine is mooi, maar sy is ’n plaasmeisie soos baie ander wat deelneem aan kompetisies op universiteit. Die res van die karakters is mans en vroue wat ons ken, juis daarom is hierdie boek soveel meer kloustrofobies. Dit kan met enige een gebeur. Smith het dalk té lank in ander se skaduwees beweeg, maar stil-stil het sy reeds meer as 100 000 Afrikaanse boeke verkoop. Hierdie boek wys dat sy met groot honde kan draf.

Bets is getroud met Pieter Smith en hulle bly in Witrivier, daarom is die laeveld van Mpumalanga so ’n belangrike ruimte is in haar boeke.

Boekbesonderhede

My Eerste Woordeboek: Afrikaans, Engels, Noord-Sotho, Zoeloe is ’n moet-hê-boek vir elke gesin se boekrak!


Dit is ’n vrolike, prettige eerste woordeboek vol kleurryke illustrasies. Kinders sal hope pret hê en basiese woordeskat in vier van Suid-Afrika se amptelike tale aanleer terwyl hulle hierdie boek speel-speel verken. Maklike woord-prent-assosiasies word in Afrikaans, Engels, Noord-Sotho en Zoeloe volgens verskillende temas gerangskik.

Van die temas sluit in: klere, kos, tuin, teenoorgesteldes, voëls, diere, skool, my liggaam en my familie.

Dit is ’n moet-hê-boek vir elke gesin se boekrak!

Hierdie teks volg op Maja se eerste samestelling, My eerste woordeboek: Afrikaans, Engels, Xhosa, Zoeloe. Dié teks is onlangs herdruk en is ook weer in die handel beskikbaar.

Maja Sereda is oorspronklik van Pole, maar het in 1989 na Suid-Afrika verhuis. Haar liefde vir die Suid-Afrikaanse tale het gemaak dat sy die twee woordeboeke saamgestel het vir japsnoete. Maja illustreer sedert 2007 kinderboeke en het reeds verskeie toekennings vir haar illustrasies ontvang. Haar werk is ook al in Frankryk uitgegee. Sy het ’n B.A.-graad in Inligtingsontwerp. Sy woon deesdae in Seattle, VSA, saam met haar gesin, maar behou kontak met Suid-Afrika. Maja hou daarvan om tyd in die natuur deur te bring en staproetes te verken. Haar ander passies is fotografie, heerlike kos, die aanleer van nuwe tale, poësie en keramiek.

Boekbesonderhede

Kristel Loots se Blom in die hare is ’n donker roman wat siniese vrae vra oor die samelewing se borrelgomidees van die liefde en die huwelik

Blom in die hare is ’n donker kragtoer.

Kaila is g’n Salomo nie, waarom moet sy nou keuses maak soos hy?

Die leser loop die pad met Kaila vanaf haar hoërskooljare tot Kaila se seun in die hoërskool is. Daar is mooi én bitter oomblikke op haar pad. Telkens is daar keuses wat opduik in die roman, maar uiteindelik, is daar een wat haar die seerste maak: Haar seun se meisie is swanger. Wie se kant moet sy kies? Die jong man met die pyn in sy oë, of die ongebore baba? Die ma van die ongebore baba is boonop die dogter van hóm wat sy heimlik gehoop het vir háár ’n bietjie plesier sou kon bied.

Kaila ken van verwerping. Sy is agterlaat deur ’n vreemde vrou en toe aangeneem deur ’n ewe wêreldvreemde vrou wat toe ook sommer eendag verdwyn het. Haar eerste liefde was haar Wiskunde-onnie, wat ook oornag verdwyn. Blom in die hare is ’n donker roman, een wat siniese vrae vra oor die samelewing se borrelgomidees van die liefde en die huwelik.

Tog: Die boek bied hoop. Die laaste bladsy in hierdie boek is ’n hoogtepunt, dit bring alles bymekaar en bring ’n enorme verligting aan die leser.

Loots krap op plekke waar ander nie wil nie. Juis daarom is daardie laaste bladsy so belangrik! Regdeur die boek is daar pragtige oomblikke, maar die liefde kan ook seermaak, dit word nooit ontken nie.

Kaila weet, o sy weet, ’n mens het meer nodig as ’n blom in jou hare om gelukkig te wees. Maar wat doen jy as jou aanneemma jou geleer het dat ’n blom jou enigste verweer teen die wêreld is?
Saam met Kaila leer die leser ook die bittersoet geheim van die blomme ken.

Blom in die hare is Kristel Loots op haar beste. Sy beskryf die leefwêreld van gewone vroue van verskillende ouderdomme en verskillende figure. Loots skryf met ontsettende patos, maar weet ook hoe om deurgaans humor te gebruik. Jy lag, jy lag, dan pink jy ’n traan saam met die karakters.

Hierdie doyenne van Afrikaanse vrouefiksie het al weggestap met ’n ATKV-Woordveertjie vir Liefdesromans, en met baie lesers se goedkeuring.

Boekbesonderhede

Die Vyfde Aspoester delf in die lewenslange invloed wat geweld (in al sy vorms) op die psige van ’n mens kan hê

Dié boek gaan jou in die maag skop.

Die vyfde Aspoester begin met ’n donkerkopmeisie wie se liggaam in ’n agteraf hotel in ’n Aspoester-uniform gevind word. Haar linkervoet se tone is afgesny sodat die voet in die glasskoen kon pas. Haar oë is netjies verwyder. Daarna is haar nekaar gekloof sodat sy kon doodbloei.

“Hoe sal jy voel as ek dieselfde met jóú dogter doen? Haar naam is mos Franci?” Dit is wat die elektronies vermomde stem vir doktor Olaf Demeyer, forensiese profileerder, vra terwyl hy die dossierfoto’s van die moordtoneel bestudeer.

“Hoekom sou jy dieselfde met my dogter wou doen?”

’n Koggellaggie klink op. “Dit is wat jy moet uitvind, Doktor. Kom ons kyk of jy werklik so baie vir verontregde vroue omgee soos wat die media beweer. En kom ons kyk of jy my betyds met jou agtste sintuig kan uitoorlê.”

Die lyke van nog drie meisies word binne ’n paar dae gevind. Olaf besef hy sal baie diep in sy eie donker profiel moet delf na die waarheid as hy wil verhoed dat sy enigste dogter die vyfde slagoffer van die Aspoestermoordenaar word.

Herinneringe aan sy traumatiese kinderjare, sy oordrewe skuldgevoelens en sy fobie vir lemme, maak nie sy taak vir hom ligter nie. Intussen voel hy hoe die uurglas baie vinnig vir Franci leeg loop.

Wat maak die boek anders? Die Vyfde Aspoester delf in die lewenslange invloed wat gesinsgeweld, asook geweld in die algemeen, op die psige van ’n mens kan hê. Dit ondersoek ook die invloed wat geweld teen vroue en kinders op die samelewing het. Kwessies soos pedofilie, geestesversteuring en seksverslawing word aangespreek teen die agtergrond van ’n reeks bisarre misdade waarin jong meisies grusaam vermink word voordat hulle sterf.

Jan Vermeulen publiseer sy eerste kortverhaal, Die Sneeuprins van Alaska, toe hy net veertien jaar oud is in 1976 in die destydse jeugtydskrif Patrys. Sy debuutroman van 1998, Die Laaste Dans, is ’n grensoorlogroman en haal die kortlys van die Eugene Marais-prys. Intussen rig hy ook stringe pryse in vir sy uitstekende jeugromans.

Boekbesonderhede